Deur: Lourieke Haller

Gary & Rhona Kieswetter: Vinnige feite
• Hulle is 39 jaar getroud (1982)
• Kinders: Timothy, getroud met Janet en Justine, getroud met Henry Pike
• Agt kleinkinders (almal dogtertjies!)
• 31 jaar al in die voltydse bediening
• Ná tien jaar bars die kerk uit sy nate – die meeste lidmate is Afrikaans
• Drie kerkdienste elke Sondag

Boeregasvryheid straal uit Gary en Rhona Kieswetter, geen wonder dat die koffiewinkel wat by hulle kerk is, Koffi Terapi genoem word nie! “Ons wil almal tuis laat voel en streef daarna om familie te wees. Almal wat by ons aansluit, sê gereeld vir ons: ‘Ons het ons familie gevind!’” vertel hulle.

Die skraal man met die dik bos wit hare het ’n liefde vir mense wat net oortref word deur sy groot liefde vir die Here: “Ek wil God aangenaam maak vir mense. Jy weet, Hy is onweerstaanbaar. Wanneer hulle Hom ontdek, kan hulle nie van Hom af wegbly nie.”

Twee en half ure later stap ek weg van ’n onderhoud wat ’n uur lank moes duur, want die getuienisse oor wonderwerke, genesing, woorde van kennis en profesieë borrel uit die twee. Die verhale klink soos dinge waarvan mens in die Bybel lees. Byvoorbeeld die een van die huurhuis …

‘Die Man daar bo moet jou baie liefhê’
Toe Gary-hulle na Pretoria verhuis om voltyds vir die Here te begin werk, het hulle op ’n Saterdagmiddag tien voor een by ’n eiendomsagent in Pretoria opgedaag op soek na ’n huis om te huur. Die agent het gelag toe hy hoor dat Gary:
a) net R1 600 wil betaal vir die huur en nie geld vir ’n deposito het nie,
b) dadelik wil intrek,
c) geen inkomste het nie en vir die Here werk.


Die kristalkandelare was ook ’n geskenk van die Here af. Hulle het al nege vir die prys van een gekry

Die agent het Gary inteendeel sommer die deur gewys, maar toe lui die telefoon.
“Ek het nog nooit iemand só skielik só bleek sien word nie,” lag Gary. “Die agent het die telefoon neergesit en gesê: ‘Die Man daar bo moet jou baie liefhê! Die vrou het my nou net gebel en gesê hulle soek dringend ’n man van God om hulle huis te huur. Hy hoef geen deposito te betaal nie, moet dadelik kan intrek en die huur is R1 600.’ God wat vooruit sien sal altyd voorsien,” sê Gary met ’n breë glimlag.

Dit is maar een van die talle verhale van God se voorsiening en bonatuurlike werking in hulle lewe. Geen wonder dat daar ’n boek in die pyplyn is nie.

Wie is die Kieswetters?
In 2011 het Gary en Rhona Die Bron, een van die gewilde charismatiese Afrikaanse kerke in Kaapstad, in die destydse Barnyard-teater saam met hulle dogter, Justine, en skoonseun, Henry Pike (as medeleraars) begin. Maar lank voordat Gary en Rhona hierdie interessante hoofstuk begin het, het dié twee met hulle reisende bediening, Groot is U trou, menige Suid-Afrikaanse dorpie (en stad) besoek en mense met die Woord en in die Gees bedien.

‘So sal jy weet wie jou vrou gaan wees’
Soos so baie dinge in die Kieswetters se lewe is hoe hulle ontmoet het, ook gehul in wonderwerke en die bonatuurlike. Dit klink soos ’n liefdesverhaal uit die Ou Testament soos ’n Isak en Rebekka of Rut en Boas.

Voordat Gary nog vir Rhona ontmoet het, het die Here hom ’n visioen van ’n skildery gewys van ’n vrou by die bad van Siloam in Israel. ‘Jy sal met die dogter van die vrou trou wat hierdie skildery geverf en in haar huis opgehang het,‘ het die Here vir Gary gesê. Min het hy geweet hoe spoedig hy daardie “naald” in ’n baie spesiale hooimied sou vind.
Die Here het Rhona se pa, dr. James le Roux van die Christelike Gereformeerde Kerk, in die 1970’s ’n kragtige gawe van genesing gegee. Mense het na sy kerk gestroom vir gebed. “Ek was ’n tiener en het soveel genesings sien gebeur. Ek onthou byvoorbeeld iemand wie se dun poliobeentjie deur die Here genees is. Daardie beentjie het elke week 1 cm dikker geword en ná ’n paar weke was dit normaal soos die ander been! My pa het elke Sondag ná die diens vir die siekes gebid. Sy kantoor was vol nekstutte en opgeboude skoene omdat mense dit nie meer nodig gehad het nie!” vertel Rhona.

Gary se ma, wat jare lank aan asma gelei het en net een long gehad het, is onmiddellik genees nadat dr. Le Roux ook vir haar gebid het. Gary (toe ’n 21-jarige Bybelskoolstudent) het daarna met orgideë in die hand by die Le Roux’s se huis opgedaag om dankie te sê. Hy moes vir die dominee wag en toe mev. Le Roux sien dat hy van haar skilderye in die sitkamer hou, het sy hom op ’n toer deur die huis geneem om die ander ook vir hom te wys. En daar in Rhona se kamer, bo haar bed, het die skildery van die visioen gehang! (Sy was toe 13.) Natuurlik is sy eers heelwat later hiervan vertel, maar die twee is vyf jaar later getroud.

Jou reaksie op God se roeping vir jou bepaal jou bestemming
Gehoorsaamheid loop soos ’n goue draad deur elkeen van hulle verhale. “As ek snuf in die neus kry dat God wil hê ek moet ’n spesifieke ding doen, doen ek dit dadelik, want die Here het my geleer: ‘Your response determines your destination,’” sê Gary. “Abraham het gegaan sonder om te weet waarheen hy op pad is. Die Here beveel; Hy vra nie en gee baie selde al die besonderhede, want dan sou nie een van ons gaan nie – dink byvoorbeeld wat Josef alles moes beleef!”


Die skildery wat Gary in die visioen gesien het. “Ons het in Israel by die tonnel van Hiskia op die einste plek as op die skildery gaan staan. Dit was baie spesiaal vir ons!”

Die Here se roeping en belofte vir hulle
Die Here het Gary destyds Jeremia 32:40-41 gegee as bevestiging van hulle voltydse roeping. “Ek het die Here gevra om ’n verbond met my te sluit dat Hy na my en my gesin sal omsien as ek voltyds vir Hom gaan werk. Ek het my Bybel oopgeslaan en gelees: ’Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie. En Ek sal My oor hulle verheug om aan hulle goed te doen; en Ek sal hulle duursaam in hierdie land plant, met my hele hart en met my hele siel.’ Die vrees van die Here het my oorval. Ek het met klere, skoene en al in die bed geklim en my kop toegetrek onder die kombers.”

’n Kosbare vriendskap tussen twee Woordliefhebbers
Hulle paaie het ook met dié van oom PD le Roux gekruis wat destyds die Woord in Aksie-kampe saam met Pierre Spies se pa begin het. “As oom PD gepraat het, was dit net Woord en dit het die Woord wat reeds in my was, laat opspring van opgewondenheid,” verduidelik Gary.

Rhona voeg by: “Vandat ek vir Gary ken, is hy altyd besig om die Woord te lees. Hy kan dit ure lank doen. As jy na hom soek, sal jy hom kry waar Hy die Bybel sit en lees.”
God het die twee Woordliefhebbers se harte ineengevleg. Gary het ’n jaar lank vir oom PD gedien en ook gereeld by die kampe gepreek. (Daaruit het hulle landswye bediening onder die boeregemeenskap begin.) Die Bron se Woordskool – Vat Woord – sinspeel juis op een van oom PD se gesegdes: “Die Woord is soos brandewyn, vat die Woord tot op ’n punt, dan vat dit jou.”

Gulhartige boere en God se voorsiening
Gary en Rhona het ’n baie sagte plekkie vir die boeregemeenskappe onder wie hulle jare lank bedien het en vertel hoe hulle spense altyd oorgeloop het, al het hulle nooit vir ’n sent gevra nie. “Ons moes ’n ekstra vrieskas koop en het altyd in oorvloed gehad om aan ander uit te deel, want waar ons ook al by die boere bedien het, het ons altyd weggery met ’n motor wat kreun onder die voorrade. ’n Boer kan mos nie net een sakkie aartappels gee nie, dit is tien. En dis nie net die vleis van een skaap nie, maar sommer twee.” Die Here was getrou aan Sy belofte.

So het hulle die land 22 jaar lank deurkruis en oral mense bedien – soms net tweetjies, soms groot groepe en meestal in die tradisionele kerke. Die honger was so groot dat die Kieswetters tot 18 maande vooruit bespreek was en wie honger was, het ’n ontmoeting met die lewende God gehad.

’n Woord, ’n droom en ’n nuwe seisoen
In 2007 het Gary en Rhona meer tyd in bediening in die Kaap bestee as by hulle eie huis in Pretoria en het hulle ernstig begin bid of hulle terug Kaap toe moet trek. Die Here het duidelik vir hulle gewys dat die seisoen en voorsiening vir die reisende bediening tot ’n einde gaan kom.

Die Here praat dikwels met Gary deur profetiese drome en visioene. In hierdie tyd het Gary gedroom dat hy in ’n restaurant met lang tafels sit (soos wat die Barnyard toe gehad het). Hy het koffie bestel, maar toe spring daar ’n Cape Moonie (klein silwer vissie) in sy leë koffiebeker. Hy het die kelnerin vir water gevra om die vissie te red en toe spring die vissie uit die beker water tot in een van vier vistenks wat op die tafel verskyn het. Die vissie het tussen die seewier verdwyn en kom toe met duisende ander vissies te voorskyn wat deur die glas na al die ander tenks swem. Die tenks het geblink van die silwer vissies en toe stroom almal uit na die Kaapse hawe en het vandaar oral heen versprei.

Vissers van mense
Die metafoor vir vissers van mense en siele is duidelik en in 2011 het hulle Die Bron begin – by die Barnyard-teater wat se restaurant reg rondom groot glas vensters gehad het. Nou het hulle vier geboue wat hulle huur en die “visse” word al hoe meer.

Drie van die geboue word gebruik vir ’n unieke kinderkerk waar kinders geleer word om van kleins af God se stem te hoor. Justine en haar span sien die herlewing onder kinders en Henry lei onder meer ook die aanbidding waar God se teenwoordigheid tasbaar is en nuwe, oorspronklike liedere geskryf word.

“Ons het geweet daar gaan so baie vis wees dat ons dit nie sal kan hanteer nie. Ons glo die beste lê nog voor,” vertel Rhona opgewonde. “Jare gelede het Jan de Wet se vrou ’n prentjie van ons gesien waar ons op die strand staan en visvang, eers net twee, maar gou-gou was die mandjie vol, toe ’n krat en toe ’n skeepshouer en toe sommer ’n visfabriek, want die vis stroom net in!

“Toe die gemeente weer ná die inperking bymekaar kon kom, was daar juis weer baie nuwe bekeerlinge en ’n tasbare uitstorting van die Gees op die gemeente. Die Here het mense sommer tydens die aanbidding genees. God is aan die beweeg en jy kan sien mense is honger vir meer van Hom!”

Die Here, die Bron van alles
Die Here het vir Rhona die naam, Die Bron, gegee. “Ons wou hê dit moet oor Hom gaan. Ons naam moes weerspieël dat Hy die fontein, die oorsprong van alles is, dit gaan nie oor ons nie,” vertel sy. “En toe sien ek hoe die Here die woorde skryf: Bring Revival On Now en ek besef, dit spel BRON!” voeg Gary by.


Rhona is ook kunstig en skilder graag. Hulle huis is vol van haar pragtige kunswerke

Die kultuur van die Hemel op aarde
Hy verduidelik: “Ons visie is gebou rondom herlewing – eintlik hervorming, want herlewing kom en gaan, maar hervorming bring blywende verandering. Hervorming verander die atmosfeer – die kultuur van die Hemel word die kultuur op aarde. Dit is waarheen ons op pad is. Ons wil sewe dae per week beskikbaar wees vir mense om bediening en opleiding te ontvang sodat die Liggaam die lewende Kerk in die gemeenskap kan wees.”

Die fontein van herlewing gaan oopgemaak word
Gary het onlangs ’n begrafnisdiens in Wellington gelei by die NG Kerk waar Andrew Murray se standbeeld is. Die Here het daar vir hom gesê: “Daar is ’n fontein van herlewing wat Ek 159 jaar gelede in die land oopgemaak het. Vormgodsdiens het dit met sand verstik, maar Ek gaan dit weer oopmaak.”

Gary glo vas dat God reeds besig is om Suid-Afrika weer te begin besoek met Sy teenwoordigheid – ons sien saam met hom uit na meer van die fontein van herlewing.

DIE BRON kan gekontak word op Facebook, YouTube en Instagram by diebronkerk of die webtuiste: www.diebron.co.za


27 Maart 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)