Vanaf die ontstaan van ons bediening in 1993 is dit my mening dat die kerk ’n positiewe bydrae moet lewer en ’n uitwerking in die gemeenskap moet hê. Ek het Kingdom Reign Ministries in die smeltkroes van armoede en huishoudelike en bendegeweld in Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte geplant. ’n Mens kon die pyn en lyding van die gemeenskap in die mense se oë sien. Baie van hulle het hoop op ’n beter lewe en toekoms verloor. Die gemeenskap is deur bendegeweld, moord, verkragtings en diefstal gevange gehou. Begrafnisse was ’n daaglikse verskynsel. Selfs die polisie en weermag kon nie hond haar-af maak nie. Die kerk was afwesig, met die gevolg dat die kollektiewe gewete van die gemeenskap wanfunksioneel geraak het – die onderskeid tussen reg en verkeerd het verlore gegaan.

‘Kerk’ moes op ’n ‘ongewone’ manier aangepak word
Ek het besef dat iets daadwerklik gedoen moes word; “kerk” moes op ’n “ongewone” manier aangepak word. Die kerk se deure is letterlik gesluit en ons het direk met die gemeenskap in aanraking gekom. Die “preekstoel” was in die middel van die gemeenskap en ons het ’n boodskap van vrede en ware lewe verkondig.

Vrede en versoening
Ek is later deur bendeleiers genader om as middelaar tussen hulle en die mededingende bendes op te tree; ook om vrede te help bewerkstellig deur ’n skietstilstand. Die resultaat was dat talle bendelede, moeilikheidmakers en honderde gemeenskapslede in die kerk opgeëindig het. Ons is later terug na die gemeenskap met ’n vrede-en-versoeningsveldtog. Die gewese bendelede het die geleentheid gekry om hulle met die gemeenskap en mededingende bendes te versoen en hulle tot vrede en bestendigheid te verbind. Huishoudelike, straat- en bendegeweld het skerp afgeneem. Kinders kon terugkeer na die speelgronde en essensiële dienste kon weer onverstoord voortgaan.

Die kerk bied praktiese oplossings
Hierdie veranderde mense het nou in die kerk gesit en antwoorde vir hul materiële behoeftes gesoek. Nuwe uitdagings het ons organisasie in die gesig gestaar: werkloosheid en armoede. ’n Misdaadbekampingsveldtog beteken niks sonder ’n program vir armoedeverligting nie. Jou boodskap is irrelevant en jy verloor jou waarde in die oë van die gemeenskap as daar nie daadwerklike oplossings vir die uitdagings is nie.

Ons het met mikrobesighede begin waar individue genoeg geld kon maak om hulle gesinne te onderhou. Sommige het hul besighede verder ontwikkel en kon werk aan ander werkloses verskaf of hulle vaardighede aan ander oordra. Ons het voortdurend vir nuwe besigheidsidees en inisiatiewe gebid.

Prysgeld teruggeploeg in die gemeenskap
Kort voor lank het ons gemeenskapswerk die aandag van die plaaslike polisiekommissaris, politici en die media getrek. Ek het namens ons organisasie Huisgenoot en Drum se prys vir die nasionale Helde-teen-misdaad-kompetisie ontvang vir ons betrokkenheid in die bekamping van misdaad. Ons het die prysgeld gebruik om ’n soliede besigheidsinfrastruktuur te bou sodat ons meer werk kon verskaf. Winsbejag was nooit deel van ons doelwit nie, ons wou slegs ons gemeenskap dien. Honderde families word vandag deur hierdie besighede gevoed. Baie skoolverlaters is ook terug skool toe en ander kon hulle tersiêre opleiding voltooi.

Vandag is opleiding en ontwikkeling ’n intregrale deel van ons bediening. Ons sien ’n toename in entrepreneurs, gegradueerdes, geestelike en gemeenskapsleiers, beroepslui en
soveel meer.

Holistiese benadering
Ons het ’n holistiese benadering tot die kerk omdat ons elke gemeentelid en ons gemeenskap geestelik, intellektueel, liggaamlik en sosiaal bedien. Die kerk het dus ’n groot rol om te speel om transformasie in die samelewing teweeg
te bring.

PASTOOR GORDON EN TINA CLAASEN is senior pastoor en stigter van Kingdom Reign Ministries. Hy bied byeenkomste aan om leiers met die Woord toe te rus. Kontak hom by info@kingdomreign.co.za of office@kingdomreignministries.co.za


8 Augustus 2021

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)