Tydsbestuur: Wat Leer Abba Vader Se Woord Ons? – Deel 1

– deur Gerrie Bester

Wat sou jy doen as jy volle beheer oor jou dag en jou tyd gehad het? Wat sou jy as ’n belangrike voorkeur ag? Sou dit strook met Abba Vader se plan vir jou? Is jy moeg om te sê: “Ek het nie tyd nie, ek kan nie by alles uitkom nie.” Of: “Almal wil alles nóú van my hê en ek kan nie meer alles vir almal wees nie.”

’n Kroniese tekort aan tyd
Het jy die kroniese laat-kom-sindroom onder lede of gaan jy gebuk onder die ongeneeslike siekte van gejaagdheid? ’n Tekort aan tyd is altyd die oorsaak, nè? Het jy ’n passie om iets te doen wat Abba Vader op jou hart geplaas het, maar raak benoud as jy wonder hoe jy dit op jou reeds oorvol kalender gaan inpas?  

Hoe ervaar jy tydsbestuur?
Wat is jou reaksie as ek vir jou sê die oomblik wanneer jy jou fokus na tydsbestuur verskuif, het jy reeds die stryd verloor? Hoekom sê ek so? Ons sien dat die mens dit van die tuin van Eden af moeilik vind om skuld vir iets te aanvaar. Ek is nooit ongeduldig nie – dit is altyd iemand anders wat net te lank sloer. Dit is altyd tyd se “skuld” en nooit my beplanning wat ondoeltreffend is nie. Het jy al ooit gedink wat jy eintlik verklaar wanneer jy sê: “Daar is nie tyd nie.” Wat beteken dit nou eintlik? “We overcommit and underperform and blame time” sou ek sê.

Tyd is kosbaar
Hoeveel keer ervaar ons regtig Psalm 118:24: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.” Wat verstaan ons onder Abba Vader se Woord: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!” – Psalm 90:12. Tyd is soos geld. Ek het die keuse om dit te bestee soos ek wil, maar ek kan dit net één keer uitgee. Hoekom bid ons: “Nie my wil nie, maar U wil, Abba Vader” as ons nie van plan is om te luister nie? Ons móét besef dit is onmoontlik om tyd te bestuur! Jy kan jou persoonlike lewe bestuur, jou prioriteite kan jy bestuur, maar aan tyd kan jy niks doen nie. Tyd is vas en onveranderlik. Ek “mors my tyd” deur te dink ek kan dit bestuur.

Bepaal jou tyd jou voorkeure of getuig jou tyd van jou voorkeure?
Wat is Abba Vader se wil vir jou tydsbesteding? Die artikels wat hierdie een opvolg, gaan iets uit die Woord van Abba Vader openbaar oor hoe ons tydsbestuur ons voorkeure weerspieël – tyd wat ons Abba Vader aan elkeen van ons skenk … elke dag! Moenie hierdie reeks misloop nie!


JUIG! Tydskrif (November 2017)

Return to Home