—deur Geopende Deure SA

Oor die afgelope paar jaar het Nigerië bekend geword as ’n gebied van konflik waar ekstremiste burgeroorloë voer en geloofsminderhede as teikens aanval. Ons familie in Christus, veral die vroue en kinders, ervaar allerhande soorte trauma as gevolg van hierdie vervolging. “Daar is verskillende oorsake vir die trauma in Nigerië. Daar is Boko Haram. Ons het ’n oorlogsituasie. Ons het ’n etniese krisis. Ons het ’n godsdienskrisis. Oral word mense getraumatiseer.” – Patience*, een van Geopende Deure se werkers.

‘Ek gaan dit nie oorleef nie’
Soos baie Nigeriese weduwees, is Debora een van die vroue wat deur die vervolging en geweld in Nigerië geraak is. Haar man is in 2008 tydens godsdiensgeweld vermoor, toe Moslem-ekstremiste op Christene in haar tuisdorp in die noordooste van Nigerië losgebrand het. “Toe ons die skote hoor, het my man my geroep: ‘Ons moet uitgaan, want hulle sal ons hier in die huis dood-brand,’” het Debora verduidelik. “Ek het my baba vinnig op my rug getel. Die oomblik toe ons uitgaan, het hulle my in die arm geskiet. My man was voor my. Hulle het hom in die bors geskiet. Hy het geval en uitgeroep: ‘Help! Ek gaan dit nie oorleef nie …’
“Dit het my ontstel dat my man besig was om te sterf. Hy het gesê dat ek braaf moet wees, dat ek van alles moet vergeet. Dat ek hom moet vergewe as hy my te na gekom het. Dat ek nie moet dink dat hy my net so sal agterlaat nie. God sal by my wees. En toe het hy gesterf.”

Mishandel deur die familie
Kort nadat haar man oorlede is, het Debora se skoonouers haar begin mishandel. Volgens die Nigeriese kultuur moet die familie van die vermoorde man na sy vrou en kinders omsien, maar al te dikwels doen hulle presies die teenoorgestelde. “Hulle het druk op my geplaas om die huis te verlaat waar ek saam met my man gewoon het, sodat hulle ’n geldelike inkomste daaruit kon verdien. Ek het uiteindelik maar ingegee en ’n ander huis gehuur. Ek en my baba moes huurgeld betaal in plaas van om in ons eie huis te woon.”

Die eerste traumasentrum in die streek
Baie weduwees kom dieselfde oor en moet die trauma, verlies en mishandeling op hulle eie hanteer. In Maart 2019 het Geopende Deure ’n traumasorgsentrum in Nigerië geopen, die eerste een in die streek! Die sentrum is ’n plek waar mense wat allerhande trauma beleef het, hulp ontvang sodat hulle genesing, hoop en vrede kan vind. Geopende Deure het Debora genooi om vir traumaberading te kom.

Hulle het besorgdheid weerspieël
“Ek het baie ander weduwees teëgekom en besef dat ek nie alleen is nie. Die beraders het so besorgd met ons gepraat. My man se familie was nooit besorgd oor my nie. Ek kon stil word en tot die besef kom: die Here lewe! Elke keer as ek depressief lyk of as hulle my ’n tydjie lank nie gesien het nie, bel die mense van Geopende Deure my om te vra of alles goed gaan. Hulle het my gehelp met kos. Toe my seuntjie grootgeword het, het hulle sy skoolgeld betaal. Hulle het my lewe en die verloop van my verhaal verander.”

Staan saam met vervolgde vroue
Met die voortslepende geweld, ontvoering en vervolging in Nigerië, word talle vroue getraumatiseerd, alleen en sonder hoop agtergelaat.
Staan vandag saam met vervolgde vroue deur ’n GESKENK VAN HOOP van so min as R65 te gee om verstote vroue te help om noodsaaklike lewensvaardighede aan te leer sodat hulle hulself kan onderhou en kan voortgaan om hul lig vir Jesus te laat skyn. Met jou ondersteuning kan ons seker maak dat, al word hulle vervolg, hulle nooit alleen is nie.


Geopende deure | Nedbank | Takkode: 198765
Rekeningnommer: 113 750 4552 (Besigheid)
Verwysingsnommer: JA2001

Geopende deure | Absa | Takkode: 632005
Rekeningnommer: 160 340 568 (Lopende)
Verwysingsnommer: JA2001


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)