Wat Sê Die Woord Van God Oor Skuld (Deel 2)

– deur Gerrie Bester

Verbied die Woord van Abba Vader enige vorm van skuld? Wat dan van Matteus 5:42 wat die uitleen van geld aanmoedig? (Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.) Kom ons begin deur te kyk na wat die Woord van Abba Vader sê oor dié argument dat ons glad nie skuld moet hê nie. Romeine 13:8 word gewoonlik van die kansel af aangehaal om dit te staaf, maar is dit regtig wat die Woord van Abba leer? 

Betaal jou skuld betyds 
“Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.” – Romeine 13:8 (NAV). As ’n mens na die oorspronklike Grieks van hier-die teks kyk, sê dit nie dat jy geen skuld mag aangaan nie, maar wel dat jy nie moet toelaat dat jou skuld die betaaltermyn oorskry soos ooreengekom nie. Dit maak nogal ’n verskil, nè?

Skuld kan jou in slawerny dompel
Is die aangaan van skuld dan goed? Beslis nie! Die Woord van Abba Vader waarsku teen skuld. Hoekom? Die Bybel leer ons dat wanneer ons skuld het, dit ons in slawerny dompel (Spreuke 22:7). Het jy al ooit gevoel dat jy vir die bank werk as gevolg van jou skuldlas? Die een van wie jy leen, het mag oor jou, wat gevaarlik en bindend kan wees. Dit is hierteen dat Abba Vader ons waarsku.

Rente pik soos ’n slang
Oorspronklik het Abba Vader ons Sy woord in Hebreeus gegee. Dit is ’n taal wat prentjies skets. Die woord wat as “rente” vertaal word, kom uit die Hebreeuse kernwoord nashach, wat beteken “om te pynig soos ’n slang se pik”. Dit beteken verder “om te onderdruk”, en dit is die
belangrikste waarskuwing teen skuld in die Woord van God. Skuld en die hemelhoë rente wat gewoonlik daarmee gepaard gaan, lei dikwels tot verarming. Ons verstaan dikwels nie die vernietigende mag van saamgestelde rente nie.
Die Woord van God tref ’n onderskeid tussen skuld in die vorm van ’n bekostigbare verband om ’n dak oor jou gesin se kop te plaas en skuld wat jy aangaan in ’n resies om vaste bates te vergaar sodat jy ryk kan lyk. Ek sê “lyk”omdat die rente besig is om jou hulpbronne te erodeer terwyl die wêreld dink jy is ’n sukses. 

Skuld weens ontevredenheid
Dit is hoekom die Bybel ons leer: “Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word.”
– 1 Timotheus 6:9 (NAV). Dus, die eerste soort skuld waarteen die
Bybel ons waarsku, is die skuld wat spruit uit ontevredenheid oor wat jy het en lei tot die opgaar van “bates”.

Wat is die toets vir ontevredenheid?
• Oorbesteding
• Kompulsiewe aankope
• Inhaligheid
• Opgaar van skuld in ’n poging om jou lewenstyl te verbeter

Materialisme en hebsug verlei jou om skuld te misbruik en kan veroorsaak dat jy in die strik trap om iets oorhaastig te doen en eers later te besef waartoe jy jou verbind het (Spreuke 20:25).


JUIG! Tydskrif (Mei 2018)

Return to Home