—deur Lourieke Haller

Dr. Hannelie Groenewald se hele gesin is in 2015 uitgewis tydens ’n aanval in Afganistan waar die gesin sendelinge was. Hannelie se voormalige man, Werner en hulle twee tienerkinders, Jean-Pierre (17) en Rode (15) is tydens die aanval doodgeskiet. Sy moes self haar geliefdes se stukkende liggame balsem … daardie donker hoofstuk lê egter nou agter Hannelie en die Here het waarlik haar “rouklere uitgetrek” en dit met “feesklere” vervang, want sy is onlangs met Hannes Laubscher getroud. JUIG! het met haar gesels oor haar nuwe begin.

Is jy nog by sending betrokke?
Ek is nie meer lid van ’n amptelike sendingorganisasie nie, maar ek het nog baie kontak met ons Afgaanse werknemers en sendelinge wat nog in Afganistan woon en werk. Die privaat praktyk waar ek werk, ondersteun en verwelkom dit dat ons die Evangelie deel en dít is nou my sendingveld. Daar is baie geleenthede om die Woord te deel en te bid saam met pasiënte wat dit verwelkom. Voordat ek by sending betrokke geraak het, het ek nie werklik die geleentheid tydens konsultasies gebruik om geestelik na pasiënte uit te reik nie. Dit is iets wat ek in Afganistan leer doen het.

Hoe lank het dit geneem om die verlies van jou gesin te verwerk?
Ongeveer twee jaar lank. Die skryf van my boek het my baie gehelp om die gebeure en die emosies te verwerk. Die eerste jaar ná die aanval was chaoties. Daar was min tyd vir stilsit en peins. Daar was te veel aandag op my en dis een van die hoofredes hoekom ek uit Pretoria weggetrek het. Ek het besef ek sou nooit regtig kon stil word nie. Mense wou my graag ondersteun en in ’n groot mate het ek dit ook vermy om alleen te wees. Die boek het my gedwing om sistematies deur die gebeure te werk en in voeling te kom met wat in my siel aan die gang was. Die trane het gevloei en ek het menige nag tot in die vroeë oggendure gesit en skryf. Ek het tot verlede jaar ook my getuienis by gemeentes en vrouegeleenthede gedeel. Dit het my ook baie gehelp om dinge te verwerk.

Jy is onlangs weer getroud. Was dit moeilik om jou hart weer vir iemand te gee?
Om alleen deur die lewe te gaan, sonder ’n maat was vir my moeilik. Ek het Werner as eerste jaar op universiteit ontmoet en was daarna nooit weer alleen nie. Toe hy wegval, het ek soos ’n halwe mens gevoel. Ná ek my boek voltooi het, het ek egter gereed gevoel om Hannes ’n kans te gee. Hy is ’n baie liefdevolle mens en dit was nie moeilik om my hart vir hom te gee nie.

Wat het jou tot hom aangetrek?
Hy is baie saggeaard en liefdevol. Ons was van die begin af op dieselfde golflengte ingestel en kon lekker oor elke denkbare onderwerp gesels. Hy is ook baie ondersteunend en is ’n uiters kreatiewe mens en ek staan somtyds verstom oor sommige van sy uitvindsels en sy praktiese benadering tot probleemoplossing.

Wat is sy agtergrond?
Hannes het as ’n plaasjapie in Potgietersrus grootgeword en is die oudste van drie kinders. Hy het ná matriek sy eie besigheid in Pretoria begin wat hy vandag nog bedryf. Beide sy ouers leef nog en hulle het hom as ’n kind van die Here grootgemaak. Twee dogters is gebore uit sy vorige huwelik. Hul moeder is oorlede.

Wat is jou raad aan ander wat hul eggenoot verloor het en twyfel of hulel weer moet trou?
Eerstens, indien jy twyfel, moenie! ’n Mens moet die persoon lank genoeg ken en weet dat dit onmoontlik is om ’n tweede huwelik sonder enige bagasie in te stap. Sorg dat jou nuwe huweliksmaat dieselfde geloofs-oortuiging, lewenswaardes en -visie as jy het. Saamgestelde gesinne se dinamiek werk anders en dis baie meer uitdagend as met die eerste huwelik waar man en vrou saam in hul huwelik gegroei en mekaar sedert hul jongdae gevorm het. Sukses is vir seker moontlik, maar dit sal tyd verg en ’n mens moet geduldig wees en baie liefde gee.

Wat het jy geleer uit jou ervaring?
Die Here het Sy liefde en trou aan my openbaar in die bykans 12 jaar in Afganistan. In Suid-Afrika het die groeiproses voortgegaan en het ek meer oor myself en my tekortkominge geleer. My predikantman was nie meer daar om my met wysheid en raad te bedien nie. Ek het besef hoe ver ek tekort skiet om aan God se standaarde te voldoen en dat ’n mens soms kan dink jy tree wys en geestelik volwasse op, net om maar die volgende oomblik jou kop in skaamte te laat sak oor jou eie tekortkominge en haastige optrede. Ek besef daagliks dat ek sonder die Kruisdood totaal verlore sou wees.

Vertel ons van jou boek.
Ek het die boek geskryf omdat so baie mense deur groot traumatiese gebeure gaan en sukkel met die “Hoekom?” en “Wat as …” ná die tyd. Ek wou ’n boodskap van hoop en heling met hulle deel en hulle inspireer om die liefdevolle karakter van God en die krag van vergifnis in hulle slegte omstandighede raak te sien … en die wete dat dit moontlik is om uit die as op te staan en ná ’n groot verlies ’n vervulde en betekenisvolle lewe te kan leef.

Die boek is by CUM-boekwinkels verkrygbaar, asook aanlyn by Takealot.
Bestel Tragedy in Kabul, by hanneliegroenewald200@gmail.com of Amazon.com


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)