Deur Hermien van den Bergh

Die Bybelse eseltjie – waarop Jesus Christus Jerusalem triomfantelik binnegery het – se oorlewing word tans wêreldwyd bedreig. In China het die aanvraag na donkievelle skerp gestyg weens ’n groeiende middelklas en staatsondersteunde advertensies wat die voordele van donkievelle aan die publiek verkoop. Donkievelle word gekook om gelatien te produseer wat dan in ’n verskeidenheid produkte gebruik word – van tradisionele medisyne tot teenverouderingsmiddels. Die tragedie is dat as die slagting van donkies teen die huidige koers voortduur, hulle binne ’n baie kort tydjie op die lys van bedreigde spesies sal beland.

Krimpende donkiegetalle
’n Britse liefdadigheidsorganisasie, The Donkey Sanctuary, skat dat “die aanvraag uit China tot tien miljoen donkies per jaar kan bereik. Dit verteenwoordig byna ’n kwart van die wêreldwye donkiebevolking”. Suid-Afrika word ook geteiken om aan China se groot aanvraag na donkievelle te voldoen. Volgens Audrey Delsink van die Humane Society International, is die aantal donkievelle wat Suid-Afrika mag uitvoer veronderstel om tot 7 300 per jaar beperk te wees. “Maar,” het sy gesê, “’n eenvoudige Google-soektog onthul honderde Suid-Afrikaanse handelaars wat die uitvoer van donkievelle adverteer met ’n minimum bestelling van ’n paar honderd velle tot skeepsvraghouers vol.”

Vinnige geld – vinnige uitsterwing
Talle arm huishoudings gebruik die geleentheid om vinnig baie goeie geld te verdien, want die prys vir donkies het die hoogte ingeskiet weens die groot aanvraag na velle. Donkie-eienaars begin stadig maar seker besef dat die donkiebevolking besig is om uitgewis te word.

Christene moet opstaan!
Die behandeling van donkies in die algemeen is skokkend – voor asook wanneer hulle geslag word. In ons land het donkies dikwels nie voldoende skuiling, water en kos nie. Hulle word beseer omdat hulle oorbelaai word en word dikwels genadeloos geslaan sonder dat die wonde behandel word. In 2017 moes die Nasionale Dierebeskermingsvereniging 70 donkies van kant maak wat in ’n uiters slegte toestand op ’n plaas buite Bloemfontein ontdek is. Van die dragtige merries het hulle ongebore vullens geaborteer‚ terwyl honderde donkies in die Noord-Kaap onwettig met hamers doodgeslaan is en sommige selfs lewendig afgeslag is. Dit is ’n ondraaglike situasie wat dringend aandag benodig en waaraan iets daadwerklik gedoen moet word.

Bid, tree op, moenie stilbly nie
Wat kan ons hieromtrent doen? Ons moet oor hierdie situasie bid en die mishandeling van donkies en onwettige handel onmiddellik by die dierewelsyn en die polisie rapporteer wanneer ons dit opmerk. Skenk geld aan donkiewelsynsorganisasies soos die Eseltjiesrus Donkey Sanctuary naby McGregor of die Karoo Donkey Sanctuary naby Prins Albert. Neem aktief deel aan pogings om ons geliefde eseltjies te red. Bekom meer inligting en tree nou op.

Doen ’n skenking en help ons om mense te leer hoe om diere beter te behandel: WhatsApp “LOFU” na 060 070 2753.
Besoek ons webtuiste by www.lofunlimited.org vir almal wat belangstel om ons avonture as reisende sendelinge te volg.


8 Augustus 2021

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)