Deur: Pastoor Rudi Briel

Gee God net ’n kans,” het ek kleintyd eendag van die kansel af in ’n stampvol kerk gehoor. Ek kon dit nie verstaan nie. Hoe gee jy vir God ’n kans? Hy, die Almatige, Alomteenwoordige in die heelal, doen dan net soos dit Sy wil is.

Onder begeleiding van die pyporrel het ek dit ook geleer: “Doen slegs U wil, Heer, U wil met my.” Vir my was die gedagte om God net ’n kans te gee, verspot. Soos die jare aangestap het, het ek egter die waarheid van hierdie ernstige oproep ontdek.

Wanneer dit kom by die hart, hoe verlore of duister, kan God niks doen sonder die kans wat jy Hom gee nie – om by die deur in te stap waaraan Hy vir soveel jare reeds liefdevol klop. By die traanbedrupte boetelingsbank het ek dit gesien, langs menige sterfbed en ook weer eendag by ’n erediens. “Gee God net ’n kans,” het ek daardie dag pleitend van die kansel af gemaan.

My ondersoekende blik het te ruste gekom op die leë oë van die vreemde boemelaar wat vlak voor my gesit het. Die erediens het verdaag en terwyl ek my preeknotas wegpak in die hoop dat dit iemand se hart vandag geraak het, kom die ontstellende nuus: ’n Vragmotor het die vreemde boemelaar reg voor die kerk morsdood gery! Met bewende hande om my Bybel geklem, het ek versteen gewonder: Het die arme boemelaar God ’n kans gegee?

Daardie somber Sondag was die laaste kans vir ’n soekende siel en ’n soekende God. “Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie …” – Hebreërs 3:7-8. Gee God net ’n kans!

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie


5 November 2020

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)