—deur Riekert Botha

“Salig is die wat arm van gees is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
Salig is die wat treur,
want hulle sal vertroos word.
Salig is die sagmoediges,
want hulle sal die aarde beërwe.
Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid,
want hulle sal versadig word.
Salig is die barmhartiges,
want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
Salig is die wat rein van hart is,
want hulle sal God sien.
Salig is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.
Salig is die wat vervolg word ter wille
van die geregtigheid,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”
– Matteus 5:3-10

Daar is ’n paar dinge wat waar is van alle mense. Een daarvan is dat alle mense liefgehê wil wees. Dit is ’n inherente behoefte en begeerte, selfs by mense wat deurgeloop het onder die sonde van hierdie wêreld en so in hulle siele en psige verwronge is dat hulle klipharte het. Baie diep onder daardie harde kors is daar iets wat op liefde reageer.

Daar is iets in ons wat na die innigheid van God verlang. Die rede hoekom dit deur die bank vir alle mense waar is, is omdat God ons so geskape het. Ons het almal ’n behoefte om liefgehê te word en om lief te hê.

God is naby dié wat gebroke is
Die kosbare boodskap is dat die innigheid van God uitgegiet word op dié wat hulle wil voor Hom gebuig het. Dit word uitgestort op die lewens van hulle wat kwesbaar en weerloos is. Daar is die kosbaarste teksgedeeltes in die Ou Testament waar God die kant van die gebrokenes en die weerloses kies. Ek raai jou sterk aan om dit te gaan oplees.

Hoogmoed diskwalifiseer jou
Die innigheid van God is net beskikbaar vir dié wat hulleself voor Hom neerlê. Ek wil dit beklemtoon: hoogmoed en selfsugtigheid kom net voor die val. ’n Hoogmoedige, selfsugtige, selfgesentreerde persoon wat die gesag van God weerstaan, diskwalifiseer homself van die innigheid van God.

Arm van gees
Lees Matteus 5:3. Kyk na die manier waarop Hy weerlose, kwesbare mense tegemoet kom. “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Wat beteken dit om arm van gees te wees? Daar is ’n plek waar ’n mens uitkom waar jy gestroop is – en wanneer jy daar uitkom, is dit ’n geweldige deurbraak in jou lewe. Maar baie mense veg en baklei juis om nié daar uit te kom nie. Jou hart kan twee reaksies op ’n plek van gestrooptheid hê: Die een is om aan God oor te gee; die ander is om Hom net verder te weerstaan. Kom ons praat oor die eerste reaksie en laat die ander een staan.

Om oor te gee aan God
Sommige mense sê dit was nie vir hulle moeilik om oor te gee nie, want hulle het in elk geval alles verloor. Die meeste mense se ervaring is egter anders. Hulle het dinge wat vir hulle waardevol is of waarde gee en wanneer hulle hoor dat alles aan God oorgegee moet word, voel hulle die prys is te hoog! Dit is ’n sotlike manier van dink, maar dit sit soos klitsgras aan ’n wolkombers in ons harte. In Sy genade bring die Here ons tot op ’n plek waar ons gestroop raak en dan besef ons: Dít wat ons gedog het ons het, het ons eintlik nooit gehad nie. Ons het absoluut niks nie. Ons besef dat oorgee toe nou nie so duur is nie. Oorgee is die behoud van ons lewens.

Gestrooptes het eiendomsreg in die Koninkryk
Jesus sê in vers drie “aan hulle behoort die koninkryk van God” – dié wat buig en neerval; die armes van gees, gestroop van hulleself. God se reaksie teenoor hierdie mense word ook onthul. Die eerste ding wat Jesus noem, is dat God hulle eiendomsreg gee.

Ek ken nie jou lewe nie, miskien het jy eiendom gehad en het jy dit verloor. Miskien het jy gedog jy het ’n pensioen en toe het jy dit nie meer nie. Dinge waarop jy staatgemaak het, is weg. Ek wil net vir jou sê, Petrus maak dit baie duidelik: In hierdie wêreld is ons vreemdelinge en bywoners. Ons reis net baie tydelik hier deur. Jy kan so arm soos ’n kerkmuis wees, van dag tot dag sukkel en wonder waar jou volgende maaltyd vandaan gaan kom, maar daar is iets wat jy moet weet. Dit is ’n baie, baie tydelike reëling in jou lewe, want dié wat hulle harte voor God gebuig het, ontvang eiendomsreg in die enigste standhoudende en ewige Koninkryk in die heelal. Eiendomsreg, want aan hulle behoort die Koninkryk van die hemele.

Gestrooptes sal vertroos word
Die tweede ding wat Jesus sê, is: “Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.” Is dit nie vir jou kosbaar nie? Ek dink wanneer ons oor gehoorsaamheid en onderdanigheid aan God praat, kry mense partykeer die idee dat God onpersoonlik en onbereikbaar hoog en verhewe is. Hy ís heilig, maar Hy is beslis nie ongevoelig nie, Hy is nie onbereikbaar en ongenaakbaar nie.

Dié wat voor Hom buig, dié wat hulle harte vir Hom oopmaak, ontvang iets ontsettend persoonlik en innig – Sy vertroosting. Om waarlik vertroos te word, moet die persoon wat jou troos, regtig jou hart aanraak. As Jesus sê dat God ons vertroos, beteken dit Hy kom ontmoet ons op ’n baie persoonlike vlak, selfs waar ons aan skerwe lê.

Daar is iets van Johannes 14:23 wat my nogal getref het: “Jesus antwoord hom: ‘As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’” Daar is soveel innigheid en intimiteit dat dit beslis nie ’n geval is van God wat ons van ’n afstand dophou nie. Ja, God is die Heerser van die heelal, maar die wonder is dat daardie groot God wat so heilig en almagtig is, tot op ’n vlak kom wat ek kan verstaan. Hy bedien my en vertroos my.

Die beloning van dié wat voor Hom buig
Jesus sê: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe … Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” Is dit nie geweldig nie? Weet jy wie God is en hoe Hy optree teenoor die mense wat voor Hom gebuig het? “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Die wat rein van hart is, sal God sien
Wat my opval van “salig is hulle wat rein van hart is, want hulle sal God sien”, is dat Jesus hierdie woorde rig aan Jode van 2 000 jaar gelede. Dit moes vir hulle ’n skokkende stelling gewees het, want die Jode het geweet: Niemand kon God sien sonder om te sterwe nie! Kyk byvoorbeeld na Gideon in Rigters 6. Hy kry hond se gedagtes dat dit God is wat nou aan hom verskyn het en is bevrees dat hy gaan sterf, wetende dat niemand God kan sien en bly leef nie. God moet hom eers gerusstel: “Wees gerus! Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!” – Rigters 6:23. Johannes skryf: “Niemand het God ooit gesien nie” – Johannes 1:18. Jesus kom egter en sê dat dié wat rein van hart is, God sal sien. Dit is skokkend om te hoor, maar wanneer dit insink, besef jy watter voorreg dit is.

Die plek van gebrokenheid
As ’n mens jouself toelaat om die gedeelte in Matteus 5 rustig te lees en te begryp wat Jesus sê, verstaan jy ook hoe verwaand dit vir iemand is om aanspraak te maak op die intimiteit van God terwyl hy weier om sy hart voor God te buig. Maar wanneer jy sonder slimstories by die plek uitgekom het waar jy gestroop en geboë voor God staan, is dit die plek waar jy die heerlikheid, innigheid en krag van God belewe – hoewel dit in teenstelling vir die natuurlike en die vleeslike mens die plek van absolute verskrikking is. Dit is al waarheen die Heilige Gees jou wil lei, na ’n plek van gebrokenheid, maar van ontsaglike innigheid.

Probeer jy daardie plek vermy?
Ek dink dit is belangrik dat jy jou eie hart ondersoek en vra of dit op hierdie oomblik is wat aangaan in jou lewe? Kan dit wees dat jy gedreineer voel juis omdat jy so hard baklei om die plek te vermy waarheen die Heilige Gees met jou op pad is, want die laaste ding waarvoor jy kans sien, is die gestrooptheid en gebrokenheid?

Weet jy nie wat die erfdeel is van iemand wat dáár is nie? Dit is om iets te beleef wat selfs die heilige engele van God nie kan beleef nie – die innigheid van God op ’n persoonlike vlak. Daar is niks in enige literatuur of in enige wêreldbeskouing wat naby aan die gedagtes kom wat Jesus in Matteus 5 aanroer nie.

Die plek van innigheid
Laat toe dat die Heilige Gees jou neem. Kom by daardie plek uit, Hy wil jou hand vat. Laat toe dat Hy jou soontoe neem. Dit lyk dalk vir jou vreeslik skrikwekkend waarheen Hy met jou op pad is en jy skop en skree – of voel jy wil skop en skree as jy dit nie reeds doen nie. Maar jy kan Hom vertrou. Hy is die Gees van God se heiligheid. Hy wil jou neem na die plek van innigheid.

Jesus se bediening
Jesus sê vir die Jode dat Sy bediening van so ’n aard is dat hulle God sal kan sien sonder dat dit verby sal wees met hulle. Die bediening en innigheid van God bewerk deur die Seun reinheid in my lewe; om voor God te staan en Hom te kan beleef: persoonlik, intiem en innig sonder die vrees van die verwoesting wat normaalweg daarmee gepaard sou gaan. Hy verwyder die onreinheid en ongeregtigheid in my lewe. Dit kon nog nooit voorheen gebeur nie. Geen offer, ongeag hoe groot of hoe klein, kon mense ooit reinig nie, maar Jesus doen dit.

RIEKERT BOTHA is ’n leraar, outeur en gasspreker. Hy is te sien op RoepTV en hy en sy vrou Pippa, bied berading deur hul bediening, L’Abri, wat mense ook vir ’n paar dae kan ontvang. Besoek gerus sy webblad riekertbotha.co.za of sy Woordskool, Vita Dei, op YouTube


16 Mei 2022

 

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)
More quality content if you check those pages xxx; filme porno; xnxxfr.org; xxnxx; xvideosxnxx.org