Deur: Werner Joubert

Ek gaan vandag Lukas 15 gebruik en gereeld na die Vader en die verlore seun verwys. En met “seun” beteken dit seuns én dogters van God. Dit is ook belangrik om te weet dat mans – asook vrouens – geroep word om die vaderhart van God uit te beeld.

God het ’n vaderhart
Toe die dissipels vir Jesus vra hoe hulle moet bid, het Jesus hulle geleer om met God as “ons Vader” te praat (Matt 6:9). Wanneer ons God saam met ander gelowiges dien, ervaar ons ook hierdie “vaderhart” van God in ons midde, waar Hy ons met Sy liefde versorg. Dit is nie altyd ouderdomverwant nie, ouer mense moet ook Sy vaderhart ontdek. God is altyd besig om leiers op te rig om Sy vaderhart uit te beeld vir jong gelowiges.

Twee beelde uit Lukas
In Lukas 15:11-32 vertel Jesus ’n gelykenis van ’n pa met sy twee seuns. In die verhaal beeld Jesus die vaderhart van God uit. Hy gebruik die pa in die storie as ’n beeld van ons hemelse Vader.

Die jongste seun se sonde was uiterlik sigbaar. Hy het weggeloop van sy gesin af. Hy het die pa in die skande gesteek deur vir sy erfporsie te vra (terwyl sy pa nog lewe) en toe sy lewe verder op te mors met losbandige keuses. Dit is baie belangrik om te let op hoe die pa sy “sondige” seun terug verwelkom het. Hy het seun tegemoet gehardloop, hom omhels en gesoen. Die jongman is ingenooi en het weer as seun in die huis gewoon. Die pa was baie bly om sy seun terug te hê.

’n Vaderhart vol genade
Die eerste beeld waarmee ek geestelike vaders vandag bemoedig, is dat sondige seuns nodig het om in hul sondige toestand omhels te word sodat hul hoop kan hê om dan te groei en meer soos hul Vader te word. God het my ook in my sonde gevind (Rom 5:8). God die Vader is gereed om na sondaars toe te hardloop. Hy soek dissipels wat ook bereid is om verlore kinders tegemoet te hardloop. Hulle is die oes. Hierdie gelykenis sê nie dat dissipline nie belangrik is nie. Nee, die punt is net dat ’n vaderhart vol genade die begin van alles is.

Eiegeregtigheid staan die vaderhart van God teen
Tweedens, toe die pa sy hart vir sy verlore seun oopmaak, het die ouer seun kwaad geword. Hy het sy pa se besluit gekritiseer. Dit is belangrik om daarop te let dat ’n gees van “eiegeregtigheid” die die vaderhart van God teenstaan. ’n Gees van “eiegeregtigheid” hou nie daarvan as iemand iets kry wat hulle nie verdien nie. Die probleem is dat die hele Evangelie op genade gegrond is. Dit beteken mense ontvang juis dít wat hulle nie verdien nie – vergifnis van sonde.

Gee onverdiende liefde
My bemoediging vandag is dus: 1) Hardloop uit na die verlore mense daarbuite, en 2) gee hulle die liefde wat hulle nie verdien nie. Dít is wat ons Vader vir jou gedoen het.

WERNER JOUBERT is die pastoor van Shofar Secunda. Kontak hom by secunda@shofaronline.org

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

11 Julie 2020

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)