—deur Madeleen Visser

God is goed. Altyd. Ongeag die omstandighede. Wat ’n kosbare les wat droogte ons gesin geleer het.

Weens die voortslepende droogte in die Boesmanland word die dophou van weervoorspellings en weer die patroon van ons lewens, ook die onuitspreeklike teleurstellings as daar niks van kom nie. Die gesig van ’n verslae man wat uit die veld kom, bemoedigende woorde wat hol klink in jou eie ore … trane by die wasgoeddraad waar ’n honger ooi vir jou blêr. Twyfel, ongeloof en verwyt dwing kort-kort om jou hart in te sluip.

God skryf nie sprokies nie, maar lewens-reise. En Hy skryf dit nie, Hy loop dit saam met ons, net soos Hy saam met die Israeliete deur die woestyn getrek het. Ek glo nie net Hy voorsien nie, ek wéét. Hoeveel kere in dié tyd het my man uit ’n verdorde veld gekom en gesê ons gaan binnekort nie meer lammers hê om te bemark nie, en dan is daar maar weer …

Ons het geleer dat dit waarop jy fokus jou oorweldig. Praat en dink ons oor die droogte en die onsekere toekoms, is ons gou terneergedruk en verdwyn die lag uit ons huis. Praat en dink ons oor God se voor-siening en Sy goedheid, is ons vol hoop en kom die lag maklik.

Ons het geleer dat vrees vir die droogte en wat dit bring, erger as die droogte self is. Vrees is ongehoorsaamheid aan God, want dit begin by bekommernis. “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het” – Matteus 6:25-34.

Ek het geleer dat geloof wat nie getoets is nie, nie geloof is nie. “Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Hebreërs 11:1
Ons het geleer dat God waarlik goed is. In my binneste het ek ontdek dat ek die waarheid daarvan betwyfel het, “want dit reën dan nie”. Ek het ook ontdek dat ons boere God se seën aan reën meet. As dit reën, seën Hy ons, as dit nie reën nie, is Hy nie vir ons goed nie. Dit het droogte gekos om my te leer dat reën maar net één van God se maniere is om ons te seën. As dit nie vir die droogte was nie, het ek nooit die voorreg gehad om Sy ander seëninge te beleef en Sy onbeperkte goedheid raak te sien nie.

Ek het geleer dat ek nie waarlik na God smag nie. Dit het droogte gekos om iets van Dawid se uitroep te verstaan. “Soos ’n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!” – Psalm 42:2. Ek het ontdek dat ek koorsagtiger pleit vir reën as vir Sy koninkryk en werk. Die droogte het my hart blootgelê. En dit is goed.

Ek voel stommer en dommer oor droogte as ooit tevore, maar God het in ons harte getuienisse oor Sy goedheid, liefde, guns en versorging geskryf. Dit is nie ’n sprokie nie, maar ’n lewensreis langs onherbergsame paaie en deur woestyne na die Ewigheid. Nie alleen nie, maar saam met God binne-in my. So naby.

Ons gesin het Sý goedheid en trou persoonlik leer ken. Mag dit ons bybly, versterk en moed gee in hierdie onsekere en donker tye.

*(Verkorte brief)


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)