N predikantsvrou vertel jare gelede by ’n kerkkonferensie dat die sakemanne in hul gemeente begin het om op ’n ge-reelde basis saam te bid en dat hulle sedertdien besondere seën in hul besighede beleef.
Met die huidige politieke beleidsonsekerheid en populistiese politieke uitsprake in ons land, is ons almal terdeë bewus van die negatiewe uitwerking wat dit op besighede en werkgeleenthede het. ’n Sake-vriend stuur onlangs vir my ’n SMS oor hoe belangrik dit is dat ons vir besigheidseienaars bid. Die volgende dag vertel ’n sakeman vir my by die kerk hoe sy besigheid die afswaai in die ekonomie beleef en ’n rukkie later vertel ’n ander sakeman dat hy die vorige vier maande geen nuwe besigheid bygekry het nie. Ek het dadelik teruggedink aan die woorde van die predikantsvrou en besef die tyd het aan-gebreek vir so ’n gebedsbyeenkoms. Daardie selfde week nog het ons as sakelui die eerste keer in die Paarl begin saambid. 

Sakelui is op die Here se hart
Dit is interessant dat, as die Here iets nuuts doen, Hy dikwels nie net met een persoon daaroor praat nie. Skaars twee maande daarna vertel ’n vriend in Bloemfontein van ’n soortgelyke inisiatief wat hulle daar begin het. In ’n onlangse skrywe oor hul gebedsgroep verwoord hy byna verbatim ons motivering en werkwyse. Hy skryf: “Ons het besef dat sake-eienaars deur moeilike tye gaan en soms unieke uitdagings en probleme beleef. Dikwels het hulle nie antwoorde nie en niemand met wie hulle kan praat wat begrip het vir hul unieke situasie nie.”
Dit kan ’n baie eensame pad wees. Daar is ’n reuseverskil tussen uitsien na ’n salaris en om die een te wees wat die salarisse moet betaal – tesame met nog baie ander uitgawes. Een sakevriend sê, ná jare in besigheid het maand-eindes nog steeds nie makliker geword nie.

Wedersydse ondersteuning
Die gebedsgroep is ’n geleentheid waar sake-eienaars mekaar as broers en susters in ’n veilige omgewing kan ontmoet. Hier word vertrouensverhoudings gebou en uitdagings en getuienisse met mekaar gedeel met die doel om mekaar te ondersteun, te bemoedig en te motiveer om besigheid
volgens Bybelse beginsels te doen. Ons deel uit die Skrif en leer saam, daar is geleentheid vir getuienisse en gebedsversoeke en ons bid vir mekaar, ons besighede, die land, ens. Ons dien mekaar om lewens te beïnvloed. Ons moet onthou ons het ’n vyand wat nie daarvan hou dat God se kinders voorspoedig sal wees nie.

Gebed in afhanklikheid van God
Sowat drie jaar gelede het ek en ’n vriend weekliks begin saambid. Die gebedsverho-ring wat ons sedertdien beleef het, is oorweldigend en ons staan verstom oor die groot dinge wat die Here al gedurende die tyd gedoen het. Dit is ook wat ons by die gebedsgroep vir besigheidseienaars beleef. Matteus 5:3 sê: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
As ek sien wat om ons gebeur, besef ek dat sulke gebedsaksies in elke dorp en stad nodig is. Ons beleef nie tans die maklikste tye vir besighede om te floreer nie; tog reken ek dat ’n eie besigheid in die toekoms vir baie van ons dalk die enigste uitweg kan wees om ’n inkomste te genereer.

Hoë werkloosheid
As ons na omstandighede kyk, kan ’n mens maklik moedeloos word. Ry ek deur dorpe en veral nywerheidsareas en sien hoeveel besigheidspersele leeg staan, onderstreep dit die hoë werkloosheidskoers. Die amptelike werkloosheid syfer is meer as 27%, terwyl baie mense reken dit kan veel hoër wees. As ons dit vergelyk met ’n werkloosheidskoers van 25% op die hoogtepunt van die Groot Depressie gedurende die 1930’s, besef ’n mens ons het meer as ’n politieke oplossing nodig vir Suid-Afrika. Ons het ’n wonderwerk nodig, wat net die Here kan bewerkstellig.

Groei in ’n ekonomiese depressie
Tog is ek onlangs bemoedig deur die boek, God bestuur my saak, deur Albert Lorimer. Dit handel oor die lewe van Robert le Tourneau (1888-1969), ’n Amerikaanse Christen-sakeman wat bekendheid verwerf het vir die grond-verskuiwingstoerusting wat hy gebou het. Sy besigheid het enorme groei beleef, juis ten tyde van die Groot Depressie, wat ingelui is met die val van die aandelebeurs in Amerika op 29 Oktober 1929 (“Swart Dinsdag”). Werkloosheid het binne 4 jaar van 5% tot 25% gestyg.
Le Tourneau het sy klein besigheid met 20 werknemers skaars 3 weke ná Swart Dins-dag as ’n maatskappy geregistreer. Sy maatskappy se omset vir 1930 was $110 000 met ’n wins van $34 000. Teen 1934 was die omset $930 000 en die wins $340 000. In 1937 was daar 1 200 werknemers en teen 1938 is ’n jaarlikse omset van $6,25 miljoen met $1,5 miljoen wins behaal. 

Beywer julle vir die Koninkryk
Le Tourneau, wat meer as 300 patente geregi-streer het, was ook bekend as spreker by kerke en Christelike byeenkomste. Hy het tot 90% van sy geld vir die werk van die Here gegee; sy guns-
telingteksvers was Matteus 6:33: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
Ons lees iets soortgelyks in Genesis 26 waar Isak ten tyde van ’n hongersnood vooruit geboer het. “Isak het in daardie gebied gesaai, en daardie jaar het die saad honderdvoudig geskiet. Die Here het hom voorspoedig gemaak, en hy het ’n ryk man geword, hy het vooruitgegaan sodat hy later baie ryk was.” – Genesis 26:12-13.
Selfs in die moeilikste tye moet ons onthou: “Niks is vir God onmoontlik nie” – Lukas 1:37 en: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” – Genesis 18:14.


DAVID MALHERBE is ’n sake- en loopbaankonsul-tant, spreker en skrywer. Hy bied op 23 – 24 Augustus 2019 die kursus, Besigheid volgens Bybelse Beginsels, vir Christen-sakelui aan. Kontak hom by info@jedidiah.org.za of besoek jedidiah.org.za

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)