Deur: Ellenore Meyer

“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” – Spreuke 4:23

Ons besef al hoe meer die waarde van ’n holistiese benadering. Medici erken vandag die bio-psigo-sosiale-geestelike model. Dit is die invloed van ons omgewing, persoonlike swak- en sterkpunte en die invloed van ons vormingsjare op ons gesondheid. “Angs, depressie en ander geestestoestande wat in die brein manifesteer, is nie siektes nie. Dit is simptome wat as waarskuwing moet dien dat ons lewens in wanbalans is en dat ons by die wortel van die wanbalans moet uitkom,” sê dr. Ellen Vora, holistiese psigiater.

Denke beïnvloed gesondheid
“As jy wil weet hoe jou gedagtes in die verlede gelyk het, kyk hoe jou liggaam vandag lyk. As jy wonder hoe jou liggaam in die toekoms gaan lyk, bestudeer jou gedagtes vandag,” is die wyse woorde van dr. Rudolph Tanzi, ’n hoogleraar in neurologie aan die Universiteit van Harvard.
Psigo-neuro-immunologie is die bestudering van die uitwerking wat gedagtes op ons brein, senuweestelsel, immuniteit en gesondheid het. Elke gedagte het ’n neurologiese respons wat ’n uitwerking in jou liggaam het. Die boublokkies van jou senuwees, die dentriete en sinapse en selfs dele soos die hippokampus in jou brein verander en reageer op jou omgewing en stres.

Jou endokriene stelsel, senuweestelsel, immuniteit, dermkanaal, hart en bloedvate en bene word alles oor die lang termyn geaffekteer deur jou denke. Soveel as 75% tot 95% siektes hou verband met ’n onderliggende psigologiese oorsaak. Woede en bitterheid kan jou risiko vir ’n hartaanval tot sewe keer verhoog. Vrees en ’n gevoel van verlies aan beheer kan lei tot intestinale probleme, veral as dit gekoppel is aan ’n geskiedenis van beskaming of mishandeling. Die brein-liggaam-verband kan jou sleutel tot gesondheid of siekte wees. Wat jy dink, beïnvloed jou emosioneel, intellektueel en liggaamlik.

Hoe werk my gedagtes?
Inligting van die eksterne omgewing bereik jou brein via jou vyf sintuie op die neurologiese snelweg van jou senuwees. Die inligting bereik jou brein as ’n elektriese impuls wat jou vrye wil in die voorste area van jou brein – corpus callosum – bereik. In hierdie stadium kan jy kies of jy die gedagte verder wil dink of nie. As jy kies om die gedagte te verwerp, is dit asof die chemiese stowwe “verdamp” en die gedagte penetreer nie dieper in jou brein nie.

Indien jy egter kies om verder te peins, verskuif die corpus callosum oor na ’n volgende rat en word meer rondom hierdie gedagte in jou brein gebou. Jou gedagtes stimuleer die groei van dendriete in die korteks van jou brein deur ’n proses van proteïensintese. Die neurone (senuwees) lyk soos ’n boom. Herinneringe groei soos nuwe takkies as jy oor hulle peins. Herhaaldelike gedagtes kan ’n hele woud oor sekere gebeure aankweek – ten goede of ten kwade.

Geestelike integrasie en simpatieke selfondersoek kan jou help genees
Die mediese wêreld erken dat tot 87% van alle siektes ’n psigologiese skakel het en tog sal die meeste medici nie ’n pasiënt hieroor uitvra of toerus om hulle mediese toestand te hanteer nie.

Gebruik jou geloof om nuwe gedagtes oor jouself en jou waarde, jou doelwitte en jou lewe te dink. Kombineer dit met simpatieke ondersoek van gebeure in jou verlede – baie van dit is op ervarings van ons kinderdae gebou. (Gaan kyk gerus na dr. Gabor Mate se lesings oor simpatieke selfondersoek en om deur kinderdae-trauma te werk).

Geestelike integrasie as ’n sleutel tot beter gesondheid
Navorsing wys dat ’n verhouding van 1:3 van negatiewe versus positiewe gedagtes die sleutel tot optimale breingesondheid is. Dit is belangrik om oor die negatiewe te dink en dit selfs te bespreek wanneer iets sleg gebeur, maar moenie daar vashaak nie. Jy moet vir elke negatiewe gedagte, drie positiewe gedagtes oor die plek, persoon of situasie dink. Hou vas aan God se belofte dat Hy alles in ons lewens ten goede sal laat meewerk (Rom 8:28).

Waar spring jy weg?
Beplan jou geestelike en breingesondheid net soos jy jou liggaamsgesondheid aanpak. Ondersoek jou eie geestelikheid, gedagtes en innerlike lewe. Leer om die tekens van stres in jou lewe vroeg te herken en te hanteer. Bespreek jou gedagtes met ’n geliefde of selfs ’n opgeleide berader of mediese kundige. Spreuke 4:23 sê: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”

Nuwe gedagtes om jou dag mee af te sluit
Sluit jou dag met een van die volgende gedagtes af:
• Ek het vandag my beste gegee, dit is goed genoeg.
• Môre is ’n nuwe dag met nuwe geleenthede vir my om my talente te gebruik en iets vir iemand te beteken.
• Vandag het ek geleer _________________.
• Ek is dankbaar vir ___________________.
• Ek is vandag trots op myself vir ___________________.
• My waarde word nie bepaal deur die doelwitte wat ek bereik al dan nie.

Vernuwe jou gedagtes
Die aanvanklike gevoel of gedagte is nie die probleem nie, maar jou reaksie daarop kan wees. Herken en erken negatiewe gedagtes en gebeure, peins daaroor en bekyk dit dan vanuit ’n positiewe oogpunt. Gebruik jou oggend- en aandroetine om negatiewe kringlope te breek. Bid oor die dinge wat jou pla. Vergewe dié wat jou te na kom. Fokus op God se liefde wat alles ten goede laat meewerk. Leef in Sy vrede. Slegs sewe minute per dag van positiewe denke kan ’n giftige kringloop verbreek. Vier dae van goeie gedagtes kan die “dorings” laat begin verdwyn; 21 dae van hernude denke en die negatiewe neurologiese baan word nie meer gebruik nie. Wanneer jy drie siklusse van 21 dae lank herhaal, beteken dit dat jy ’n nuwe, gesonde “snelweg” gebou het!

ELLENORE MEYER is ’n mediese dokter met ’n doktorsgraad in mediese etiek. Sy is deel van ’n interdissiplinêre span wat in plakkerskampe as gemeenskapsontwikkelaar vir holistiese gesondheid, basiese behoeftes met selfontwikkeling integreer. Sy is ’n skrywer en gasspreker oor geestelikheid en gesondheid. Kontak haar by ellenoremeyer@hotmail.com

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie


3 Januarie 2021

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)