Deur: Stephan Joubert

Ek kan nie wag dat alles weer na normaal terugkeer nie,” skryf iemand op ’n blog. Hier is ’n nuusflits: Die enigste “normaal” wat ons in die nabye toekoms sal sien, is daardie verstelling op ons wasmasjiene. Die aktrise, Whoopi Goldberg, het juis gesê: “Normal is nothing more than a cycle on a washing machine.” Ons wêreld het onherroeplik verander. COVID-19 het dit virus-alleen reggekry.

Die nuwe werklikheid
Digitaliteit is nou deel van ons elkeen se nuwe werklikheid. Vroeër was die internet vir baie mense slegs ’n informasiehoofweg. Besighede, opleidingsinstellings, kerke en vermaak het egter nou hierheen geïmmigreer. Dit het nou regtig in sosiale media verander waar enigiets vanaf werk, ontspanning, godsdiens, kuier tot studie gebeur.

Ingeval jy gedink het dit is nie so omvattend of ingrypend nie: Hootsuite, ’n sosialemediaplatform, het bevind daar was wêreldwyd ’n 7% toename in internasionale internetgebruik tussen April 1919 en April 2020, asook ’n 8,7% toename in gebruikers van sosiale media.

As jy dalk van mening is dat Suid-Afrika nog nie daar is nie: Navorsing van Qwerty in 2018 oor plaaslike digitale groei het toe reeds bevind dat 28,6 miljoen mense die internet gereeld gebruik, waarvan 78% dit met hulle selfone doen. ’n Navorsingstudie van Hootsuite het in 2019 bevind die tipiese Suid Afrikaanse internetgebruiker is 8 uur 23 minute per dag aanlyn. ’n Nuwe navorsingstudie aan die begin van 2020 het uitgewys dat 71,4% Suid-Afrikaners digitaal aktief is. Die koronatyd het die sekerlik nog verder laat styg.

Kerkwees verskuif aanlyn
Die beoefening van ons geloof het ook toenemend digitaal geraak. Derduisende gelowiges en gemeentes is skielik aanlyn. Moenie dink dit is slegs ’n “pouse” totdat die virus oor en verby is nie; dit is ’n “hersetting” (reset).

Die belangrikste kopskuif
Digitale ruimtes is nie maar net die een of ander geestelike pleister totdat kerke weer hul deur oopmaak nie. Ja, ons almal mis sosiale nabyheid op Sondae. Ons mis al die saamwees, saamsing en saamluister na die Here se Woord. Ons is immers vir verhoudings geskape. Maar ons moenie sosiale behoeftes met diens aan die Here verwar nie. Ja, dit is reg en noodsaaklik om kerk toe te gaan. Maar as dit ons vernaamste godsdienstige vooruitsig is om postkorona weer saam met ander gelowiges in eredienste te sit, dan kort ons dringend ’n beter begrip van kerkwees.

Alle basiese elemente van geloof, insluitende bekering, geloofsgroei, geloofopbou, gebed en hulpverlening kan los van gebou-gedrewe byeenkomste gebeur. Dit kan digitaal gebeur. En dit gebeur inderdaad so! Trouens, dit is dalk die heel belangrike nuwe kopskuif wat ons in hierdie dae moet maak.

Groter geestelike groei
Ek het self gedurende die afgelope vier maande groter geestelike groei en meer bekerings en geloofsgemeenskap waargeneem – ook by ons ekerk – as wat ek in die vorige dekade in plaaslike kerke beleef het. Oor die afgelope jare preek ek, sover ek kan, letterlik elke Sondag twee keer in verskillende denominasies en gemeentes. Ook was daar weekliks gemiddeld twee tot drie Bybelskole of toerustinggesprekke gehou. Maar gedurende al hierdie jare het ek nog nie so iets op die geloofsfront beleef soos tans nie. Kerkleiers uit verskillende oorde vertel my dat meer mense as ooit by hul dienste inskakel.

Die kerk steek hand uit en help
Ook het kerke se hulp aan mense wat in nood is, toegeneem. Om een of twee voorbeelde te noem: Ek weet Mosaïek Gemeente in Johannesburg en Kerksondermure Gemeente in Pretoria tans tussen 12 000 tot 15 000 etes per dag aan armes verskaf. Ook Moreletapark Gemeente se hart is om kos en klere vir die plakkerskamp langs hulle, en vir ander hulpbehoewendes, te verskaf.

God vermag wat ons nie voorheen kon regkry nie
Terwyl ek in Britse koerante lees hoe een uit elke vier Britte in April 2020 aanlyn by internetkerkdienste ingeskakel het, juig ek. God gebruik hierdie pandemie as ’n tyd van redding en geloofopbou. Orals sien, hoor en ervaar ek hoe die Vader Sy verlore kinders opsoek op maniere wat ons saamwees, prediking, aanbidding en Sondagkerkhou nie in die voorafgaande jare kon regkry nie.

Ontgin die nuwe platforms as kerk
Ons sal moet leer hoe om mekaar in die toekoms ook met behulp van sosiale media-platforms geestelik te versorg en te bemoedig. Ons enigste oplossing is nie geleë in “oop kerkgeboue” nie. Op nuwe platforms moet ons die Woord beter leer ken; vir mekaar bid, omgee en saam kuier. Ons moet digitale huisbesoek en evangelisasie baasraak. O ja, en ons nuwe vrygewigheid moet ook insluit om data te verskaf aan mense wat dit nie kan bekostig nie. En om gelowiges se oë oop te maak vir die feit dat God ook aanlyn is. Hy is orals, maar Hy is vir seker ook hier!

PROF. STEPHAN JOUBERT is die stigter van ekerk en hoogleraar in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, die Noordwes-Universiteit en die Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland. Vir meer inligting: ekerk.org of info@ekerk.org

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

8 Augustus 2020

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)