Deur: David Parsons

Teen hierdie tyd is almal op aarde op die een of ander manier deur die koronapandemie geraak. Met die toenemende aantal infeksies, sterftegetalle wat steeds styg en aandelemarkte wat in duie stort, bekommer mense hulle – nie net oor die virus nie, maar ook of hulle hul werk, hul pensioene en miskien selfs hul huise sal verloor.

Mense is op soek na antwoorde
Hoe het hierdie gesondheidskrisis ons so skielik en met sulke verwoestende gevolge getref? Hoe lank sal dit duur? Waar is God in hierdie wêreldkrisis? Kan dit ’n teken van die eindtye wees? Niemand weet wat die antwoorde op al hierdie vrae is nie, maar ek wil graag enkele belangrike profetiese insigte bied wat die sluier kan lig oor hoe en waarom dit gebeur het. Ek glo dat hierdie Bybelse verduidelikings by die geestelike kern van die huidige koronakrisis uitkom.

Kon ons hierdie uitbraak voorspel het?
Daar is ’n algemene gevoel dat niemand dit te wagte was nie. Dit is waar dat niemand die bedreiging van hierdie spesifieke virus, wat van hierdie spesifieke bron afkomstig is, vir hierdie spesifieke tyd, met hierdie spesifieke gevolge voorspel het nie. Daar was egter die afgelope paar jaar talle geloofwaardige stemme wat gewaarsku het oor pandemies wat kan uitbreek weens virusse wat van diere afkomstig is en ’n bedreiging vir mense inhou.
Toe ek byvoorbeeld navorsing gedoen het vir my boek, Floodgates, het ek ’n onlangse uitgawe van die Amerikaanse Inligtingsburo se Global Trends-publikasie teëgekom. Daarin is groot kommer uitgespreek oor sulke onbeheerbare pandemies. Voordat hy oorlede is, het die astrofisikus Stephen Hawking ook gesê een van sy grootste vrese is dat die mensdom eendag uitgewis kan word deur ’n patogeen wat van diere aan mense oorgedra sal word.

Pandemies oor die jare heen
Dit was maklik om hierdie voorspellings te maak, want pandemies het oor die afgelope honderd jaar redelik gereeld voorgekom. Die vreesaanjaendste voorbeeld was die Spaanse griepepidemie van 1918 tot 1919. Tussen 50 en 100 miljoen mense is daaraan dood – minstens vier keer meer as wat in die Eerste Wêreldoorlog gesterf het. Die oorsprong van hierdie virus was vermoedelik varke, of miskien pluimvee. Die Asiatiese griep van 1957 was ’n voëlgriep wat waarskynlik van eende afkomstig was. Die Hongkong-griep van 1968 tot 1969 word as ’n soort voëlgriep beskou. Meer onlangs het ons te doen gekry met die VIGS-virus, ebola, varkgriep en die vroeëre koronavirussoorte: MERS en SARS. Elkeen van hierdie siektes kon nagespoor word na ape, varke of vlermuise, en moontlik ook ander tussenganger gasheerdiere, voordat die siekte aan mense oorgedra is.

Op grond van hierdie eeu-lange geskiedenis behoort ons al die samesweringsteorieë – dat die COVID-19-virus doelbewus deur die Chinese of Amerikaanse weermag in ’n laboratorium geskep is – opsy te kan skuif. Ek is ook skepties oor die bewerings van die omgewingswetenskaplikes dat hierdie pandemies voorkom omdat die mensdom die natuurlike habitat van wilde diere vernietig het. Inteendeel, baie van hierdie virusse kom nie van wilde diere af nie.

Waarom versprei dieresiektes na die mens?
Dit is tans ook baie duidelik dat dieresiektes en kieme deesdae meer gereeld aan mense oorgedra word en wetenskaplikes en mediese navorsers is bekommerd dat hierdie virusse besig is om teen so ’n spoed sterker en meer weerstandig te word dat dit ons vermoë om dit te beveg, sal oorweldig. Die vraag is: waarom?

Ek glo die antwoord het ’n geestelike wortel. Dit is omdat die mensdom die skeidslyn wat God in die Skrif tussen die mens en die diere gevestig het, uitgevee het. Die beskouing is nou eerder dat die mensdom van diere afkomstig is. Die Bybel verklaar dat die mens ’n besonderse skepping van God is, een wat na Sy beeld geskape is. In die skepping is óns die naaste aan ons Skepper se beeld. Ons is van ’n hoër orde en is apart van die diere deur Hom geskape. Sedert die hoofstroomaanvaarding van die Darwinse evolusie, wat toevallig ongeveer 100 jaar gelede begin het, het ’n groot deel van die mensdom hierdie kernbeginsel van die Skrif laat vaar.
Ons ontken die bestaan ​​van God en onderrig net evolusie in ons skole. Ons het die skeidslyn tussen ons en die diere uitgevee en betaal nou die prys daarvoor. Ons moet dus nie verbaas wees as siektes wat in diere verskuil is, ons skielik teen ’n vreesaanjaende nuwe tempo begin siek maak nie.

Dra ons die skuld vir hierdie virus?
Dit behoort ons ook glad nie te verbaas dat die nuutste koronavirus in China ontstaan ​​het nie. Die Chinese kommunistiese regime was baie laks oor die regulering van wetenskaplike eksperimentering – veral met betrekking tot die eksperimentele aanpassing van menslike gene en die vermenging van menslike en diere-DNS. In Augustus verlede jaar – enkele maande voor die koronavirus uitgebreek het – was daar inderdaad verskeie verslae van ’n span wetenskaplikes in China wat ’n hibriede embrio van ’n mens-aap geskep het … ’n chimera.
Sulke dade is ’n ernstige skending van die natuurlike orde wat God ingestel het. Die geestelike gevolge is dat ons die portaal of poort vir dodelike dieresiektes om aan die mensdom oorgedra te word, al groter oopmaak.

Stem hierdie mening ooreen met wat die Bybel sê?
Die Bybelse grondslag vir hierdie beginsel word in die verhaal van Noag en die sondvloed gevind. Die verhaal is in Genesis 6 tot 9. Dit hou verband met die skeppingsverslag van Genesis 1, waar God na alles wat Hy geskape het (plante, diere, die mensdom) gekyk het en gesien het dat dit alles “goed” was. Nietemin sien ons in Genesis 6 dat die mensdom teen Hom in opstand kom.

Die mens het voortdurend net “slegte dinge bedink”, die aarde was “vol geweld”, en alle vlees was korrup. Die Here het dus besluit om die antieke wêreld met ’n wêreldwye vloed te oordeel. Tog het Hy 120 jaar lank gewag voordat hy die oordeel voltrek het. Hy het Sy getroue kneg Noag die kans gegee om ’n ark te bou om sy gesin en die diereryk te bewaar, en ook om die wêreld te waarsku teen die dreigende oordeel.

God bied ’n nuwe begin
Ná die sondvloed bied God die mensdom ’n nuwe begin. Sy verbond met Noag het die seisoene vasgelê, iets wat ons tot vandag toe nog geniet. Maar hierdie verbond het ook ’n reël ingesluit wat dikwels geïgnoreer word. In Genesis 9:3-6 sê God vir Noag dat die mens nou alles kan eet, selfs die diere, maar net nie vleis “met sy lewe in” nie – dit wil sê, nie vleis met bloed in nie. Nou maak dit vir ons sin omdat ons weet as jy bloederige vleis eet, jy ook dodelike siektes kan opdoen. Maar hierdie reël behels meer as net ’n wet oor wat jy mag eet. Die Here voeg by dat Hy rekenskap oor elke lewe sal eis – dit is die eerste keer in die Bybel dat hierdie belangrike beginsel voorkom. Die Skrifgedeelte verbied ook moord. Maar die reël gaan dieper en is gegrond op die begrip, Imago Dei – dat die mens ’n spesiale skepping van God is wat na Sy beeld geskape is.
Wat beteken dit vandag vir ons?

Basies beteken dit dat ons ’n duidelike lyn moet trek tussen ons en die diereryk. Die mensdom moet elke menslike lewe met waardigheid en respek behandel en ’n hoë siening van onsself, as die naaste verteenwoordigers van God se beeld in die skepping, handhaaf.
Adam het ook een reël ontvang. Hy kon van elke boom in die tuin eet, behalwe vir die een boom (Gen 2:16-17). Adam is ook gewaarsku oor die gevolge as hy die reël oortree – die dood het die wêreld binnegekom!

Wat gebeur as ons God se wette verbreek?
Wat gebeur as ons die een reël van die Noag-verbond oortree? Dit beteken dat God nie meer verbind is tot Sy kant van die verbond nie en dat Hy die aarde weer streng kan oordeel – net nie met vloedwaters nie. Dit is waarom Jesus gewaarsku het dat die tyd van Sy wederkoms “soos in die dae van Noag” gaan wees – Matteus 24:36-39.

Jesus verwys in sy profetiese waarskuwing na Jesaja 24. Dit voorspel ’n tyd wanneer die aarde verwoes en sy oppervlakte omgekeer sal word (v.1); die inwoners van die aarde sal verbrand word en min mense sal oorbly (v.6); die aarde sal in stukke breek en gewelddadig geskud word (v.19). Dit sal alles gebeur omdat die mensdom “die ewige verbond” verbreek het (v.5) – ’n verwysing na God se verbond met Noag (lees Genesis 9:16). Met ander woorde, Jesaja het ’n tyd voorspel wanneer die mensdom die een reël van die Noag-verbond gaan verontagsaam.

Jesus kom binnekort!
In my boek, Floodgates, voer ek aan dat die mensdom sedert die hoofstroomaanvaarding van die Darwinse evolusie die Noag-verbond verbreek het. Die evolusieleer is ’n direkte ommekeer van die goddelike oorsprong van die mens. Dit wis die skeidslyn tussen mens en dier uit en verklaar dat die mens van die dier afkomstig is. Die geestelike gevolge van hierdie skending van God se orde, is dat ons onsself toenemend kwesbaar gemaak het vir siektes wat in diere verskuil is. Hierdie pandemie is maar een van die vele geboortepyne – daar is baie ander oorsake – wat die wêreld die Messiaanse era sal binnelei.

Wie is in beheer?
Ons wêreld het Darwinisme ook gebruik om weg te doen met God en van enige morele verantwoordbaarheid teenoor Hom. Dit is dus onvermydelik dat die aanbidding, wat aan God as ons Skepper verskuldig is, op iets anders gerig sal word. Baie mense verhef die wetenskap en die menslike intellek tot die status van ’n afgod. Hulle glo dit kan die antwoord op enigiets bied. Eerder as om berou te hê en God te vra om hulle van die koronavirus se bedreiging te red, vertrou die wêreld grotendeels op die wetenskap en medisyne om hulle van hierdie plaag te red. Hulle hoop dat ’n mediese navorser betyds met ’n gepaste behandeling of entstof vorendag sal kom om hulle lewe, hul werk, hul pensioen en hul huis te red.

Die wetenskap sal nie die laaste sê hê nie, God sal
Ek hoop en bid dat God binnekort hierdie donker wolk van ons almal af sal lig. Maar selfs al sou dit nie gebeur nie, kan jy seker wees dat die wetenskap niemand van God se komende toorn sal kan red nie.

DAVID R. PARSONS is ’n skrywer, prokureur, joernalis en geordende predikant wat dien as visepresident en senior woordvoerder van die Internasionale Christen-Ambassade Jerusalem. Besoek za.icej.org vir meer inligting.

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

12 Julie 2020

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)