Deur: Lucille May

Ek het eendag na ’n dokumentêre program oor die Nazi-oorlogsmisdadigers by die Nuremburg-verhoor gekyk. In ’n poging om te verstaan hoe enigiemand tot sulke gruweldade in staat was, het ’n Amerikaanse Jood die aangeklaagdes gedurende die Nuremberg-verhoor in hulle selle besoek om met elkeen van hulle ’n onderhoud te voer. Hy het tot die volgende slotsom gekom: “I think I now know what evil is – evil is the absence of empathy.” Ek het yskoud geword toe hy dit sê en het dit vyf keer teruggespeel om herhaaldelik weer na sy woorde te luister: “Evil is the absence of empathy.” Boosheid is die afwesigheid van empatie.

Wat beteken “oorwinnaar”?
Wanneer jy aan die woord “oorwinnaar” dink, wat kom by jou op? ’n Beeld van ’n soldaat, swaard in die hand, sy gesig bloedbesmeer en ’n rooi druppel bloed wat oor sy hand van sy middel-vinger af tot op die grond drup – ’n tipe Brave Heart-karakter?

Misplaaste heldeverering
Pas nou hierdie beeld by die Tweede Wêreld-oorlog aan en sien in jou geestesoog ’n man wat sy volk vol selfvertroue en geesdrif motiveer om die wêreld oor te neem. Fier en regop lewer hy sy opruiende toespraak met arms wat beduie, ’n waarskuwende vinger in die lug, vuur in die oë. En die troepe en ’n hele hoogs intelligente nasie hang aan sy lippe. Hulle dink: Wat ’n held, wat ’n leier, hy weet waarvoor hy staan, hy weet waarvan hy praat! Ons sal hom volg, ons sal doen wat hy van ons verlang. As ons hom volg, sal ons veilig wees en vooruitstrewend lewe! (“Ek glo vandag dat my optrede in ooreenstemming is met die wil van die almagtige Skepper.” – Adolf Hitler)

’n Heeltemal ander beeld van ’n oorwinnaar
Vergelyk dít met die beeld van Jesus. Bloed pêrel in ’n dun lagie op sy vel waar Hy in die tuin van Getsemane wroeg oor wat dit werklik beteken om te oorwín. Daar is bloed wanneer Hy as onskuldige gegesel word, bloed wanneer dit al die pad na Golgota van Sy lyf af drup terwyl Hy swygend Sy Kruis dra – ’n Lam op pad na die slagting. Nog bloed drup van Sy hande en voete af toe die spykers Hom aan die kruis vaskap.

Jesus identifiseer met ons
Hierdie is die belangrikste oomblik van Sy lewe, die grootste oorwinning ooit in die geskiedenis van die mensdom – die hoogste vorm van empatie: “Ek sal jou gevalle toestand betree. Ek sal die pyn van jou kinderdae en jeug oomblik vir oomblik beleef. Ek sal ervaar hoe dit voel om van kindsbeen af gebreinspoel te word om uiteindelik as volwassene, oortuig van die leuen, ’n god aan te hang wat nie bestaan nie. Ek sal die angs, die selfhaat van jare se mishandeling deur jou aardse pa wat vandag van jou ’n vroueslaner gemaak het, beleef. Ek sal ervaar hoe dit voel om so verwerp en bespot te word dat jy in jou pyn die beeld van God in jou menswees verloor het en soos ’n dier optree in jou haat teenoor al wat mens is. Ek sal sonde word. Ek sal die sonde ervaar en in hierdie plek van totale identifisering na my Vader uitroep: ‘Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!’”

Die Lam lê Sy lewe neer vir ons
Die ware Krygsman oorwin nie deur Sy groot krág nie, maar deur Sy natuur, Sy aard – die Lam wat kies om Sy lewe vir die ander skape neer te lê.

Word ware oorwinnaars
Moeilike tye in die een of ander vorm is deel van die menslike ervaring – ons kan dit nie vryspring nie. Hoe ons teenspoed of beproewing hanteer, sal bepaal of dit ons gaan platslaan of dat ons soos Christus as oorwinnaars uit die stryd tree. Werk ons saam met God te midde van die moeilike omstandighede, of skop ons daarteen in ’n vleeslike reaksie en blameer ander daarvoor? Bring die swaarkry selfregverdiging, vrees en selfbejammering in ons na vore, of laat ons toe dat nederigheid, geloof en empatie teenoor andere wat deur dieselfde pyn gaan in ons gestalte kry?
Afhangend van ons reaksie, sal ons “meer as oorwinnaars” word of deur ons omstandighede verslaan word.

Empatie in woord en daad
Wees bly saam met dié wat bly is, treur saam met dié wat treur. Die wêreld sal weet ons is Sy dissipels deur ons liefde vir mekaar …

LUCILLE MAY kan gekontak word by lucillemay@gmail.com Volg haar blog by lucillemay.net


19 April 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)