Die Bybel sê nie hoe lank Adam was nie. Dit mag dalk vir jou na ’n vreemde onderwerp lyk, maar daar is mense wat bespiegel dat Adam en Eva eintlik baie langer was as die gemiddelde mens van vandag. Volgens een teorie was Adam en Eva ongeveer 15 m lank.

’n Reusagtige Adam?
Teorieë oor ’n reusagtige Adam het sy ontstaan uit die feit dat mense voor die vloed buitengewoon lank gelewe het. Volgens Genesis 5:5 het Adam 930 jaar oud geword. Daar is ook die aanname dat Adam met ’n superieure intellek geskape is. Hiervolgens het die mensdom se lewensduur, intellek en lengte ná die sondeval deur die eeue heen begin afneem.

Groot fossiele dui dalk ook op langer mense
Die aanwesigheid van baie groot diere- en insekfossiele rugsteun die teorie dat Adam baie lank was. In 1940 is die versteende vlerk van ’n Meganeuropsis americana in Oklahoma opgegrawe. Hierdie naaldekokeragtige insek het ’n vlerkspan van bykans 760 cm gehad. In 2020 is fossiele van reuseskilpaaie in die noorde van Suid-Amerika gevind. Die dop van die Stupendemys geographicus is ongeveer 2,8 m lank – ongeveer 100 keer die grootte van sy naaste familielid. Die mense wat bespiegel dat Adam langer as die moderne mens was, redeneer dat, as die diere in “prehistoriese” tye ekstra groot was, die mense dan sekerlik ook langer was.

Reuse in die Bybel
Nog ’n “bewys” wat kan aandui dat Adam baie lank was, is dat “reuse” in die Bybel genoem word: byvoorbeeld die Amoriete van Kanaän, die Refaïte en Goliat, die Filistyn. Toe die spioene van Israel die mense van Kanaän teëkom, het die meeste van hulle teruggekom en verklaar: “Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ’n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin gesien het, is baie groot manne” (Num 13:32). Amos beskryf hoe die Amoriete lank van gestalte was; hy het hulle hiperbolies met hoë sederbome vergelyk (Amos 2:9).

’n Refaïet, koning Og van Basan, wat die Israeliete in Moses se tyd teëgestaan ​​het, word ook in die Bybel as ’n reus beskryf, met ’n bed wat “sowat vier meter lank en amper twee meter breed” was (Deut 3:11). As die bed ’n weerspieëling van sy gestalte is, sou Og ongeveer 3,9 m lank kon gewees het. Goliat se lengte word as “ses el en ’n span” beskryf. Dit beteken dat hy 3 m lank was (1 Sam 17:4). Kan die liggaamsgrootte van hierdie historiese karakters ’n oorblyfsel van Adam se genetika wees? Party mense sê dit is moontlik.

Hedendaagse reuse
Daar is ook gevalle van gigantisme wat in die hedendaagse mens voorkom. Robert Wadlow was 2,72 m met sy dood in 1940. Dit is egter te betwyfel dat mense soos Wadlow ’n bewys is dat Adam so lank was: moderne gigantisme is ’n fisieke kwaal. Individue wat so buitensporig lank word, het gewoonlik ook hart- en bloedsomloopprobleme.

Islam se reuse-Adam
Die idee dat Adam ’n reus was, word ook in Islam genoem, hoewel die Islamitiese tradisie ’n uiterste siening inneem. In die Hadith vertel Abu Huraira dat “die profeet gesê het: ‘Allah het Adam geskape; hy het hom 60 el lank gemaak” (boek 55, Hadith 543). Adam sou dan ongeveer 27 m lank moes wees!

Geen Bybelse bewyse nie
Die teorie dat Adam en Eva reuse was, het geen Bybelse bewyse om dit te staaf nie. Die Skrif gee ons geen aanduiding van hoe lank Adam was nie. Daar was historiese gevalle waar mense baie lank geword het, maar om daardie afwykings te gebruik as die basis vir ’n spesifieke lengte vir Adam, is vergesog. Om die gemiddelde lengte van die mens af te lei op grond van die grootte van uitgestorwe insekte en reptiele, hou ’n soortgelyke raaiery in.

GOT QUESTIONS bied Bybelse antwoorde op moeilike vrae. Vir meer inligting, besoek gotquestions.org


18 Februarie 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)