Deur: Anelle (skuilnaam)

Ek skryf hierdie getuienis, want dit is nou presies vyf jaar later en ek het nie my deel gedoen deur my verhaal so veel as moontlik met ander te deel nie.

’n Uitstappie in die natuur
Dit was 1 Maart 2015, ek was 24 jaar oud. Ek het oudergewoonte in die natuur my siel gaan ondersoek; voete in die rivier. Ek kon die gevaar aanvoel toe twee mans met my oogkontak maak. Ek het die situasie probeer beredder deur by ’n huis daar naby in te loer, maar dit was donker binne. Daar was niemand tuis nie. Die twee het aangestap gekom en vandaar af het alles afdraand gegaan.

Bose motiewe
Hulle het dit duidelik gemaak wat hul motiewe was – dinge in my oor gefluister en my gesoen. Ek het gesoebat, gesmeek en mooi gepraat en gedink dat ek op dié manier nog uit die situasie kan kom. Maar dit is toe ek weer my bewussyn herwin nadat ’n stomp op my kop gegooi en ek met rivierklippe gekap is, dat ek werklik die erns van die situasie besef het.

Ek het om hulp geskreeu, maar die een was te gou met sy arm om my nek. Hy het nie sy greep verslap nie en ek kon voel hoe ek my bewussyn begin verloor. Hulle het my oor die rivierklippe gesleep en soos ek weer begin bykom het, het ek gespartel. Die een sê vir die ander meer gewelddadige een gesê: “Moet haar net nie doodmaak nie!”

Ek het gebid en vir die Here gesê: “Ek het nie gedink ek gaan die wêreld op dié manier verlaat nie.” Ek het Hom om hulp gesmeek.

Onverwagse redding
Hulle het my aan my hare getrek en deur die rivier gesleep terwyl daar vir my gesê is dat ek sou vrek as ek nie saamwerk nie. Ons was in die bosse. Ek het gegryp aan die takke en met alle mag geskreeu, maar die greep om my nek was terug, alles het weer begin vervaag …

Die kabbelende rivier en geluid van voetstappe op droë blare het stadig maar seker harder en harder geraak. Ek het gedink die daad is gedoen, maar hulle het my steeds gedra: die een aan my voete en die ander aan my arms. Skielik het iemand van oorkant die rivier gebulder. Ek is neergegooi en die mans het die bosse ingevlug. Hulle kon toe nog nie hulle bose plan uitvoer nie.

Vyf jaar later
Ek het ‘n maand en ‘n half lank met bloedbelope oë rondgeloop as gevolg van die drukking van die verwurging wat die aartjies laat bars het. Vyf jaar later het ek slegs die letsel van agt steke op my kop en ’n kniebesering oor. Natuurlik dra ek die herinneringe en soms die drome saam met my. Ek is minder naïef, versigtiger en probeer dames en selfs mans waarsku om nie alleen te gaan voetslaan of draf nie. Die aanranding het in ’n baie gesogte buurt in Stellenbosch gebeur en daar is gewoonlik baie mense in die omgewing, maar vir daardie 20 minute was daar net nie ander mense in die nabyheid nie.

Hoekom nié ek nie?
Ek is beslis ’n sterker mens na die gebeurtenis. Ek voel nie dat die Here my verlaat het nie en ook nie dat Hy dit toegelaat het nie. Kollegas en vriende wat hiervan gehoor het se gedagtes maal. Waarom? Hoekom sý?

Hoekom nié ek nie? Ek is nie beter of meer spesiaal as enige ander mens nie. Eerder ek as wat dit ’n skooldogter was. Ek moet die studente en inwoners en eintlik alle mense oral in die land bewus maak. Ek glo dat ek wel gespaar is en ’n mens word nie net sonder rede gespaar nie. God se doel vir my was nog net nie vervul nie.
Ek wil dus ’n gedig met julle deel wat ek ’n rukkie gelede geskryf het – dit is vanuit die Here se oogpunt. Dit is vir dié wat dalk dink dat Hy my in daardie oomblik verlaat het.

Uit my oë
Ek het jou gesien voor jy nog gebore is.
In die moederskoot het Ek jou gevorm.
Al jou dae is vooruit bepaal tot jy eendag rus.
Maklik is dit nie, daar’s moeilike keuses wat wag.
Vir amper ’n kwarteeu kon Ek jou beskerm,
van die donker en die mense van die nag.

Toe sien Ek jou daar sit, rustig by die rivier.
Ek sien die ellende gaan op jou toesak.
Toe het Ek die Heilige Gees gestuur.
Ek sien hoe jy mooipraat, hulle smeek,
Maar die donker het hulle ingesluk.
Ek sien hoe jy daar lê: bewusteloos en bleek.

Ek hoor hoe jy met My praat.
Dit is nie Ek wat dit aan jou doen.
Dit is nie vir My maklik, Ek het jou nie verlaat.
Ek weet jy’s bang My kind.
Hulp is op pad,
Iemand sal jou vind.

Ek het jou trane opgevang.
Hul name is opgeteken in My boek.
’n Wolk van vrees en wantroue sal nie oor jou hang.
Ek steek My hand uit en red jou deur My krag.
Ek sal My doel met jou bereik.
Daar is nog baie wat jy moet vermag.

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie


8 November 2020

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)