Onderhoud deur: Lourieke Haller

Ek is nie die baas nie, God is die baas. As dit eendag my lewe gaan kos, is dit maar so, maar as dit nie my lewe kos nie, gaan ek satan se koninkryk plunder tot ek doodgaan.

Gabriel Strydom wou as jong seun ’n professionele rugbyspeler word en het as tiener aan die Craven-week deelgeneem, as student vir die Pukke in die Varsity Cup gespeel en ook as flank vir die Luiperds uitgedraf in Curriebekerwedstryde. Hy was goed op pad om sy droom te verwesenlik toe hy tot bekering kom en voluit vir die Here begin lewe het. Hy het al in die Amasone en Sirië sendingwerk gedoen en waar hy gaan, gebeur dinge in die Gees. Ek het met hom gesels nadat hy en sy span op die Maties-kampus evangeliseer het en vir mense in kroeë gaan bid en bedien het.

Wat was van die hoogtepunte in jou rugbyloopbaan?
Die een was die Classic Clash in matriek toe ek die man of the match was en twee drieë gedruk het en die ander een die laaste wedstryd wat ek gespeel het; die Varsity Cup teen Tuks. Ek het die beste wedstryd van my lewe gehad.


Gabriel met die bal in die hand vir die Pukke se span teen Tukkies (2013)

Wat het rugby jou geleer?
Harde werk tel net as jy dit jare lank doen. Die beste rugbyspelers is nie die ouens wat die meeste talent het nie, dis die ouens wat die meeste talent het én jare lank, elke dag, die hardste werk. Tweedens het ek geleer om saam te werk. In ’n rugbyspan het jy nie ’n keuse nie. Binne die Christen-omgewing hoef almal dus nie jou beste vriend te wees nie, maar julle respekteer mekaar, want die Koning het ons almal geroep, ons is op dieselfde missie saam
met Hom.

Speel jy nog rugby?
Ek het sowat ’n maand nadat ek as 22-jarige tot bekering gekom het, opgehou rugby speel. In my lewe was dit ’n afgod, ek moes dit neerlê.

Waar is die lyn tussen gesonde liefde vir sport en waar sportprestasie jou identiteit word?
As tiener het ek “Winning is everything” op my kamermuur geverf. My ouers het my nooit gedruk nie, ek het dit aan myself gedoen. Om doelwitte te hê, is goed, maar iets het my hart verdraai. My identiteit het afgehang van hoe goed ek is, veral in rugby. Dít is wat die vyand doen, hy gee jou ’n vals identiteit. Dit kan kom deur jou eie ambisie, deur jou pa of ma se drome vir jou of dat jy wil bewys dat jy iets werd is. In enige spansport is die hele identiteitding baie moeiliker, want jy vind nie net jou identiteit in wie jy is nie, jy vind dit in die groep ook.

Hoe kan ouers verhoed dat dit met hulle kinders gebeur?
Kinders wíl by die groep ingesluit wees, want hulle glo as hulle saam met ’n sekere groep mense is, moet dit noodwendig beteken dat hulle ook soos daardie tipe mens is. Ouers se verantwoordelikheid is om identiteit in hulle kinders te bou en hulle kinders te leer wie hulle werklik is. Kinders moenie vasgevang word in ’n pseudo-identiteit wat sport of akademie of wat ook al jou ding is, kan wees nie.


BO: Gabriel saam met sy ouers, Anette en Renier Strydom

Jy kom uit ’n sterk Christen-huis, nie waar nie?
Ja! My eerste herinneringe van my pa is waar hy met sy hande in die lug in tale bid terwyl die trane oor sy wange loop. Ons kom uit ’n AGS-agtergrond. My oupa het in die AGS bedien. Ek het in ’n huis grootgeword waar ons die Here ken – dit was nie ’n formule nie – dit is ’n werklikheid.

Hoe het jý Jesus as jou Verlosser leer ken?
Ek het op my meisie se 21ste verjaardag amper ge-overdose op kokaïne. Deel van my stryd was dat ek die Here geken het, maar ek was soos die Fariseërs. Jesus was die heeltyd om hulle, hulle het Sy preke gehoor, hulle het genesings gesien, maar hulle het Hom nie geken nie. Ek het daardie aand op my bed gelê en gedink: Ek kan aangaan met die dwelms en doodgaan of ek kan my ouers vertel.
Eenkeer het ek en my ma oor die see uitgekyk en sy het vir my gevra: “Hoe ver kan jy sien?” Ek het gesê ek kan nie die einde sien nie. “Dit is hoe lief ek en jou pa vir jou is. Dit maak nie saak wat ooit gebeur nie, kom net eers huis toe,” het sy toe gesê. Daardie aand het ek haar woorde onthou.

Wat het daardie oggend gebeur?
Ek het vir my ma gesê: “Ek is in groot moeilikheid. Ek kan nie ophou met dwelms nie.” Sy het my net styf vasgedruk en gesê: “Ek is lief vir jou. Jy gaan dit maak.” Ek het gebreek en begin huil. Ek het die krag van onvoorwaardelike liefde ontdek. Op daardie oomblik was my ma en pa Jesus vir my. Hulle het my genade betoon wat ek nie verdien het nie. My pa – ’n groot man, my beste vriend en my hero – het een van sy massiewe hande op my bors gesit en ’n pappabeergebed met soveel gesag gebid. Iets het daardie aand van my af gelig.

Hoe het jou bekering jou lewe verander?
Twee weke later het ek vir die eerste keer by Gimmies my getuienis gedeel en 40 kinders het tot bekering gekom. ’n Paar van my vriende het ook na die Here toe gekom. Michelle, my meisie – wat nou my vrou is – het haar hart vir die Here gegee. Sy is grootgedoop en toe met die Heilige Gees gedoop. Ek het my beste vriend, FG Fouche, in die Picasso’s klub na die Here toe gelei. (Ons het saam rugby gespeel; hy was agsteman en ek was flank.) Hy speel van daardie dag af ’n baie groot rol in my lewe.

Ek was voorheen soos ‘n trein wat op sand probeer ry het. My wiele het gedraai, maar ek was nêrens heen op pad nie. Toe ek op die regte spore kom, het alles verander.

Is jy toe onmiddellik van die dwelms verlos?
Ek is onmiddellik verlos, maar ek het ses maande lank steeds oor dwelms gedroom en ses maande lank het die gedagte elke dag ’n duisend keer by my opgekom. Maar die Bybel sê waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. Voorheen kon ek nie nee sê nie, maar nou kon ek met Sy Heilige Gees in my, nee sê – al het ek presies dieselfde versoeking ervaar as voorheen.

Hoe het jy by sending betrokke geraak?
Toe ek tot bekering kom, het ek my agent gebel en gesê ek is klaar met rugby. (Direk daarna het ‘n ander provinsie my ’n groot kontrak aangebied – iets wat ek nog altyd graag wou hê). Ek het ’n dissipelskapskool (DTS) by Youth With A Mission (YWAM) in Wisconsin gaan doen. Hierdie is entlik ‘n hele ander gesprek wat ons moet hê, maar ek gaan probeer om dit in twee sinne vir jou op te som. My DTS, wat praktiese sendingwerk ingesluit het, was crazy. Ek is uit Moldowa gedeporteer, ek het by Sirië ingeglip, ek is deur Turkse grenspatrollies gejaag en ek het deur ’n landmynveld geglip.
Hierdie ervaring het “normaal” vir my geherdefinieer. Normaal is om die Here se stem te hoor en dit te gehoorsaam. En dis dit. Ek is nie die baas nie, God is die baas. As dit eendag my lewe gaan kos, is dit maar so, maar terwyl ek lewe, gaan ek satan se koninkryk plunder tot die dag dat ek doodgaan.


Die Fire & Fragrance-span tydens ’n Skool-van-evanagelisasie saam met Pickhard en Nadia Henn van Christ in Action Ministries

Jy het teruggekom om weer te studeer. Hoe het jy dié keer die studentelewe benader?
Ek het teruggekom om politieke wetenskap te studeer. Ek en FG het worship-aande in sy koskuiskamer begin. Ons grootste doelwit was en is steeds: How close can we get to God without dying. Ons het worship-musiek aangesit en saam God se aangesig gesoek. Later het ons meisies (wat nou ons vrouens is) by ons aangesluit en die worship-aande het net aanhou groei. Op ons grootste aand was daar 600 mense gewees. Ons het meer a 3 000 bekerings gesien in daardie drie jaar. Daar was sataniste wat ingestap het om ons te kom vervloek, maar dan word hulle gered. Dit was die eerste keer waar ek gesien het hoe mense deur die Gees aangeraak word sonder dat iemand vir hulle bid.

Hoe het jy vir Michelle ontmoet?
Ek en Michelle het twee en ’n half jaar lank uitgegaan toe ons nog ongered was. Ek het haar vlugtig langs die rugbyveld ontmoet, maar ons eerste ware ontmoeting was toe sy by Bourbons uitstap en ek sê: “Nee, ons gaan nog kuier.” Sy wou nie bly nie, toe tel ek haar letterlik op my skouer en stap met haar uit. Ons het daardie aand buite gesit en gesels tot halfsewe die volgende oggend. Sy het twee weke ná my tot bekering gekom. Ons het uitgemaak toe ek vir die eerste keer ’n jaar en ’n half lank sendingwerk gaan doen het. Ek het gedink ek gaan as sendeling in Iran of Afganistan êrens doodgaan. Ek het nie gedink ek gaan haar weer sien nie. Toe ek terugkom en haar weer sien, toe weet ek: Dis my vrou. Ons is op 25 Maart 2017 getroud. Sy is my beste vriendin. As die manne iets reël, vra ek of ek haar maar kan saambring – sy is my bestie!

Wat is die grootste bedreiging vir ware Christenskap?
Die eerste gevaar is ons vermoë om “kerkkultuur” te bemeester sonder dat ons harte verander word. Tweedens, oppervlakkige community (gemeenskapslewe). Ons bedien saam, ons gaan saam kerk en selgroep toe, maar niemand vra ooit hoe gaan dit met jou lewe, jou stiltetyd, jou huwelik nie. Ons het community wat gebou is op aktiwiteit, nie intimiteit met mekaar en God nie.

Wat doen julle? Waarby is julle betrokke?
Ons het in 2019 uit Amerika teruggekom om ’n tak van Fire & Fragrance Ministries in Suid-Afrika te begin met ’n span van agt Suid-Afrikaners en sestien ander lede uit Amerika en Brasilië. Die hoofbasis is in Kona, Hawaii. Ek lei saam met Eduard en Hannah Schoch en Allyson Tiglao. Ons hoofdoelwit is om ’n infrastruktuur vir herlewing te bou. Ons is nie die Hilton nie, ons is ’n Airbnb. Die Hilton bou groot geboue en sê: “Kom na ons toe.” Airbnb skep die moontlikheid vir verhoudingbou en verbind mense met mekaar. Dis wat ons wil doen. Ons het onlangs agt spanne uitgestuur: 86 mense na Nepal, die Midde-Ooste, Albanië, die Oekraïne, Namibië, Malawi en Etiopië.


Die foto is geneem tydens ’n uitreik in Moldova


Saam met ons gidse in die Colombiaanse Amasone, oppad na onbereikte stamme

Wat bied julle bediening voornemende studente?
Ons het vyf fokusareas. Gebed/aanbidding, evangelisasie, opleiding (dissipelskaps- en Bybelvertaalskole), ’n mediaskool en om Bybelarmoede te beëindig. Met die evangelisasiewerk lei ons CrossFit-afrigters op – ons het 35 ouens in die klas, vyf het onlangs in die klas hulle hart vir die Here gegee! Met die mediaskool wil ons help om God se storie oor Suid-Afrika en sy mense te herskryf.

Met die fokus op die Bybel wil ons ’n einde aan Bybelarmoede bring met Bybelvertalings, -verspreiding en -onderrig. In September sal ons die hub word vir een van die grootste Bybelvertalingskool in die wêreld. In Januarie begin ons nog ’n dissipelskapskool en ons bedryf ook ’n Revival en Reformation-skool: Dit behels drie maande Bybelskool, drie maande wêreldbeskouing en apologetiek en dan drie maande leierskapsontwikkeling. Dit is maar net ’n paar van die projekte waarby voornemende studente betrokke kan raak.

Waarvoor vertrou jy God, wat is Sy droom in jou hart vir die toekoms?
Om in Suid-Afrika, Afrika en die res van die wêreld ’n generasie van mense op te rig wat radikaal verlief is op Jesus, lief is vir mekaar en na die uithoeke van die aarde sal gaan met Sy liefde.


5 September 2021

 

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)
More quality content if you check those pages xxx; filme porno; xnxxfr.org; xxnxx; xvideosxnxx.org