—deur WikiHow

“Gee leiding aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.” – Spreuke 22:6

As ’n ouer moet jy jou kinders op ’n geestelike reis begelei en hulle verhouding met God versterk. Om kinders te leer bid, kan moeilik wees omdat hulle nog besig is om hulle idees oor God te vorm. Gelukkig kan jy hulle wys hoe om vir hulleself en ander te bid deur ’n rolmodel te wees. Dit is maklik om jou kind te leer bid as dit deel van hulle daaglikse roetine is.

METODE 1: LEER HULLE DIE ABC VAN GEBED

1 Bespreek wat dit beteken om te bid en met die Here te praat
Verduidelik dat gebed beteken om met die Here te praat en dat dit kan help om Hom goed te leer ken. Leer hulle dat hulle kan bid wanneer hulle vrolik voel, wanneer hulle hartseer of siek voel en dat hulle selfs kan jammer sê (om vergifnis vra) vir verkeerde dinge wat hulle gedoen het.

• Verduidelik dat God altyd gebede hoor en beantwoord – maar nie altyd soos ons verwag nie. Dit kan ’n kind verwar as hy of sy vir iets bid, maar nie onmiddellik die resultate sien nie.

2 Gebruik die Onse Vader as ’n voorbeeld van wat om te bid
Soos voorgeskryf deur Jesus, bevat die Onse Vader al die elemente van ’n goeie gebed, hoewel dit moeilik kan wees om aan ’n kind te verduidelik. Vra hulle om elke dag wanneer hulle bid, die Here vir iets te loof, iets voor Hom te bely (as hulle iets verkeerd gedoen het), Hom vir iets dankie te sê en Hom vir die een of ander iets te vra (genesing vir ’n maatjie, hulp vir ’n ouma of oupa, ens.)

• Die Onse Vader lui soos volg: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

3 Moedig kleiner kindertjies aan om met eenvoudige gebedjies te begin
Dit kan vir kleuters makliker wees om op dankbaarheid en vergifnis te konsentreer. Vra hulle om aan iets te dink waarvoor hulle dankbaar is (dankie wil sê) en iets waaroor hulle vergewe wil word (jammer is). Dit is ’n wonderlike manier om hulle voor te berei vir meer ingewikkelde gebede.

• Laat hulle byvoorbeeld hul gebede begin met: “Dankie Here vir …” of “Ek bid vir …” sodat hulle sinne kan bou soos: “Dankie Here vir my pappa en mamma” of “Ek bid vir ouma, maak haar gesond asseblief, Here.”

4 Oefen om hardop saam te bid en lei jou kinders met jou voorbeeld
Probeer om gebed deel van jou kinders se daaglikse roetine te maak en wys hulle hoe jy bid. Bid hardop en moedig hulle dan aan om dit ook te doen. Wees eerlik in jou gebede, maar hou dit op ’n ligte trant sodat hulle ’n goeie idee kry van jou verhouding met die Here.

• Dit kan ook ’n goeie tyd wees om te verduidelik waarom ons ons oë toemaak (sodat ons aandag nie afgelei word nie en ons op die Here kan konsentreer).

METODE 2: GEBRUIK AKTIWITEITE EN SPELETJIES

1 Skep ’n gebedsnotabord met prentjies van dinge waarvoor jou kind kan bid
Help jou kind om prentjies uit tydskrifte te knip of kry prentjies op die internet en druk dit uit. Gebruik gom om dit op ’n plakkaat vas te plak of steek dit teen ’ n notabord vas. Versier die bord en hang dit op waar julle normaalweg saam bid. Laat jou kinders elke dag een tot twee dinge op die bord kies om oor te bid.

• As hulle byvoorbeeld van diere hou, kan julle foto’s van honde en katte of die gesin se troeteldiere insluit.
• Julle kan ook foto’s van julle familie, vriende en klasmaats insluit sodat jou kinders ook elke dag vir hulle kan bid.

2 Kies ’n plek op ’n atlas en bid vir daardie gebied
Kry ’n aardbol of ’n atlas. Laat jou kind sy of haar oë toemaak en hulle vinger op enige plek op die kaart van die wêreld plaas. Doen dan navorsing oor die gebied wat hulle aangedui het. As daar konflik of oorlog in daardie gebied is, praat met hulle daaroor en vra hulle dan om vir vrede en voorspoed vir die gebied te bid. Dit is ook ’n gulde geleentheid om vir sendingorganisasies in daardie lande te bid. Bid ook vir vervolgde Christene waar van toepassing.
• Dit is ’n wonderlike manier om kinders te leer om bewus te wees van verskillende kulture, godsdienste en wêreldnuus, asook sending.
• Onthou om die inligting wat jy oordra eenvoudig en ouderdomsgeskik te hou. As daar oorlog of konflik in daardie gebied is, gee hulle die breë trekke en laat hulle vrae vra. Jy kan byvoorbeeld sê: “Daar is oorlog in daardie land en baie gesinne moes vlug. Kom ons bid dat hulle ’n veilige plek kry om te woon en dat hulle genoeg kos sal hê om te eet.”

3 Gebruik ‘vergifnisklippies’ om jou kinders te help vergewe
Vul ’n emmer met water en maak ’n paar klippies bymekaar. Laat jou kind die klippie optel en aan iets dink wat iemand aan hulle gedoen het wat hulle hartseer gemaak het. Nadat julle daaroor gebid het en hulle vergewe het, kan jou kind die klippie in die water laat val as ’n teken dat hulle die persoon vergewe het en nie meer aan die hartseer vashou nie.
• Jy kan met hulle praat oor hoe hulle mense kan vergewe, net soos wat God hulle vergewe as hulle iets verkeerd gedoen het.
• Hulle kan ook vergifnis vra vir iets waaroor hulle dalk skuldig voel, of wat hulle verkeerd gedoen het. Hulle kan ’n klippie ingooi as teken dat hulle verkeerde daad ook vergewe is.

METODE 3: BID VIR ANDER

1 Bid elke dag van die week vir verskillende mense
Maak ’n gebedskalender vir elke dag van die week en ken groepe mense vir elke dag toe. Laat julle kinders op daardie dag aan die mense in dié groep dink en kies een of twee mense om voor te bid.

• Julle kan byvoorbeeld Maandag vir “onderwysers” bid en mense soos skoolonderwysers, afrigters, jeugwerkers en ander insluit. Kies iemand op die lys en bid vir hul gesondheid en voorspoed.

2 Laat jou kind elke dag ’n maatjie of familielid kies om voor te bid
Praat met jou kind oor hul vriende en familie. Kies iemand in julle familie soos ’n tannie, oom, oupa of sussie of selfs ’n maatjie en verduidelik dat hulle kan bid en die Here kan vra om daardie persoon te beskerm en te help.

• Jy kan byvoorbeeld sê: “Jou maatjie, Alex, was vandag siek en nie by die skool nie. Wil jy bid dat Alex gesond sal word sodat hy weer skool toe kan kom?”
• As julle vir ’n familielid bid, sê dan iets soos: “Oom Johan kom Paasfees by ons kuier. Kom ons bid dat hy veilig ry en sy tyd by ons sal geniet.”

3 Gebruik die vyfvingermetode om vir ander mense te bid
Laat jou kind sy / haar hand uitsteek en iemand aan elke vinger toeken. Vra hulle om vir vyf verskillende mense te bid voordat hulle vir hulself bid. Dit leer hulle dat hulle vir ander en hul eie voorspoed en verhouding met God kan bid.

WIKIHOW is wiki-platform wat die grootste “hoe-om-te”-handleiding ter wêreld saamstel. Wysig hierdie artikel en kry die outeurskrediete op wikihow.com


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)