Deur: Lourieke Haller

Die lewe stem nogal baie met die oseaan ooreen. Daar is wonderlike oomblikke en asemrowende dae, maar as die storm losbars, verander alles.” Dit is die insiggewende woorde van Alwyn Uys, ’n jongman wat reeds groot storms trotseer het en soos ’n Petrus op die water loop. Hy het onlangs van Robbeneiland na Eden on the Bay in Blouberg geswem. Die 8 km in yskoue water (12°C tot15°C) is reeds ’n groot uitdaging vir enige atleet, maar vir Alwyn was dit nog ’n groter toets – hy is ’n parapleeg. Hy het in 2014 as 24-jarige sy rug in ’n motorongeluk gebreek.
Wanneer jy vir Alwyn ontmoet, is dit egter nie die rolstoel wat die eerste indruk maak nie. Dis die intensiteit van lewe en energie wat uit hom straal. Kyk jy na sy YouTube-video’s is dit moeilik om hom as ’n parapleeg te sien, want die manier waarop hy te werk gaan, laat ’n mens baie gou besef dat die verlamming hom glad nie definieer nie – dit is nie sy identiteit nie. Hy gaan aan met sy lewe, hy kan per toeval net nie sy bene gebruik nie. Ons het met hom gesels oor sy Robbeneilandswemtog en sy planne vir die toekoms.

Jy het geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaanse parapleeg te wees om aan ’n Halfystermankompetisie deel te neem. Wat behels ’n Ystermankompetisie presies en het jy teenkanting gehad?
Ek het die Halfysterman gedoen. Dit is eintlik ’n reeks langafstand-driekampwedlope. Jy swem 1,9 kilometer, dan is daar ’n fietsrit van 90 kilometer en jy sluit af met ’n padwedloop van 21 kilometer. Die grootste teenkanting was my eie gedagtes en denke. Om my kop om die feit te kry dat dit wel moontlik is en gedoen kan word, was die grootste uitdaging! ’n Mens se eie kop is soms jou grootste vyand.

Hoeveel oefening en beplanning het dit geverg?
Dit was ’n rowwe tyd om vir drie sportsoorte gelyktydig te oefen én ek was boonop onervare in al drie. Ek moes spesiale toerusting aanskaf en van dit self bou om kostes te bespaar. Ek het gelukkig ’n paar goeie vriende wat saam met my geoefen het en my help voorberei het vir die kompetisie.

Jy het verlede jaar maande lank vir die Ystermankompetisie voorberei, maar dit is toe weens COVID-19 gekanselleer. Hoe het jy die teleurstelling hanteer?
Ek vergelyk dit met my ongeluk en hoe ek op daardie oomblik in my lewe gevoel het. Iets word van jou weggeneem en dit is buite jou beheer. Met my ongeluk het ek gevoel ek is alleen in my situasie. Al het ek familie en vriende om my gehad, kon niemand hulle regtig in my skoene plaas nie. Soms voel ’n mens alleen in jou stryd teen die lewe en omstandighede, maar dit maak dit aansienlik beter as jy besef jy ís nie alleen nie. God is altyd by my, Hy bepaal die koers van my lewe.

Jy het in ’n ander onderhoud gesê: “Jy hoef nie in ’n rolstoel te eindig voordat jy werklik begin lewe nie.” Wat beteken “om werklik te begin lewe” vir jou?
Om te ontdek wat ons roeping is: Hoekom is ons hier? My ongeluk het my wakker gemaak vir die feit dat die lewe baie kort en broos is en in ’n oogwink weggeneem kan word. Ek wil nie aan die einde van my lewe kom en besef ek het nooit my ware roeping uitgeleef nie.

En dit is nie net mooi woordjies nie. Jy het die sekuriteit van ’n werk by jou pa se vrugteuitvoerbesigheid laat vaar om gehoorsaam te wees aan jou roeping. Wat voel jy is jou roeping?
Ja, dit was ’n massiewe geloofstap vir my. Die Here het my ’n gawe en talent vir sport gegee én ’n volhardingsvermoë om dinge aan te pak wat volgens die meeste mense onmoontlik is. Maar dit is hoe God Hom in my lewe sigbaar maak – deur die onmoontlike moontlik te maak! Mense dink miskien dat ek verlam is, maar dit kan nie verder van die waarheid af wees nie. Jou gedagtes is ’n slagveld en as jou denke verlam is, kan jou liggaam niks vermag nie. Hierdie omstandighede sal my nie stop om my drome vlerke te gee nie. Ek is geroep om elke uitdaging aan te pak, in die sportwêreld asook enige ander uitdaging wat die Here vir my het. Ek is geroep om mense met my getuienis te bedien en hulle te bemoedig met wat die Here in my lewe moontlik gemaak het.

Die Here het jou onlangs in die bediening begin gebruik. Vertel ons ’n bietjie meer.
Ek is nog altyd passievol oor die Here en bediening was altyd in my hart, maar sport is ook baie belangrik in my lewe en hier is ek vandag! Nou kombineer ek bediening en sport! God het oor die afgelope paar maande ’n gawe in my wakker gemaak. Ek is onlangs genooi om tieners by ’n kerkdiens toe te spreek. Toe ek die dag voor die tyd bid oor wat ek moet sê, wys die Here vir my ’n beeld van iemand wat daar gaan wees en sekere dinge in haar lewe – ’n woord van kennis. Hy het my selfs gewys waar sy in die kerk sou sit. Daardie aand herken ek haar toe; sy het presies gesit waar Hy my gewys het. Ek kon vir haar bid en die Here het haar aangeraak. ’n Mens ervaar die Here se liefde wat deur jou vloei na daardie persoon toe. Ek het vir die Here gesê: “Dít is wat ek wil doen!”

Kom ons praat oor die Robbeneilandswemtog. Hoekom het jy dit aangepak?
Dit is iets wat die Here meer as ’n jaar terug op my hart geplaas het. Eers kon ek nie verstaan hoekom ek dit moes doen nie. Toe wys Hy my die storie van die kinders van Israel wat deur die Jordaan-rivier moes gaan om by die Beloofde Land uit te kom. Toe hulle deur die Jordaan stap, het die priesters klippe uit die rivier geneem en op mekaar gepak as ’n gedenkteken van wat die Here daardie dag vir hulle gedoen het. Die Robbeneilandswemtog was my Jordaan-rivier. Ek is aanvanklik baie geïntimideer deur die uitdaging daarvan en ook deur my roeping! Net soos die Israeliete moes ek my eie reuse konfronteer.

Wat was jou oefenprogram?
Ek het ’n jaar lank hiervoor geoefen en om en by vyf dae per week 4 km per dag geswem. Ek het ook ander fiksheidsoefeninge gedoen. [Vir verdere inligting oor hoe hy oefen, besoek Alwyn se YouTube-kanaal waar daar meer as een oefenvideo te sien is.]

Hoe het dinge op die dag verloop?
Die see was baie rowwer as wat ons verwag het, daar was reën op pad en die deining was hoog. Ek moes ook regtig hard veg teen die seestrome. Jy is daar in die middel van die see en jy voel so klein, want jy kan nie die land sien nie, jy is uitgelewer aan die elemente en dis net jy en jou gedagtes en die Here.

Ons weet jy het dit vermag met net jou arms , sonder die gebruik van jou bene. Het jy enigsins ‘n punt bereik waar jy wou opgee?
Ophou was nie ’n opsie nie. Hierdie swemtog is ’n groot deurbraak in my lewe: finansieel, met my loopbaan, met die Here se planne vir my – dit is die eerste groot taak wat Hy my gegee het nadat ek besluit het om Hom voluit te volg. Ek het in ‘n stadium in die water vir Hom gesê: “Here, hierdie is regtig tough!” Sy antwoord was: “Ek het nie gesê dit gaan maklik wees nie.” Dit was werklik ’n groot geestelike ervaring vir my.

Wat lê nou vir jou voor?
My fokus is die Ystermankompetisie in November vanjaar. Ek het ook ontdek dat ek hou van ultralangafstandswem. Dalk is dit iets wat ek in die toekoms verder sal aanpak. Dan het ek ook ’n besigheidsvennootskap met Legion of Lions aangegaan wat my help om my handelsmerk te laat groei.

Wat deel jy op jou YouTube-kanaal?
Dit gaan oor leefstyl, oefen en geestelike groei. Ek maak weekliks video’s van my fiksheidsoefeninge, events en uitdagings asook die geestelike reis daarvan. As iemand op soek is na motivering, dan is dit die kanaal om op in te teken.

ALWYN UYS is beskikbaar vir motiveringspraatjies of bediening. Kontak hom gerus by info@alwynuys.com, besoek sy webblad alwynuys.com en volg hom op Facebook en Instagram. Kyk uit vir die dokumentêre rolprent oor Alwyn se lewe, Against all Odds, wat later uitgereik gaan word.


18 Februarie 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)