Deur: Lourieke Haller

Party pa’s se ding is visvang of bergfietsry, ander doen houtwerk. Vir ’n lang tyd was my pa se ding boemelaars. Sy hart vir hierdie verstotelinge van die straat is so groot soos Afrika self.

Hy kon homself net nie kry om verby te ry of verby te stap nie. Hy móés eenvoudig met hulle praat. En daar het dit nie gebly nie. Menige van hulle het ’n nag in ons huis deurgebring. Gebad, met ’n skoon gesig en platgekamde hare, het hulle hul plek aan ons etenstafel ingeneem – uitgevat in nog een van my pa se ou pakke wat hy oor die jare so uitgedeel het.

Dit het hulle min geskeel dat dit ’n lelike vaal of oranjebruin pak was met groot geruite blokke uit die 1970’s of een met bell bottom-broekspype, want iemand het hulle raakgesien, ’n nuwe stel klere gegee en vir hulle plek gemaak aan die tafel! So het Steve ook eendag saam met Pa by ons plaashuis opgedaag, tandloos met ’n springhaas oor die skouer – soos iets uit ’n Katinka Heyns-fliek.

Pa het hom opgelaai waar hy grondpad langs aangestap het. Steve het ons al ons dae gegee: Pa se ou 303 gesteel en op die buurman se plaas gaan “jag”, by die plaaslike vroue van die nag gaan kuier en een naweek toe ons weg was, die spens ingevaar en Ma se 3 kg ingelegde koejawels alleen opgeëet – en die gevolge van sy soete vergryp gely.
Pa het nietemin volhard en Steve na die Here toe gelei, vir hom werk gekry en probeer help so ver hy kon. My pa se voorbeeld het my geleer daar is ’n Liefde wat menslike liefde oorskry en potensiaal selfs onder boemelaarsflarde kan sien, vir ons ’n spierwit kleed gee en plek vir ons aan God se tafel maak.

Lourieke Haller is die redaksionele bestuurder van JUIG! Tydskrif. Om van diens te wees vir Jesus en Sy liefde uit te leef, is haar motto.


30 Mei 2021

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)