Geestelike Vernuwing

– deur Jack Martin

Wanneer jy vasberade is om ’n geestelike probleem, soos bitterheid, heeltemal te versaak, moet jy die Here met jou hele hart aanroep en vra om jou te verlos. Net een lading van die magtige krag van die Heilige Gees sal die duiwel se óú stroombane uitbrand in ’n magtige vervulling met God se Gees.

Indien jy die Here opreg aanroep om jou te verlos, sal Hy Sy belofte vervul: “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee” (Eseg 36:26). Selfs al is jy ’n nuwe mens, sal die ou sélf telkens probeer terugkeer. Jy sal die duiwel, jou ou self met ou gewoontes, daagliks moet beveg – veral jou boesemsondes – “elke las” en “ook die sonde wat ons so maklik verstrik” – Hebreërs 12:1. 

Jy moet ook jou deel doen en al die ou negatiewe denkpatrone en leuens wat jy oor jouself glo, vernuwe. Die Woord sê: “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig” (Ef 4:22-24).

Jy sal dit nie noodwendig binne een dag oorwin nie – dit mag soms ’n hele ruk lank duur. Die vyand gee nie maklik grondgebied prys waaroor hy beheer gehad het nie. Hy sal alles in sy vermoë doen om daardie grondgebied terug te wen deur swakhede en toegangskanale wat voorheen beskikbaar was, te gebruik. Daarom moet jy aanhou bid dat die Here jou heeltemal herbedraad!

Vra Hom om jou verstand te vernuwe: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was” (Fil 2:5). Dit verg ’n opregte geestelike vernuwing, ’n ware herbedrading van al die senuwees, senusentrum, ens. om seker te maak die Here is in beheer en die duiwel se vorige stroombane is heeltemal verbreek.


JUIG! Tydskrif (Augustus 2017)

Return to Home