Deur dr. Elza Meyer

2021 het die potensiaal om wonderlike geleenthede te ontsluit óf vreesaanjaend voor ons uit te strek. 2020 het bewys dat ’n nuwe seisoen ’n mens onverhoeds kan verras. Niemand het ’n jaar gelede verwag dat COVID-19 so ’n radikale uitwerking op die normale gang van die lewe sou hê nie. Daarom moet ons wyer kyk en groter dink as wat ’n mens ooglopend kan sien of logies kan voorsien.

Wat lewe in jou hart as jy oor 2021 dink?
Miskien hou die nuwe jaar vir jou groot uitdagings in. Dawid is deur die uitdaging van ’n leeftyd in die gesig gestaar toe hy teen Goliat moes gaan veg. Die reus het hom beledig, omdat hy maar net ’n seun met ’n slingervel in die hand was wat ’n magtige kryger wou aandurf. Sy geloofsbelydenis tref ’n mens tussen die oë: “Jy kom na my toe met ’n swaard en ’n spies en ’n lans, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die magte van Israel.”

Betree die nuwe jaar met vrymoedigheid
Ons probleem is dat ons siening van God ons baie keer beperk. Die teoloog, A.W. Tozer, het met reg gesê: “What I believe about God is the most important thing about me.” Glo jy dat God vir jou sal opdaag? Glo jy dat Sy teenwoordigheid genoeg is? Indien ons soos Dawid begryp hoe groot ons God is, kan ons die nuwe jaar met vrymoedigheid betree.

Ons aanbid ’n God sonder beperkings
Met jou hand in die God van die Bybel se hand het jy niks te vrees nie. Hy het ons dae afgetel voordat hulle aangebreek het. Die lewensversekering wat God bied, bring volkome gemoedsrus. Hy is alomteenwoordig en al kan die arms van jou verstand nie Sy kosmos-skeppende grootheid omhels nie, is Hy die heeltyd naby jou.

Hoe beskryf ’n mens die grootheid van God?
Die skrywers van die Bybel het hulleself keer op keer afgevra hoe groot God nou eintlik is en elke keer besef dat hulle eintlik geen benul het hoe om Hom te beskryf nie. Hulle kon maar net vrae oor Sy grootheid vra.

Nadat God die Rooisee oopgekloof het, het Moses in ’n lofsang uitgeroep: “Wie van die gode kan met U vergelyk word, Here? Wie is so hoog en verheerlik soos U? Wie is so vreesaanjaend groot? Wie kan sulke wonders doen soos wat U laat gebeur?” – Eksodus 15:11 (NLV)

Jesaja het ook in hoofstuk 40:12-13 gevra: “Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met ‘n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met ‘n skaal die berge en die heuwels geweeg? Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees?”

God se groot liefde vir ons
Dis nie slegs God se omvangryke vermoë wat jou asem wegslaan nie. Sy liefde doen dieselfde: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” – Johannes 3:16

Ons Vader reken Christus se geregtigheid toe vir elkeen wat glo en vra slegs dat jy in opregtheid na Hom sal roep! Met die aanroep van Sy heilige Naam is God in jou midde!

Geen einde aan Sy reddingskrag nie
God se reddingskrag is onbeperk! Dawid het dit keer op keer beleef: Met die krag wat God hom gegee het, het hy ’n leeu en ’n beer doodgeslaan! In Psalm 18:30 getuig hy: “Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.” Die dissipels en skares het op soortgelyke wyse Jesus se reddingskrag beleef: ’n Woord uit ons Here se mond het die see verstil en Sy teenwoordigheid het genesing gedra! Daar is geen einde aan Sy reddingskrag nie! Hy wil en Hy sal jou ook uitred!

Ons aanbid ’n onmeetlike groot God
God se genade kan nie geweeg word nie en Sy vermoë kan nie gemeet word nie! Die God van wie ons praat, oorspan alle grense! Sy karakter is onberispelik en Sy trou duur van geslag tot geslag! Sy genade is sonder einde en Sy guns maak die onmoontlike moontlik!
Hierdie onoorwinlike, onpeilbare, onberekenbare magtige Wese is toeganklik vir weerloses en magtiges; vir kinders en oumense; vir vroue met stukkende harte en mans met waagmoed! Jy kan dit maar glo: Hy sal ook vir jou opdaag!

Wie in hierdie onpeilbare, onbeskryflike, onmeetbare, onoorwinlike God glo, kan 2021 met vrymoedigheid betree!

DR. ELZA MEYER is die stigter van Turn2God-bedieninge wat landwyd en internasionaal geloofsgemeenskappe oproep en toerus om hulle na God te wend. Kontak haar by elza@turn2god.co.za


18 Februarie 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)