—deur Nina Smit

Elke oupa en ouma bêre hulle eerste kennismaking met hulle kleinkinders in hulle hart. As die fyn vingertjies vir die eerste keer om jou duim sluit en jy die satynwangetjie teen joune voel, raak jy hopeloos en vir altyd verlief. Louter ver-basing dat ’n mensie só klein en só volmaak kan wees en dat jy hom so oombliklik en vir altyd kan liefkry, maak hom van jou meester. En hierdie liefde hoef nie verdien te word nie – dit is sommer net eensklaps daar. Die kleinkind hoef glad niks te doen om ’n vlammetjie van liefde in sy of haar oupa of ouma se hart aan te steek nie.

Oorgenoeg liefde vir elkeen
Dit maak ook nie saak hoeveel kleinkinders daar is nie, daar is oorgenoeg liefde vir elkeen van hulle. En ómdat ons oupas en oumas is, gee ons graag presente vir die voorwerpe van ons liefde. Bederf is nou maar eenmaal eie aan oupas en oumas. Die kleinkinders besef van heel kleins af dat hulle oupas en oumas hulle op ’n spesiale manier liefhet. Om hierdie rede gee hulle die liefde wat hulle van hulle grootouers kry spontaan aan hulle terug, en is daar altyd ’n baie sterk band tussen hulle.

Onvoorwaardelike liefde
Die liefde van oumas en oupas vir hulle kleinkinders is ’n afskynsel van God se liefde vir óns – al is dit maar ’n flou afskynsel. God het ons van vóór ons geboorte af op ’n spesiale manier lief. Niks wat ons doen, maak sy liefde vir ons minder nie. Die beroemde Belgiese teoloog Henri Nouwen het sy lewe lank gesukkel om God se onvoorwaardelike liefde vir hom te verstaan. Nadat hy in ’n tehuis vir geestelik gestremdes gaan werk het, het daar ’n lig vir hom opgegaan. As priester wat niks geweet het van gewone huiswerk soos kook, stryk en die versorging van kinders nie, was hy aanvanklik totaal onhandig toe hy gevra is om na die gestremdes om te sien. Mettertyd het hy egter geleer om hulle opreg lief te kry. Soos medelye vir hulle gebroke liggame in hom begin groei het, het hy uiteindelik begin besef hoe God ’n gebroke persoon soos hy kon liefhê.

Ontvang Sy liefde vir jou
God het jou op hierdie manier lief: onvoorwaardelik, onbevooroordeeld en ewig – bloot omdat jy sy kind is en Hy jou gemaak het. En niks, absoluut niks kan jou van hierdie liefde van God skei nie. Van jou kant af hoef jy ook niks te doen om
hierdie liefde te verdien nie. Jy het dit reeds. Al wat jy hoef te doen om hierdie liefde in ontvangs te neem, is om jou hande na God uit te steek en dit vir jou te neem.


AANGEPAS UIT die dagstukkieboek, Elke dag ’n vreugdepad, gebruik met toestemming van
Christian Art.

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsluitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)