-deur Johan Jacobs

Wat is die goedkoopste, maar belangrikste aspek waarop jy kan fokus om jou gesondheid te verbeter? Dit is jou slaap en is in werklikheid gratis! Ek nooi jou om vanjaar doelbewus te slaap vir beter gesondheid, ’n beter gemoedstoestand, produktiwiteit, ens.

Slegte slaap beïnvloed jou gesondheid
Slegte slaapgewoontes veroorsaak baie probleme, maar kan veral die gesondheid van jou brein en jou algehele produktiwiteit in die gedrang bring. My raad is dat jy vanjaar deurlopend en doelbewus sorg dat jy genoeg slaap, maar ook dat jy die kwaliteit van jou slaap verbeter.

Slaap is belangriker as oefening en voldoende voeding
’n Gerespekteerde gesag oor gesondheid, dr. Mark Hyman MD, ’n Amerikaanse geneesheer, topverkoper-outeur en stigter van The Broken Brain Series, skryf: “Wat is die gesondheids-onderwerp wat die meeste onderskat word en waaraan miljoene van ons ons nie juis steur nie? Dit is belangriker as oefening. Dit is belangriker as aanvullings. Dit is selfs belangriker as voldoende voeding! Dit kan jou gelukkiger en slanker maak, jou libido verhoog en jou hormone help balanseer. Ek praat van slaap. Ons slaap een derde van ons lewens en tog skeep die meeste van my pasiënte en selfs vriende en familie slaap af. In hierdie moderne, oorgekafeïeneerde en oorspanne wêreld ruim ons tyd vir alles in, behalwe vir die diep rus wat ons liggaam verdien en benodig. Het jy geweet dat ’n gebrek aan diep slaap tot insulienweerstandigheid kan lei? Swak gehalte slaap word met kardiovaskulêre siektes, neurologiese afwykings en selfs ’n korter lewensverwagting geassosieer. Slaap behoort so natuurlik te wees, tog het ons so ver van ons liggaam se natuurlike ritmes wegbeweeg. Selfs mense wat snags meer as sewe uur lank slaap, voel bedags moeg en deur die mis. Ons weet nou dat slaap nie net oor kwantiteit gaan nie, maar ook oor kwaliteit.”

PRAKTIESE voorstelle en wenke vir ’n beter nagrus
Beplanning en dissipline is die sleutel vir die beste slaap en rus.
1. Reël en organiseer jou lewe, dagboek en huishouding sorgvuldig sodat daar voldoende tyd is om genoeg te kan slaap.
2. Dissiplineer jouself om op vasgestelde tye te slaap sodat jy jou optimale slaapritme kan inkry.
3. Onthou, die slaap voor middernag is van baie meer waarde as ná middernag. Herskeduleer jou lewe, gaan slaap vroeg en word liewer vroeër wakker.
4. Maak jou slaapkamer ’n plek waar jy uitsluitlik rus. Jy kan op ander plekke in die huis studeer, werk en speel.
5. Bly ’n uur voordat jy gaan slaap weg van toestelle en speletjies. Dit hou jou denke en onderbewussyn besig. Dit verhinder jou om af te skakel.
6. As jy met slapeloosheid sukkel, moet jy net een keer per dag kafeïeneerde drankies (koffie, tee en energiedrankies) drink en liefs net soggens.
7. Maak seker dat jou kamer snags donker genoeg is.
8. Geen elektroniese toestelle moet in of naby jou slaapkamer toegelaat word nie. Die toestelle stuur seine uit en die skerms van die toestelle straal byna almal ’n onnatuurlike blou lig uit wat die son naboots en die produksie van melatonien (die slaaphormoon) onderdruk. Hierdie elektroniese toestelle straal ook elektromagnetiese frekwensies uit wat jou liggaam en slaap kan ontwrig. Skakel die toestelle snags af en verwyder dit uit jou slaapkamer.
9. Jou Wi-Fi-roeteerder (router) moet daarom ook so ver as moontlik van jou slaapkamer af wees, of sit dit ’n halfuur voor slaaptyd af.
10. Sorg dat jou slaapkamer vars lug het, met voldoende suurstof en goeie ventilasie.
11. Maak seker dat daar geen muf of klammigheid in jou slaapkamer voorkom nie. Muf kan baie giftig wees en ’n onnodige las op jou immuunstelsel plaas.

Emosionele aspekte
1. Emosionele en geestelike vrede en gesondheid is die sleutel tot ’n goeie nagrus. Weet by wie jy rus en vrede vind. “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige … Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie … want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.” – Psalm 91 (OV)
2. Suiwer jou verhoudings! As daar gedurende die dag ’n probleem of wrywing was, maak seker dat jy ten minste ’n uur voordat jy gaan slaap, vrede gemaak het met jou geliefdes, of ten minste in jou binneste. Verseker dat daar nie meer woelinge in jou hart is nie.

Hoeveel slaap is genoeg?
Ons is almal verskillend. Ons moet probeer om na ons liggaam te luister en dit te verstaan ten opsigte van slaap en slaappatrone, want ons moet uitgerus voel wanneer ons wakker word.
Volwassenes: Afhangend van jou ouderdom, is 6 tot 8 uur slaap voldoende vir volwassenes.
Kinders: Kinders slaap natuurlik langer. Afhangend van hulle ouderdom is 8 tot 12 uur voldoende vir kinders.

Uitgerus en gereed
Ná ’n week of twee waar jy goeie slaapgewoontes begin volg het, behoort jy uitgerus en gereed vir die dag wakker te word.

Chroniese-moegheid-sindroom
As jy die bogenoemde wenke toegepas het, maar steeds moeg voel na ’n goeie nagrus, mag jy dalk iets anders onder lede hê. Dit kan dalk Chroniese-moegheid-sindroom (CMS) wees. Dit voel dan altyd of jy nooit genoeg kan slaap nie. Weet net dat daar hoop is. Jou liggaam is slegs vergiftig en wanneer die “wortel” van die probleem verwyder word, sal jy herstel en weer die dag vol energie kan begin.

Vir meer inligting oor my getuienis en die gevare van orale patologie en wortelkanaalbehandelde, dooie tande, skandeer die QR-kode, wat jou na die artikels op GO Natural se webtuiste sal neem. Die oplossing word baie mooi in my boek bespreek by “Johan’s Recovery Protocol”. Pas dit toe en kontak my gerus vir raad.


Go Natural bied “For the love of true food”-seminare en werkswinkels aan.
Woon dit gerus by en bemagtig jouself met inligting en die vaardighede om beheer te neem van julle gesondheid as gesin.

Skandeer hierdie QR-kode om meer uit te vind oor die gevare van orale patologie.


JOHAN JACOBS is beskikbaar as gasspreker of vir konsultasies, kontak hom by johan@gonatural.co.za


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)