Deur: stephan Nieuwoudt

Ek het deur die draad geklim, die groen hawerland ingestap en langbeen op die rand gaan sit waar die sproeier spuit. Dit was Augustus 2017. Ek was so seer binne myself. Ek het vir die Here gesê: “Ek haat hierdie plaas; ek kan nie meer nie en ek gaan nie weer opstaan nie.” Ek het net daar gesit en die water dopgehou. Die volgende oomblik het Jesus by my kom sit en vir my gesê: “Kom! It will be an adventure!” Dit was die heel eerste keer dat Hy met my in Engels gepraat het. Hy het die woord gebruik omdat ek ’n ruk tevore vir Hom gesê het dat ek ’n adventure soek. Maar hoe het ek hier gekom waar ek platgeslaan, alles sou laat gaan om Jesus te volg in Sy roeping vir my?

Glad nie gered nie
Aan die einde van 2006 het my vrou Angus Buchan se boek, Faith like potatoes, vir my gegee. Ek het nie geweet waarvan oom Angus praat nie, maar ek het gehuil terwyl ek die boek gelees het. Ek was nog glad nie gered nie.

Die grond van my hart
Waarom het ek so gehuil? Omdat die Heilige Gees reeds begin het om die grond van my hart voor te berei. Aan die begin van Maart 2007 het ek op die stoep van ons plaashuis gesit – die wolke het oor my plaas, De Rots, gedryf sonder om ’n druppel te reën. Ons het in die Paul Roux-omgewing in die Oos Vrystaat geboer. Ek het daardie plantseisoen mielies geplant soos elke jaar vantevore, maar die oes was besig om te verdroog. Ek het nie gereeld gebid nie, maar toe het ek vir reën gebid.

Geen reën nie
Terwyl ek op die stoep sit en rum en Coke drink, vra ek vir Andri: “Is daar ’n God?” Ek was regtig kwaad. Hoe kan jy jou hele lewe lank kerk toe gaan, al die rituele gehoorsaam, elke preek deurworstel en dan stuur die Here nie die reën nie?

Ontmoeting by Mighty Men
Sowat ’n maand later het ek saam met drie vriende oom Angus se Mighty Men-konferensie op Shalom bygewoon. Ek het gegaan – met my sigarette en ses biere. Die drie wou heel voor gaan sit, maar ek het agter, op die buiterand van die tent, gesit. Daar was iéts in daardie tent wat ek nie geken het nie; wat ek graag wou hê! Almal het gaan sit, maar ek het bly staan. Jesus het toe reg voor my kom staan! Ek het vir Hom gesê: “Daar staan geskrywe waar twee of meer in U Naam vergader is, daar is U. Dan is U hier!” En toe het ek vir Hom gesê: “Jesus, ek het U nodig.” Op daardie oomblik is ek wedergebore.

Bekering behels verandering
Vandat ek teruggekom het van die “Mighty Men” Konferensie af, was daar onmiddellik ’n baie duidelike verandering in my en Andri se lewens. Ses-en-dertig jaar van my lewe het ek kerk toe gegaan en gedink ek behoort aan God, maar ek was op pad hel toe. Geen rituele van enige kerk kon my red en my ’n kind van God maak nie. Eers toe ek erken dat ek Jesus nodig het en Hom Here van my lewe maak, het ek Sy kind geword. Voor God is ons almal skuldig, want almal van ons doen sonde, maar wanneer jy Jesus vra om vir jou sondes in te staan, sal Hy dit doen.


22 Mei 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)