Wat Sê Die Bybel Oor Tiendes? (Deel 1)

– deur Gerrie Bester

Daar is baie vrae ​​oor die gee van tiendes in die Liggaam van Christus. Moet dit regtig ’n volle 10 persent wees? Wat as ek nie op die oomblik kán gee nie? Aan wie moet ek my tiende gee? Die kerk? Wat as hulle dit nie op ’n Godvresende manier bestee nie? Wat as die pastoor of predikant my tiende gebruik om hom- of haarself te verryk? Moet ek eerder my tiende saai in die lewens van ander soos ek gelei voel? Op watter bedrag bereken ek my tiende, op my bruto of my netto inkomste?

Dit is alles vrae waarvoor ons vertrou Abba Vader sal ons in die volgende paar uitgawes van JUIG! insig gee uit Sy Woord. 

Wanneer het tiendes ontstaan?
Die eerste keer dat die woord “tiende” in die Bybel voorkom, is in Genesis 14:20, toe Abram (God het toe nog nie sy naam na Abraham ver-
ander nie) ’n tiende van alles wat hy by hom gehad het, aan Melgisedek (wat in Hebreeus “Koning van geregtigheid” beteken) gegee het. Dit is interessant dat dit gebeur het voor God vir Moses sy instruksies (vertaal as gebooie in die Afrikaanse Bybel) op die berg Sinai in die boek
Eksodus gegee het. Wonder jy nie soms hoe Abram geweet het
dat hy ’n tiende moet gee nie, siende dat God nog nie Sy wet aan Sy kinders gegee het nie? Was dit nog altyd deel van Abba Vader se karakter wat Hy ons in Sy Woord probeer leer? Ons sal dit in diepte ondersoek in die artikels oor die volgende paar maande.

Alles behoort aan die Here
Die Hebreeuse woord in Genesis 14:20 wat vertaal word met die woord “tiende”, is die woord Ma’Aser, wat “’n tiende deel” beteken. Dit was dus nie vir Abram nodig om te raai oor die porsie wat hy moet gee nie – dit was ’n prentjie uit die hart van die Vader. In Haggai 2:8 verklaar die Here dat alle silwer en goud aan Hom behoort. Psalm 24:1 leer ons dat alles op aarde, die volheid daarvan, aan die Here behoort. In 1 Korintiërs 10:26 word ons daaraan herinner. Die Woord van God is waar, God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie, ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie (Numeri 23:19). 

Hoekom gee ons tiendes?
Hoe dink ons ​​dan dat ons Hom met ons tiende kan “seën”? Het Hy ons geld nodig, of is daar iets veel diepers wat Hy ons hiermee wil leer? As jy my selfoon leen om te gebruik, kan jy dit nie teruggee en sê “Ek wil jou seën met hierdie foon” nie. Hoe seën ’n mens iemand met iets wat reeds aan hom behoort? Die eerste ding wat ons moet verstaan oor tiendes is dat ons nie Abba Vader ’n guns doen deur ons tiende te gee nie. Wat is die Bybelse grondslag vir die gee van die tiende dan? Ons sal volgende maand dieper hierop ingaan.


JUIG! Tydskrif (Augustus 2018)

Return to Home