Deur: David Malherbe

Om die beste roete vir ’n reis van punt A na punt B te bepaal, is ’n toestel met ’n globaleposisioneringstelsel (GPS) van groot waarde. Dit verskaf nie net die kortste roete nie, maar gewoonlik ook alternatiewe roetes. Voordat die GPS egter jou roete kan aandui, moet jy die beginpunt en eindbestemming van jou reis op die toestel insleutel. Dit behoort te verseker dat jy nie die pad byster raak nie – veral as dit die eerste keer is wat jy die bestemming gaan besoek.

Die belangrikste reis
Die een reis waarvoor ’n GPS-toestel nie werk nie, is jou lewensreis, waarvan jou loopbaan ’n groot deel uitmaak. Dit is die heel belangrikste reis wat jy ooit sal aanpak en jy wil beslis nie ’n verkeerde rigting inslaan nie. Die vraag is: Waarvoor wil jy graag hê moet mense jou eendag onthou? Sal jy aan die einde van jou lewe kan terugkyk en sê dit was goed, ek het gedoen wat ek moes?

Voorafbeplanning is belangrik
Baie mense reken die onsekerheid van die lewe maak dit onmoontlik om te beplan vir wat jy in jou lewe wil bereik. Ons kan egter dieselfde van enige reis sê, want daar is altyd iets wat verkeerd kan loop. Die voorafbeplanning help jou egter om ondanks onverwagte probleme op koers te bly.
Die rigting wat jy met jou lewe inslaan behoort voort te spruit uit wie jy is. God het jou met ’n doel gemaak wie jy is en toegelaat dat jy sekere ondervinding in jou lewe opdoen – wat ek glo Hy in jou lewe wil gebruik.

God se plan vir Paulus se lewe
Paulus en vele ander geloofshelde se lewens is goeie voorbeelde van mense wat vasberade en met rigting God se plan vir hul lewens uitgeleef het. Paulus het as ’n Fariseër ’n groot ywer vir God gehad, maar dit in die verkeerde rigting uitgeleef. Ná sy ontmoeting met God op die pad na Damaskus, het God sy ywer vir die Koninkryk en die kennis wat hy reeds van die Skrif gehad het, gebruik om die boodskap van Jesus in ’n groot deel van die destydse bekende wêreld te verkondig.
In Handelinge 9:15 lees ons dat die Here vir Paulus geroep het om Sy Naam “uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel”. Paulus het geweet wie hy is en wat hy vir die res van sy lewe moes doen: “Dieselfde God wat van Petrus ’n apostel vir die Jode gemaak het, het van my ’n apostel vir die nie-Jode gemaak” – Galasiërs 2:8. In Handelinge 26:19 sê Paulus tydens sy verhoor aan koning Agrippa: “Van toe af, koning Agrippa, was ek nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam nie.”

Die belangrikste dag in jou lewe
Hier is twee kante aan die gebeure. Aan die een kant God wat vir Paulus roep en aan die ander kant Paulus wat sy lewe rig om dit waarvoor God hom geroep het, uit te leef. Die twee belangrikste dae in jou lewe, word gesê, is die dag wat jy gebore word en die dag wat jy besef hoekom. Paulus het dit nie soos Simson of Johannes die Doper al van geboorte af geweet nie, maar vandat hy dit die dag besef het, het hy die res van sy lewe daaraan gewy.

Paulus kon gefokus lewe
Van daardie dag af het Paulus met rigting geleef. Hy het geweet hy wil die nie-Jode met die verlossingsboodskap van Christus bereik. Wanneer hy sy sendingreise beplan het, was dit sy fokus. Wanneer hy op reis was, was dit sy fokus. Hy wou soveel as moontlik nie-Jode wen vir God se Koninkryk.
Hoewel sy planne nie altyd uitgewerk het soos hy beplan het nie en hy soms sy planne moes wysig, soos toe hy na Masedonië geroep is (Hand 6:9-10), het hy steeds aangehou werk aan dít wat hy geglo het sy roeping van God af is.

Al is sy reisplan op kort kennisgewing verander, was dit steeds in pas met sy roeping, naamlik om die Evangelie aan die nie-Jode te verkondig. Wanneer hy by tye in die tronk beland het en nie kon reis nie, het hy briewe geskryf aan die gemeentes wat hy geplant het en so steeds die Evangelie aan die nie-Jode verkondig.

Doelgerig tot aan die einde van hul lewens
Het die feit dat hy met rigting geleef het ’n verskil gemaak sodat hy aan die einde van sy lewe kon sê dat dit goed was? Weliswaar, ja. In 2 Timoteus 4:7 (OV) sê Paulus: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” In 1 Kronieke 29:28 word daar ook van Dawid, wat op ’n jong ouderdom geweet het waarvoor God hom wil gebruik (skaapwagter, soldaat en koning), gesê: “Hy het op hoë ouderdom gesterf, na ’n vol lewe, ryk en geëerd.” Jesus het ook voor Hy aan die kruis gesterf het, gesê: “Dit is volbring.” (Joh 19:30).

Het jy ’n roetekaart?
As ek jou sou vra waarheen jy met jou lewe of met jou besigheid op pad is, kan jy dit in woorde omskryf? Jy mag nie ’n huis bou sonder ’n plan nie, hoekom wil jy dan jou lewensreis sonder ’n plan aanpak? Of jy dertig of sestig is – waarheen is jy op pad?
Om te verseker jy leef die res van jou lewe volgens “God se Posisioneringstelsel” vir jou lewe, besoek gerus my webblad by jedidiah.org.za vir meer inligting oor die GPS for Life-kursus wat ek aanbied.

Jakobus 1:7-8 lui: “… iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ’n mens wat altyd aan die twyfel is, (is) … onbestendig … in al sy doen en late …” Dit wil sê so iemand staan elke dag op en gaan maar waar die stroom hom of haar neem. Sonder ’n bestemming en ’n roetekaart raak ’n mens soos Kaïn – ’n doellose swerwer (Gen 4:14).

David Malherbe is ’n sake- en loopbaankonsultant, spreker en skrywer. Hy tree graag as spreker op en bied al sedert 2011 van tyd tot tyd die kursus GPS for Life/GPS vir jou Lewe aan. Kontak hom via sy webblad by jedidiah.org.za en teken ook in op sy gereelde nuusbrief.

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie


11 November 2020

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)