—deur Tanya Powell

Kinders grootmaak is vir my en Neil ’n Goddelike taak met groot verantwoordelikheid. Ons probeer ons bes om Bybelse beginsels by alle aspekte van ouerskap te betrek, maar tog maak ons baie kere foute.

Buig die lote terwyl hulle jonk is
Vandat ons kinders klein is, gesels ons elke dag met hulle oor wat God van ons, as Christene, verwag. Ons moedig hulle aan om, soos ’n Daniël, te doen wat reg is – al is hulle die enigste een. As ’n groep, byvoorbeeld lelik is met ’n maat, om vir die maatjie op te staan. Of as maats dalk na iets kyk wat nie reg is nie, dadelik weg te stap. Maar is dit altyd die voorbeeld wat ons vir ons kinders stel?

Ongemaklike voorval
Ek het onlangs, tydens ’n vakansie ’n harde les by my oudste seun geleer. Kennisse het gou kom groet en ’n rukkie by ons kampplek vertoef. Hulle taalgebruik was nie juis kindervriendelik nie. Dit het ons hele gesin, maar veral vir my en Neil, ongemaklik laat voel. Josh, ons oudste, het met groot oë na my en Neil gekyk. Neil het die kinders nader gewink en hulle gevra om in ’n ander tent te gaan speel. Ons het ons voorgeneem om die kennis te vra om nie sulke taal voor die kinders te gebruik nie, maar voor Neil daaroor kon praat, het die mense gegroet en was die kuiertjie verby.

’n Eerlike vraag
Elke aand voor slaaptyd lê ek of Neil by die kinders en gesels oor die dag. Ons vind dan baie uit oor wat in hulle harte omgaan. Daardie aand vra ek vir Josh of hy nog lekker vakansie hou. “Ja, Mamma, maar dit was nie vir my lekker toe die oom so gepraat het nie,” was sy antwoord. Ek het verduidelik dat party mense ongelukkig so praat en dit is hoekom ons die kinders gevra het om in ’n ander tent te gaan speel. Toe kom die vraag wat my tot in my siel wakkergeskud het. “Mamma, julle sê altyd vir my as ’n maatjie lelike woorde gebruik, moet ek hom vra om asseblief op te hou. Hoekom het jul niks gesê nie?” Ek het nie geweet wat om te antwoord nie. Ek kon net erken: “Jammer seuna, jy is doodreg. Mamma en pappa moes vinniger opgetree het. Ek belowe ons sal, as dit weer gebeur.”

Kyk in die spieël
Ons stel al allerhande geestelike vereistes aan ons kinders, maar voldoen ons self aan daardie riglyne? Stap óns dadelik weg van “onheilige” omstandighede? Is jy bereid om jou beste vriend reg te help as hy vuiltaal gebruik? Dit voel of ons ’n PG (parental guidance) by Goddelike beginsels voeg. Goddelike beginsels bly staan, ongeag jou ouderdom. Om ouer as 18 te wees, gee ons nie die reg om deel te neem aan gesprekke wat die Heilige Gees bedroef nie. As jy van jou kind verwag om nie vir lelike grappe te lag nie, verwyder jy jouself van daardie WhatsApp-groep wat tog so lief is om so ’n stoute grappie te deel? Dalk moet ons ’n bietjie in die spieël kyk en vra: Voldoen ek aan die Christelike vereistes wat ek aan my kinders stel?

TANYA POWELL doseer anatomie vir eerstejaars aan die Maties se Sportwetenskapdepartement. Kontak haar by powelltanya82@gmailcom om as gasspreker op te tree.

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)