Deur: Willem Badenhorst

Daar is onlangs aan 3 000 mense gevra: “Wat het jy om voor te lewe?” Die skokkende ontdekking was dat 94% eenvoudig die teenswoordige verdra terwyl hulle op die toekoms wag … wag vir iets om te gebeur, wag vir die nuwe jaar, wag vir ’n beter tyd om aan te breek, wag vir môre. Hulle het nie besef dat “vandag” al is wat ’n mens werklik het nie, want gister is vir ewig verby en môre is nog onseker.

Moenie gaan lê nie
Hierdie ondersoek verwoord iets van die huidige toestand in die land. Die huidige situasie kan jou uitsigloos maak, sonder hoop vir die toekoms. Die korrupsie, misdaad, droogte (in sekere streke), finansiële druk en ander risikofaktore kan ons verblind en verlam. Die inperking maak dit nie makliker nie. Dit veroorsaak dat ’n mens bly wag dat iets “anders” of iets “nuuts” moet gebeur alvorens jy weer krag en hoop vir die dag van môre kry. Jy moet beslis nie gaan lê nie, kry jou daaglikse krag in die Woord en deur Sy Gees. Jy kan met ’n Christen-berader of -afrigter gesels om nuwe uitsig te kry.

Sien Hóm raak in wie jou hoop gevestig is
Jou hoop is daar waar jy nie kan sien nie. ’n Mens verloor dikwels hoop omdat jy op die hier en die nou gerig is. As jy na die omstandighede om jou kyk, sal daar min hoop wees. Wanneer jy op die negatiewe fokus, kan dit jou insluk. Daardie hopeloosheid sal op jou lippe wees, dit sal die onderwerp om elke teetafel wees en dit sal by die vensters van jou siel uitkyk. Maar as jy jou kop optel en na die Hoop kyk; as jy Hóm raaksien op wie jy jou hoop bou, sal jy Sy lig kan uitstraal.
In samewerking met geloof, stel jou hoop jou in staat om al jou beproewings geduldig te verduur en om al jou moeilikhede te bowe te kom. Hoop beteken juis ’n “gunstige en voortdurende afwagting”.

Hoop is sterker as vrees
Vrees is derduisende mense se metgesel. Gelukkig is hoop sterker as vrees. Hierdie hoop moet egter voortdurend groei en gekoester word. Om in hoop te groei beteken nie ’n ontkenning van die werklikhede van die dag nie. Nee, hoop hou rekening met ’n nuwe werklikheid. Hoop verskuif jou blik gedurig na die dag van môre. Dit herfokus jou aandag op God te midde van jou eie worstelinge en probleme. Hoop laat jou ’n nuwe toekoms sien. Hoop laat jou stroomop leef. Hoop laat jou te midde van twyfel, vrees en ongeloof volhard in ’n nuwe rigting – in God se rigting. Dan sal die vlammetjie van hoop in jou hart nie ophou brand nie. Hoop het ’n naam en ’n adres – Jesus Christus.

Hoop bou ’n pad na die toekoms
Hoop verseker dat al die seer en swaarkry wat jy tans sien en ervaar, nie die laaste sê het nie. Hoop laat jou vasbyt omdat jy weet daar wag ’n nuwe môre. Hoop maak jou nie wêreldvreemd nie. Dit laat jou nie vlug van alles wat nog hier op aarde gebeur nie. Hoop lig jou oë op na die horison van die toekoms. Moenie net op die hier en die nou fokus nie, maar op dit wat ewigheidswaarde het, waar die hoop nie beskaam nie.

Raak prakties
Vra die Here vir ’n woord waaraan jy kan vashou vir die toekoms. Begin ’n hope in a box-projek waar jy ander in jou gemeenskap seën en hoop gee. Reël ’n evangeliese byeenkoms vir jou dorp of stad wat mense weer hoop kan gee. Neem standpunt in teen dít wat verkeerd is in jou gemeenskap en maak ’n verskil in mense se lewens. Hoop het twee pragtige dogters. Hulle name is Woede en Moed; woede oor die manier hoe dinge op die oomblik daarna uitsien en moed om toe te sien dat dit nie bly soos dit is nie.

DS. WILLEM BADENHORST is die uitvoerende direkteur van mpa (Moreletapark Assosiasie) en deel van die leierskap van Moreletapark Gemeente. Kontak hom by willem.badenhorst@moreleta.co.za


3 April 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)