“Verheug Jou Ook In Die Swaarkry…”

– deur Jacques Gombault

Indien wat ek vir die jongmense leer, die waarheid is, het ek mos nie ‘n probleem nie.” Dit is wat ek gebid het op pad na die lughawe om die laaste hoop op ‘n borg vir my rolprent te gaan ontmoet.

Vir vyf jaar lank leer ek jongmense met die boodskap in my Lang Gras-rolprent dat hulle bly moet wees as hulle “swaarkry…” (Romeine 5:3) en volg dit op met “jou lewe is ‘n rolprent en ‘n rolprent is nie ’n goeie een sonder die ‘good guy’ wat pro-bleme moet oorkom nie! Struikelblokke is daar om oorwin te word!”

“Rêrig, Jacques?”

Sien, ek moes Lang Gras binne ‘n maand in Engels herverfilm en ek kon van Maart tot Augustus nie een sent borgskap bekom nie. Nou moes ek R2,6 miljoen voor Desember vind. Niemand wou in my belê nie. 

My laaste hoop het daardie dag op die lughawe geland. Ek was nog nooit in my lewe so benoud nie. Ons krediet-kaarte is tot die maksimum gebruik, my baba het nie melk gehad nie en ons laaste R40 was in my beursie – vir parkering! En toe gaan my motor se petrolliggie ook nog aan…As wat ek glo die waarheid is. My ‘laaste hoop’ het daardie dag toe nie belang ge-stel nie, maar danksy ‘n bankfout in my guns, kon ek R1 000 trek. ‘n Week later het ‘n wildvreemde belegger die eerste geld gegee. Khumbula – I will Remember is verfilm en in 2015 het dit in Amerika die “Silwer Crown Award” in die kategorie, beste kinderrolprent gewen.

Die tema van Lang Gras en nou ook Khumbula is: “As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.” (Jesaja 1:19) Daardie tema is meer nog, ook my leuse!


JUIG! Tydskrif (November 2016)

Return to Home