—deur Tanya Powell

“Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.” – Jesaja 40:11

Ek kry steeds ’n kol op my maag as ek terugdink aan die eerste paar maande van Josh (my oudste seuntjie) se lewe. Ek was ongelooflik onervare met babatjies en my lieflingseun het ons verras met koliek. Ons was nie in ’n finansiële posisie om enige hulp aan boord te kry nie (dankie tog vir ’n ouma wat bereid was om te help).

Uitgeput en alleen
Ek onthou die oggende waar alles voor my gesweef het omdat ek so uitgeput was. Ek onthou die kere (en daar was ’n hele paar) waar ek uit die stort moes spring, my kop nog vol skuimbolle, om na my skreeuende babatjie om te sien. Omdat Josh met koliek “gediagnoseer” is en ek geborsvoed het, was ek ekstra versigtig met wat ek geëet het omdat sekere kosse sy koliek kon vererger. Dit het veroorsaak dat ek vinnig gewig verloor het ná die geboorte, wat die moegheid drasties vererger het. In daardie tyd was Neil vier weke lank weg op toer en ek was soos die Engelse sê: “Man down and alone.”

Skuldgevoelens en die duiwel se aanklagte
As ek terugdink, was daar ’n skuldgevoel wat alles vererger het. Ek het nie skuldig gevoel omdat ek ander mense afgeskeep het of omdat ek nie in elke behoefte van my babatjie kon voorsien nie. Ek het skuldig gevoel omdat ek te moeg was om soos voorheen tyd met die Here te bestee. Wanneer ek probeer Bybel lees of bid het, het ek aan die slaap geraak. Die kere wat ek wel gebid het, was dit gewoonlik eerder ’n uitroep om hulp omdat ek gevoel het ek misluk as ’n ma. En so het die vyand my skuldgevoel gebruik om die gat waarin ek was, net dieper te grawe. Deur my gesprekke wat ek sedertdien met vriendinne of vrouens met klein babatjies gehad het, het ek besef 99% van hulle worstel met dieselfde skuldgevoel.

God ís daar – ook in jou moegheid
Met my tweede seuntjie was alles anders. Ja, ek was miskien meer opgewasse en rustiger. Caleb het ook nie koliek gehad nie, maar dit was nie hoekom dinge vir my soveel makliker was nie. ’n Vriendin het een keer vir my gesê God ontmoet en bedien ons in ons moeilikste seisoen, maar dat ons as jong, onervare mammas so verblind word deur ons skuldgevoel dat ons nie Sy teenwoordigheid en liefde in ons omstandighede kan raaksien nie. En so gee ons die vyand die volle reg om ons net meer af te takel.

Nooi God in
Alle mammas met pasgebore babatjies (of selfs tot tweejarige kleuters) is moeg. As jy nie is nie, dan het jy kinders wat baie goed slaap of jy het hope hulp. Nooi God by jou normale daaglikse aktiwiteite met jou kind in. As jy haar / sy doekie omruil, bid beskerming oor hulle seksualiteit. As jy hulle mondjies afvee wanneer hulle begin kossies eet, bid dat hulle woorde eendag God se Koninkryk sal uitbrei. As jy hulle haartjies was, bid en visualiseer net daar waar jy is hoe God hulle met Jesus se Bloed bedek.

Hy wil die reis meemaak
God ken die seisoen van jou lewe al te goed. En Hy is daar! Raak rustig, haal asem en nooi jou Pappa om die uitdagende reis saam jou mee te maak.


NEIL EN TANYA POWELL het die voorreg om met sportmanne en -vroue en toekomstige leiers in Suid-Afrika te werk. Neil is die afrigter van ons sewesrugbyspan en Tanya doseer anatomie vir eerstejaars aan die Maties se Sportwetenskapdepartement


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)