Noudat twee groot evangeliste, naamlik Billy Graham en Reinhard Bonnke, onlangs oorlede is, is dit net natuurlik om op die uitkyk te wees na wie God ook so vreeslooS Sal Gehoorsaam En Die Fakkel In Die Volgende Geslag Sal Dra? Daniel Du Toit Is Só ’N Jong Man. Hy En Bea, Sy Vrou, se eerste afsprake (dates) was om mense saans in Langstraat van Jesus se liefde te vertel – al is dit snags juis een van Kaapstad se gevaarliker strate. As 21-jarige is daar reeds meer as 140 kerke in Suid-Afrika en Zambië wat in vennootskap staan met sy bediening, Take the Nations.

Wie is die beskeie jong man met ’n glimlag wat Jesus se liefde uitstraal?

V Jy kom uit ’n familie met ’n baie ryk sendinggeskiedenis. Vertel ons ’n bietjie van hulle.
Ek is die vierde geslag wat by sending betrokke is. My grootouers is die afgelope
50 jaar lank sendelinge in Zambië, Zimbabwe, Pakistan, Japan, die Oekraïne en Rusland. My oupagrootjie was die direkteur van Campus Crusade Suid-Afrika.

V Maar jy het aanvanklik ander planne gehad, nie waar nie?
Ek het professioneel tennis gespeel. Ek was as vyfjarige reeds lief vir tennis en het ’n aanleg daarvoor. Ek het as agtjarige aan die nasionale kompetisies begin deelneem en was naaswenner by van hulle. Ek het later ook tweede plek behaal by die Internasionale Junior Tenniskampioenskappe. Ek het ’n tyd lank in Amerika gaan woon en speel en was oortuig dat dít was wat ek vir die res van my lewe wou doen.

V Hoe het daardie lewenstyl jou beïnvloed?
Ek het van jongs af “gekuier” en baie partytjie gehou. Ek het nie in Jesus belanggestel nie. Toe ek 16 word, het ek aan depressie en angs begin ly. Ek het selfs my tennisafrigter weens my slegte houding verloor. In desperaatheid het ek my grootouers, wat in daardie stadium in die Oekraïne was, gebel. Hulle het my aangeraai om kerk toe te gaan. Toe ek by Life Church instap, het ek begin huil. Die Here se liefde het my oorweldig. Ek het huis toe gegaan en gebid: “Jesus, is U regtig daar? Ek wil U ken.” Daardie dag het alles verander. Al die angs en depressie het verdwyn en ek het nog nooit weer aan selfmoordgedagtes gely nie. Twee weke later het my oupa teruggevlieg na Suid-Afrika om my te kom doop.

V Hoe het dit jou lewe verander?
Ek wou almal van Jesus vertel. Op my tennis-toere het ek almal van Hom vertel. Ek het vir mense gebid – oral. Op die vliegtuig, in die winkels, ek het selfs vir iemand in die rolprent-teater gebid. Almal moet van Jesus weet!
Ek het vir Moslems vertel: “Jesus lewe en Hy het jou lief.” Ek kon nie stilbly oor Hom nie.
Een oggend het die Here my gevra: “Wat begeer jy meer – vir My, of jou tennistalent?”
Dit is toe dat ek alles oorgegee het.

V Het jy enige opleiding ontvang?
Ek het by Team Impact Christian University studeer en daarna het Christ for all Nations (CfaN) my aanvaar om na Reinhard Bonnke se School of Evangelism te gaan. Hulle aanvaar elke jaar 100 evangeliste vanoor die hele wêreld vir opleiding in Orlando, Florida.

V Hoe het jy in Zambië beland?
Op die laaste dag in Florida het die Here met my gepraat: “Gaan na Kitwe, in Zambië.”
Ek moes dit Google; ek het nie geweet waar dit was nie. Dit is in die noorde van Zambië, net onder die Kongo. Dit het op die Vrydag gebeur. Die Here het gesê ek moet Sondag vertrek. Ek het net $40 (± R700) in my beursie gehad en om Emirates se kaartjies te verander, is duur. Maar die Here het herhaal: “Kyk Sondag weer.” Sondag het dit my slegs $39,70 (R699,70) gekos om my kaartjie te verander!

Ek het nie geweet wat ek daar gaan doen nie en ek het niemand daar geken nie, maar ek het uitgevind van ‘n huis waar ek kon gaan bly. Op die aand van my aankoms, het ’n groep pastore aan die deur kom klop. Hulle het pas dertig dae van vas en gebed afgesluit, waar hulle die Here gevra het om ’n evangelis na hulle stad te stuur – spesifiek ’n evanglis van CfaN af.

Die Here het vir ons deure by die universiteite oopgemaak sodat ons die Evangelie daar kon verkondig. Ek het elke dag in kerke gepreek. Ons het vir genesing gebid en gesien hoe blinde oë oopgaan, dowe ore hoor, die verlamdes loop en mense van kankergewasse genees word.

V Wanneer was die eerste keer dat jy gesien het hoe God iemand genees?
Vier maande nadat ek gered is, het ’n vrou in Somerset-Wes my gevra om vir siekes in hulle hospitaal te kom bid. Ek het daar ’n man gesien wat verlam was in sy onderlyf. Ek het gevra of ek vir hom kan bid. Nadat ek vir hom gebid het, het ek net uitgestap. Ek het nie gedink dat hy genees sou word nie. ’n Paar minute later het ek gevoel die Heilige Gees sê vir my: “Gaan terug en vra hom hoe dit gaan.” Ek het toe gaan vra hoe hy nou voel. Hy was juis op die punt om self te toets en daar lig hy toe al twee sy bene op! Hy het geskok na my gekyk en gevloek van die skrik! Hy is heeltemal genees. Hy het net daar langs die bed op sy knieë neergeval en sy lewe vir Jesus gegee. Sy vrou het toe al jare lank vir hom gebid.

V Dit moes jou seker met geloof gevul het?
Ek het toe vir elkeen gebid wat ek kon! As ek krukke sien, het ek vir daardie persoon gebid.
Geen kerk wou my ’n kans gee nie – want ek is so jonk – maar dit het my nie gepla nie. Ek is so honger vir geleenthede om die Evangelie te deel dat ek na Langstraat gegaan het en daar tot drie-, vieruur in die oggend bedien het. Ek het gesien hoe bendelede op straat deur die Heilige Gees aangeraak word en hoe die demone hulle verlaat. Ek het gesien hoe Moslems huil en bewe onder die krag van God.

V Het jy ooit onveilig gevoel?
Ek het nie eens omgegee oor veiligheid nie. Ek is lief vir die mense. Paulus sê: “Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie” – 2 Korintiërs 5:16. My oupa het dit gepreek en vir my uitgeleef. Wanneer jy na iemand kyk volgens die waarde van die prys van Jesus se Bloed wat vir hulle betaal is, verdwyn alle vrees. Ek gee nie om wie dit is nie. Mense smag na Sy liefde.

V Hoe het jy vir Bea ontmoet?
Ons het drie jaar gelede deur gemeenskaplike vriende ontmoet. Ek het op Facebook gesien dat sy in Shofar Tygerberg was. Sy is ook vuur en vlam vir Jesus. Ek het haar vir koffie genooi. Sy het vertel dat sy op ’n sendinguitreik na Indië was en weer binnekort ’n span soontoe sou neem. Ons het besef ons deel dieselfde passie vir mense. Sy het saam met my vir mense in die hospitale gaan bid en in Langstraat evangelisasiewerk gaan doen. Uiteindelik het sy saam met my na Zambië gegaan en ek het haar by die Victoria Watervalle die jawoord gevra. Sy het gedink ons gaan soontoe om ’n bedieningsvideo op te neem! Ek het tydens ons troue gepreek en mense genooi om Jesus aan te neem – mense het op ons troue tot bekering gekom!

V Waar kom die naam, ‘Take the Nations’ vandaan?
Dit kom uit Psalm 2:8: “Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom …” Ons moet die nasies vir Christus terugneem. Elkeen van ons moet dit doen, nie net evangeliste nie. In Khayelitsha is daar al 140 kerke in verhouding met ons en ons wil hê dat almal in daardie kerke toegerus moet wees. Ons het onlangs 70-80 predikante in Gugulethu ontmoet wat ook wil hê dat ons hul lidmate moet oplei en toerus vir die oes.

V Dit is sekerlik gevaarlik vir jou om snags in die township in te gaan vir die opleiding?
Ek moet soms deur gevaarlike gebiede ry, maar ek glo as God jou na ’n gebied roep, is daar ook genade. Dit is nêrens veiliger as in die wil van God nie. Daar is soms bendelede wat allerhande goed vir my deur die motorruit sê; dit maak my nie bang nie. Ek waai vir hulle. Ons het hulle nodig! Hulle sal juis die beste leiers wees wanneer hulle tot bekering kom. Dit is wat ek met my hele hart glo.

My plan is om ander evangeliste, veral jonger mense, op te lei. ‘n Ouer evangelis het onlangs vir my gesê dat die wêreld altyd jong, 20-jarige sportkampioene prys, maar in die kerk word jong mans as te jonk vir die taak beskou. Dit het my getref. Ek moes ook my eie geleenthede skep. Daarom reik ek uit na jongmense en blaas die vuur vir evangelisasie in hulle aan.

Dit is wat ons ook in Zambië doen. Daar is meer as 100 kerke wat met Take the Nations saamwerk en groot massaveldtogte hou. Verlede jaar het ons ’n crusade in ’n gebied gehou wat so gevaarlik is dat jy snags na negeuur vir jou eie veiligheid opgesluit word as jy nog op straat is. Ons het die Evangelie verkondig en duisende mense het tot bekering gekom – dwelmhandelaars en bendelede ook.

V Hoe kan mense Take the Nations ondersteun?
Ek neem mense saam met my na Zambië om te sien wat God daar doen. Ons lei hulle vooraf op, want almal moet betrokke wees by evangelisasie. Belangstellendes kan saamkom of vir ons bid. Maandelikse finansiële steun is ook welkom. Nie een van ons kan eendag geld saamvat Hemel toe nie, maar ons kan elkeen siele saamneem. Deur Take the Nations te ondersteun, kan mense só deel in die duisende ander siele wat gered word. Sonder sulke finansiële steun kan ons dit nie doen nie.

Ons leef in uitsonderlike tye. Die Bybel sê “die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here” (Hab 2:14, OV). Ek glo dit is die tydvak wat die Kerk nou betree.

DANIEL DU TOIT kan gekontak word by info@takethenations.com vir evangelisasieveldtogte of opleiding by jou kerk. Besoek gerus ook takethenations.com vir meer inligting.


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)