Deur: David Malherbe

As ek terugkyk oor 2020, besef ek dit verskil radikaal van enige vorige jaar wat ek al beleef het. Die begrip “business as usual” was beslis nie van toepassing op 2020 nie. Koningin Elizabeth het aan die einde van 1992 in ’n toespraak gesê daardie jaar was vir haar ’n “annus horribilis” (verskriklike jaar). Ek glo die meeste van ons sal waarskynlik die jaar 2020 soortgelyk wil beskryf.

Inperking, maskers en werkloosheid
Sedert einde Maart moes ons eers heeltemal ophou werk en mog ons nêrens heen gaan nie. Ons kon nie eens vir oefening gaan stap of iewers heen gery het nie. Ons dorpe en strate was leeg, selfs op die snelweë was daar geen verkeer nie en alles was gesluit – skole, besighede, staatsinstellings, ens.
Namate die ekonomie stadig weer heropen is, het ons almal bewus geraak van watter besighede en aktiwiteite as meer noodsaaklik beskou word. Gedurende die wagproses moes baie ondernemings hulle deure sluit. Ongelukkig het werkloosheid ook met rasse skrede toegeneem.

Verder moet ons oral waar ons gaan, maskers dra en by elke plek waar ons ingaan, eers ons hande ontsmet en kontakbesonderhede neerskryf. Ons staan in rye om by winkels in te gaan en kinders staan tou by hul skole.

Ja, toe ons in Januarie 2020 vir mekaar goeie wense vir die jaar toegewens het, was ons bewus van ’n resessie, maar dat ons ’n skrale drie maande later verbied sou word om te gaan werk, het ons beslis onverhoeds gevang. Ons wêreld lyk voorwaar anders as voor COVID-19.

Gestroop van alles
Dit laat my aan Job dink. Die een dag het die lewe nog sy gewone gang gegaan, maar binne ’n oogwink is sy besittings, gesondheid en besigheid/werk hom ontneem. Tragies het hy boonop al sy kinders ook aan die dood afgestaan – gestroop van alles.

Insig in Job se situasie
Ek dink wat ons sedert Maart vanjaar beleef het, gee ons ’n klein bietjie insig in Job se situasie. Siekte, dood en finansiële uitdagings het skielik baie nader aan elkeen van ons gekom. Soos met Job was dit onverwags en was ons nie voorbereid daarop nie. Ons moes vinnig aanpas.

Ons beleef ook, soos Job, vele raadgewers en doemprofete wat skielik na vore getree het om oorsake en gevolge van die viruspandemie aan ons voor te hou. In die waas van uiteenlopende en dikwels teenstrydige berigte, saamgeklits met ’n stewige dosis fopnuus, is dit moeilik om te weet wat jy kan glo en wat nie.

Wees standvastig te midde van fopnuus
Efesiërs 4:14 (BvA) gee ’n goeie beskrywing van fopnuus: “Daar is mense wat skelm is, hulle wil hê ons moet dinge glo wat nie waar is nie. Hulle kom vertel vir ons dinge wat verkeerd is en hulle wil hê ons moet dit glo. Maar ons moenie dit glo nie, ons moenie soos kinders wees nie, of soos iets wat op die see rond dryf of wat in die wind heen en weer waai nie.”

Joyce Meyer sê: “What is a mature Christian like? They are stable.They are not up and down and all over the place based on their circumstances.” In Matteus 7:24 sê Jesus: “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.”

Vertrou op God se Woord
Dit laat my dink aan ’n vliegtuig wat in slegte weer en in toestande met swak sig vlieg. Dan is die vlieënier aangewese op die vliegtuig se instrumente om veilig te kan land.

Soortgelyk moet ’n mens in stormagtige tye soos vanjaar versigtig wees om nie die hele tyd op die nuus en omstandighede te fokus nie. Die Woord van God is die waarheid (Joh 17:17). In Josua 1:8 leer ons: “Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.” Laat die Woord vir ons die “instrumente” wees waarop ons vertrou eerder as op elke volgende nuusberig wat vandag sus en môre so sê.

Bemoediging uit Job se verhaal
Wat kan ons uit Job se verhaal leer wat ons kan bemoedig hier teen die einde van 2020? In Job 42:2-3 sê hy: “Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. (God is soewerein) … Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie.” In sulke moeilike tye kom ons maklik in die versoeking om God as ons teenstander te sien en wil ons Sy geregtigheid bevraag-teken eerder as om in nederigheid voor Hom te buig en te wag dat Hy Homself en Sy voornemens aan ons sal openbaar.

Ons kan hoogstens ons lewens en onsself verstaan wanneer ons God se karakter en werke in die lig van ons verhouding met Hom beoordeel. “Want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.” –1 Korintiërs 13:12 (OV)

Hoop in die Here
Laat ons ook versigtig wees om nie soos Job ’n doodswens uit te spreek nie (Job 3:11) of te sê “… ek sal nooit weer voorspoed beleef nie” (Job 7:7). Moet nooit vergeet nie – “Die tong het mag oor dood en lewe” (Spr 18:21). Onthou ook, dieselfde Here wat “… die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het” (Job 42:10) is ook ons Here.

David Malherbe is ’n sake- en loopbaankonsultant, spreker en skrywer. Hy doen Career Direct-assesserings en is ’n kenner t.o.v. loopbaanbeplanning/-verandering, CV’s en LinkedIn. Hy bied ook die kursus Business by the Book/Besigheid volgens Bybelse Beginsels vir sakelui aan. Kontak hom via sy webblad by jedidiah.org.za en teken ook in op sy gereelde nuusbrief.

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie


17 Desember 2020

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)