Deur: David Malherbe

“Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê:
‘Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.’
En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die
wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. Daarom,
omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees,
en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.” –Hebreërs 12:26-28

Miskien het jy vanoggend opgestaan en besef vandag is die begin van ’n nuwe hoofstuk in jou lewe. Miskien begin jy by ’n nuwe plek werk, miskien trek jy na ’n nuwe blyplek of land toe, miskien het jy die vorige dag gehoor dat jy jou werk verloor het. Hoe dit ook al sy, jy betree ’n nuwe, onbekende fase in jou lewe.
Op 26 Maart 2020 het ons almal ’n nuwe, onbekende fase van ons lewens betree. Niemand van ons het geweet wat om te verwag nie en selfs nou nog bly die vlakke van onsekerheid baie hoog. Waar jy elke dag opgestaan en met redelike sekerheid geweet het wat om te verwag, is daar skielik geen roetekaart of sekerheid meer nie.

Wakkerskudverandering
Volgens D.J. Levinson in Seasons of a Man’s Life, het die filosoof, Bertrand Russell (1872-1970), die volgende in sy outobiografie geskryf: “Die periode van 1910 tot 1914 (sy middeljare 38-42) was ’n tyd van oorgang. My lewe voor 1910 en my lewe ná 1914 was wêrelde uitmekaar. Ek het ’n proses van verjonging ondergaan tydens die oorlog. Dit mag vreemd klink dat die oorlog iemand sal opkikker, maar dit het my eintlik uit my vooroordele geskud en my opnuut laat nadink oor ’n aantal fundamentele vrae. Dit het my ook ’n nuwe soort aktiwiteit verskaf, aangesien ek nie die eentonigheid van my bestaan besef het nie.” Hoewel dit blyk dat sy “nuwe aktiwiteite” nie noodwendig goeie morele waardes weerspieël het nie, glo ek dat ’n wakkerskudverandering soos COVID-19 ons almal dalk ’n bietjie “uit ons vooroordele geskud en ons opnuut laat nadink het oor ’n aantal fundamentele vrae”.

Die Here wil groter dinge deur ons doen
Pas nadat die Israeliete deur die Jordaanrivier getrek het, het Josua as nuwe leier voor so ’n reuse-onsekerheid te staan gekom. Agter hulle het die Jordaanrivier weer sy walle oorstroom – omdraaikans was daar nie – en voor hulle het die groot stad Jerigo gelê “… gesluit en verskans teen die Israeliete; niemand het uitgegaan of ingekom nie” (Jos 6:1).

Die meeste van ons hou nie van sulke groot onsekerhede in ons lewens nie. Ons verkies die kalm waters waar ons met redelike sekerheid kan weet wat ons elke dag kan verwag. Maar miskien wil die Here groter dinge deur ons doen as wat ons tot dusver verwag het. Miskien was COVID net die wakkerskud wat ons nodig gehad het.

Glo weer soos ’n kind
Die sanger Jo Black sing in sy lied, “Skepe”:
’n Skip word in ’n hawe gebou.
’n Skip lyk in ‘n hawe baie mooi vir my en jou,
Maar dis nie waarvoor skepe gemaak word nie
Die storms en die winde sal waai
Hys jou seile hoog, want een of ander tyd moet die tyding draai.

Laat die kompas van jou siel weer jou hart bepaal.
Kry jou maste reg, haal die anker uit,
In die rigting van die suiderkruis.

Ons is gemaak om uit te gaan
Op die golwe van die diepste oseaan.
Ons vind ons rigting in die sterre en die helder maan.
Ons is gemaak in hoop se naam.
Ons is gemaak om uit te gaan.

Die lewe sal jou gooi en jou rondruk.
Soms voel dit of jy sink, maar jy moet net jou voete soos Petrus vind.
En dalk net weer glo soos ‘n kind.
Hou net koers, want soms kom die twyfel.
Dit gaan meer oor hoe jy opstaan en minder oor hoe jy struikel.
Moenie vrees as die waters rof raak nie.

Tel jou skouers op.
Voel jou hart weer klop.
Stuur jou skip nou deur die poorte.
Ons hoop is meer as net leë woorde.
Jy’s in beheer van jou bestemming.
Hoe jy daar uitkom is jou eie besluit.

(Liedjieskrywers: Johan Vorster /Christoph Kotze/Jo Engelbrecht)

Nooit te oud om nuut te begin dink nie
Miskien is dit nou die tyd om nuut te begin dink oor jou toekoms; miskien is dit tyd vir iets nuuts. “Ja, maar ek is te oud!” Abraham was 75 toe God hom geroep het om na ’n ander land te trek, Moses 80 toe God met hom uit die brandende bos gepraat het en Josua 85 toe hy as leier by Moses oorgeneem het. En op 85-jarige ouderdom staan Josua buite Jerigo en wonder hoe hulle te werk moet gaan om dié groot en versterkte stad in te neem. En op daardie oomblik toe “daar geen roetekaart of sekerheid” was nie, lees ons: “Toe hy sien, staan daar ’n man voor hom met ’n ontblote swaard in die hand. Josua het na hom toe gegaan en hom gevra: ‘Is u aan ons kant of aan ons vyande s’n?’ ‘Nee,’ sê die man, ‘ek is die aanvoerder van die leër van die Here. Daarom is ek hier.’” – Josua 5:13-14

Gee volle beheer aan God oor
Miskien is dit tyd vir ons om soos ’n Josua voor God te buig en te vra: “Wat wil U aan my, U dienaar, sê?” (Jos 5:14) of te vra: “Wat wil U hê moet ek doen?” Ons hou daarvan om in beheer van ons eie lewens te wees, maar dit is eers wanneer ons bereid is om die beheer aan God oor te gee dat Hy ons werklik kan gebruik. Die Here kan meer met ’n mens se lewe doen as wat ons met ons eie planne kan bereik.

En miskien is dit hoekom God toelaat dat ons “uit ons vooroordele geskud word en ons opnuut laat nadink oor ’n aantal fundamentele vrae”. Miskien doen die groot onsekerheid ons meer goed as wat ons dink. In Matteus 5:3 sê Jesus: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is” en Spreuke 3:5-7 sê: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is: dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam.”

DAVID MALHERBE is ’n sake- en loopbaankonsultant, spreker en skrywer. Kontak hom via sy webblad by jedidiah.org.za en teken ook op sy gereelde nuusbrief in.


4 Junie 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)