Deur: Werner Joubert

Elke mens se saak met God is ’n saak van die hart, ’n saak van liefde. Toe ’n slim man vir Jesus vra wat die belangrikste gebod is, het Hy geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag” (Mark 12:30). Dit is egter waar die probleem inkom: Hoe kan ons ons al hoe meer aan God toewy in ’n wêreld waar ons harte so maklik van Hom weggelei word?

Die Gees kan ons liefde vir God aanwakker
Die eerste ding om te besef is dat die Heilige Gees kragtig is om ons liefde vir God te help groei. Onthou ook dat God se liefde vir ons volmaak is, maar ons liefde vir Hom gebroke is. Ons kán egter in ons liefde vir ons Redder groei. Eendag wanneer ons permanent by God is, sal ons liefde ook volmaak wees (1 Kor13:12).

Ons emosies kan in die duiwel se hande speel
“… so ’n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë” – Jakobus 1:8. Hoe kan ons waak oor ons menslike hart? Die Heilige Gees wil ons wys in watter areas ons dubbelhartig is. Ons harte is dubbelhartig/verdeeld wanneer ’n afgod daar met ons liefde en geloof vir God kompeteer. Die woord “afgod” is dalk sterk, maar ek gebruik dit om te beklemtoon dat daar ’n inbreker op die terrein van ons harte is. ’n Vyand wat ons wil seermaak. Een manier om hierdie afgode of inbrekers te herken, is om na die “roepstemme” in jou hart (of emosies) te luister. Dit lei ons dikwels na dinge wat ons hart verdeel.

Kom ek gee ’n paar voorbeelde:
“Ek is oorweldig met angs oor my tienerkind! Soveel so dat ek siek van bekommernis is en my vrede verloor.”
Dit kan wees dat jou hart jou as jou kind se redder begin beskou het. Jy stel jouself as sy veilige vesting aan. Dit is ’n verdeelde hart. God nooi jou om Hom aan te roep as die Redder en die veilige vesting vir jou én jou kind. Hier sou ek ook die sonde bely dat jy jou vertroue in jouself geplaas het en nie in God nie. (Ek weet die voorbeeld kan dalk ’n paar hartsnare pluk. Ek kan ongelukkig nie veel meer hier daaroor uitbrei nie. Natuurlik wil God jou in jou kind se lewe gebruik, maar nooit hoef jy God se werk te doen nie. Ons staan net in Sy diens.)

“Ek ervaar druk omdat ek met my vriende meeding – ek kan dit nie help nie!”
Soms soek ons die aanvaarding wat ons slegs by God kan kry, by ander mense. God wil ons harte met Sy liefde omvou, maar ons hunker dat mense dit eerder moet doen. Ons is dus dubbelhartig. In ons gees wil ons hê God moet die Here van ons hart wees, maar dan soek ons in die praktyk die aanvaarding by mense. Hier moet ons dit bely en vir God jammer sê dat ons Hom nie vertrou het met ons identiteit nie. Wanneer ons eerlik is voor God hieroor bevry dit ons ook van die vrees van mense en hulle menings.

“Ek is behep met my voorkoms en dit is vir my vreeslik erg dat ek al hoe ouer word.”
Wanneer ons bekommerd en vol angs oor ons ouderdom en ons liggame is, is die Gees dikwels besig om ons te waarsku dat ons ons hoop en vertroue op aardse dinge gevestig het. Dit kan wees dat die Heilige Gees ons wil help om ons skatte vanaf die aarde na God se ewige Koninkryk te verskuif. Al hoe ons werklik vry kan wees in hierdie lewe, is om dit vanuit ’n ewigheidsperspektief aan te pak.

Is Hy jou eerste liefde in elke area van jou lewe?
Die aanbidding van ons harte is soms meer prakties as wat ons dink. God wil ons hele lewe infiltreer en in elke area ons eerste liefde wees. Soos ons hart uitroep, word ons genooi om elke area aan God toe te wy. So verander ons “dubbelhartigheid” in ’n onverdeelde hart wat slegs vir Jesus koester.

WERNER JOUBERT is die pastoor van Shofar Secunda. Kontak hom by secunda@shofaronline.org

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie


2 Januarie 2021

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)