Deur: Lourieke Haller

PRET, KOMPETISIE EN ’N HEILSAME BOODSKAP

‘n Dominee, ‘n akteur en ’n sakeman gaan saam op ’n motorfietstoer – dit klink soos die begin van ’n grappie, maar beskryf die Broer Toer: Drie Christen-broers, drie motor-fietse en die twee en ’n half duisend kilometer wat hulle saam aangepak het. Vir Reynold, Bennie en Wilbrie Fourie is die toer ’n samevloei van ’n paar van hulle groot liefdes: ’n avontuur, unieke uitdagings en betekenisvolle oomblikke saam. Ons het met die drie avontuursoekers gesels oor hierdie interessante toer wat tans op kykNET uitgesaai word.

Pastoriekinders
Die drie is pastoriekinders met hulle pa wat ’n Gereformeerde predikant was. “Met jou pa as jou dominee was Christenskap altyd om jou,” vertel Bennie. “Ek het die Here regtig self leer ken op universiteit.” Dit was ook die geval met die ander twee broers wat op universiteit ’n dieper verhouding met die Here ontwikkel het. “Die Here is ’n onwankelbare rots, ’n Pa wat my met ope arms verwelkom, elke keer. Hy is ’n Pa wat my vashou en seën, selfs al verdien ek dit nie aldag nie!” sê Wilbrie. Reynold voeg by: “En hoe ouer ’n mens word en die beproewinge moeiliker, kom jy agter daar is niks anders as die Here om aan vas te hou nie.”

Broer Toer sien die lig
Die broers is glo nog altyd avontuurlustig en gaan gereeld op sulke reise. Wilbrie verduidelik: “Ons is nie David Livingstone of Bartelomeus Dias nie. Bykans alles is al klaar ontdek, maar ons probeer om steeds plekke te “ontdek” deur saam reise aan te pak; hetsy dit dele van die Oranjerivier is of om diep in Namibië en Botswana te reis. Dit was juis na gelang van een van hierdie trippies (’n bromponietoer deur Botswana se panne) dat Bennie en ’n vriend en kameraman uit die bedryf, JJ Osborne, besluit het dat ons ’n reisprogram moet maak – maar op ons manier.”

Unieke kombinasie van elemente
En hulle “manier” beteken dat dit ’n kombinasie van Top Gear, Voetspore en Long way round is. Elke episode bevat drie elemente: die toergedeelte met die motorfietse en die broer-gedeelte, waar die broers onderling meeding en ook dieper gesprekke voer.

Nie juis motorfietsers of “petrolheads” nie
Nie een van die drie het voor die verfilming van die reeks motorfiets gery nie en het hulle motorfietse sowat ’n maand voor die program gekoop. Hulle is darem ’n week voor die tyd touwys gemaak om te weet hoe om in sand te ry, maar vir die res moes hulle leer motorfiets ry namate die toer gevorder het.

BROEDERSKAP

Gesonde onderlinge kompetisie
“Ons was almal in ewe diep water,” sê Bennie. “Die speelveld was gelyk en dis belangrik, want ons is nogal erg kompeterend (op ’n mooi manier) en sulke gesonde onderlinge kompetisie sorg vir sports in die reeks.”
Wilbrie voeg by: “Ek en my broers lag lekker oor hoe kompeterend ons as kinders was. Die Here het geweet wat Hy doen toe Hy nie een van ons met uitsonderlike sporttalente geseën het nie … die B-span op skool leer ’n mens baie vinnig dat kompetisie nie alles is nie, maar ek gaan nogtans nie sommer toelaat dat my broers op nasionale televisie met die louere wegstap nie!” sê hy met verwysing na die “uitdagings” in die reeks.

Gedeelde komiese oomblikke
Die goedige onderlinge kompetisie het aanleiding gegee tot ’n humoristiese element in die reeks – die uitdagings waar die broers teen mekaar kompeteer en die verloorder ’n straf ontvang. Meer as een keer het hierdie strawwe vir besonder komiese oomblikke gesorg.

“Ons is die heeltyd besig om die een of ander speletjie uit te dink, hetsy dit op vakansie of tydens ’n braai is. Die uitdagings was net ’n verlenging daarvan. Ons hoop dit sal mense aanspoor om ook goed te doen wat ’n bietjie meer aktiwiteit verg as om ‘n stukkie vleis op ’n rooster om te draai. Mense (groot en klein) moet jol, speel en kreatief wees!” sê Wilbrie.

Hegte band tussen die broers
“Ons is nog altyd baie heg. Ons het ver uit die dorp op ’n plot gebly, ons was dus van kleins af mekaar se maatjies, my sussie inkluis,” vertel Bennie. Hulle was ook al drie saam in Hombré, ’n manskoshuis by Noordwes-Universiteit en het saam op die HK en studenteraad gedien.

“Ek dink ons kom so goed oor die weg omdat ons nog altyd dinge saam gedoen het,” voeg Reynold by. “Ons het byvoorbeeld op universiteit ’n ou Nissan Sani gekoop. Die bakkie was ons studentekar, ons “toerkar”. Ons het met hierdie bakkie deur Botswana, Zimbabwe, Namibië en Lesotho getoer.

Verhouding belangriker as die kwelpunt
“As ’n mens so nou saamleef en baie goed saam doen, gaan jy ’n bietjie skuur en vir mekaar kwaad raak, maar dit is wat dit so waardevol maak om broers te hê wat ook kinders van die Here is: Ons weet ons sal dit altyd uitsorteer – die verhouding is belangriker as die kwelpunt.”


Agter van links na regs: Bennie Fourie, Vicki Fourie, Reynold Fourie, Mareli Mosca (suster), Hendrinkjan Mosca (swaer), Wilbrie Fourie Voor van Links na Regs: Lukas Fourie, Ben Fourie (pa), Susan Fourie (ma), Mieke Fourie, Christiaan Fourie, Annelize Fourie, Greyling Fourie

Nie net pret en avontuur nie
Die broers wou doelbewus ruimte skep vir dieper oomblikke in die reeks waar hulle geleentheid het om ’n bietjie oor die lewe na te dink en oor temas te praat wat hulle na aan die hart lê: Wat sê die Here oor vaderskap, oor gee, oor jonkwees.

“’n Mens sien deesdae so baie dinge wat jy graag op die een of ander manier wil help oplos: pa’s wat hul kinders afskeep, mans wat hul vrouens (onwetend) afskeep ter wille van die werk. Ons wou graag op ons unieke manier van die kwessies aanroer,” sê Wilbrie. Vir Reynold was dit een van sy gunsteling-aspekte van die reeks. “Daar is ‘n hele reeks van temas wat ons daar in uitgepak het,” sê hy.

“Ek dink om broos te kan wees voor jou geliefdes is bitter belangrik. Dis ook belang-rik vir die reeks, en mans oor die algemeen, om balans te hê tussen rof wees en nie bang wees om kwesbaar te wees nie,” sê Wilbrie.


Reynold en Vicki met Christiaan, RB en Lukas

DIE TOER

Afval, seerkry en verder ry
Vir Reynold was die moeilikste aspek van die reeks om net bo te bly – veral in die sand. “Dit was my achilleshiel. Ek wou by tye huil, ek het seergekry en my enkel beseer. Die regisseur het naderhand aangebied dat ons die motorfiets agterop die bakkie laai. Ek het geweier, opgestaan en lofliedere begin sing. Daar het ek vir myself gevra hoekom ek so ’n lafaard is? Hoekom is ek so skaam vir die Here? Hoekom kan ek nie meer getuig nie? En van episode vyf af het ek die krane oopgemaak en vir die Here gesê ek sal nooit weer stilbly oor Hom nie.”

Beserings was daar heelwat. Wilbrie het sy knie beseer toe sy motorfiets op hom geval het, Reynold het sy enkelligamente geskeur en Bennie het sy skouerligamente geskeur toe hy bo-oor die motorfiets gevlieg het.
“Voor die toer was ek baie skepties oor die feit dat daar aangedring is dat ’n mediese beampte moet saamgaan; ná die toer is hy die eerste ou wat ek weer saamnooi, selfs voor my broers … Die mediese tassie was gereeld uit,” sê Wilbrie. “Ons het ’n paar lelike valle gehad en lekker seergekry; … een trippie hospitaal toe vir plate, maar ons is heelhuids ander kant uit!” bevestig Bennie ook.

BROER TOER-LESSE

Vir Reynold was van die lesse wat hy uit die Broer Toer neem: “Dit het my metafoor oor die lewe as ‘n wedloop en om Christus voor oë te hou, net vasgelê; veral toe ek so geval en geval het. Die ander ding wat ek geleer het is: Pyn is tydelik! Die toer het bevestig dat my twee broers my beste vriende is. Ek prys die Here daarvoor. Dit is wonderlik om saam met hulle te werk!”

DIE LEWE ’N AVONTUUR

Dalk ’n tweede seisoen?
“As dit die Here se wil is, waar die begeerte van my hart en die wil van die Here bymekaar kom, sal daar ’n tweede seisoen wees,” bevestig Reynold. Wilbrie bevestig dat hulle reeds begin beplan het aan ’n tweede reeks: “Ons hoop hierdie reeks is ’n sukses, dan kan ons wegspring met seisoen twee. Indien nie, gaan ons maar net voort met ons toere en avonture – met of sonder ’n kameraspan!” sê Wilbrie.

“Ons beplan om roei-trips, staptoere, duiktoere en 4X4-toere te doen of daar nou ’n kamera saamkom of nie,” beaam Reynold.


Annelize, Mieke (Prin-6) Wilbrie, Greyling (4-en-vlam) en klein Marlu (2de prins)

Die boodskap van Broer Toer
Die oorkoepelende tema is broederskap en om mekaar op die lewenspad aan te moedig, maar Reynold som dit so op: “Gaan doen goed saam met mense vir wie jy lief is, moenie net sit nie, want wanneer jy goed saam doen, bind dit julle saam,” sê Reynold. “Tweedens, as daar stukkende verhoudings is, gaan maak dit reg. Die lewe is te kort. Die Here het vir ons hierdie lewe as ’n avontuur gegee! Lewe dit voluit saam met Hom!”

Die Broer Toer word op kykNET, DStv-kanaal 144 uitgesaai.


21 November 2021

 

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)
More quality content if you check those pages xxx; filme porno; xnxxfr.org; xxnxx; xvideosxnxx.org