Die God Wat Terug Gee

– deur Rudi Briel

En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.” – Lukas 7:15. ’n Weduwee se enigste seun het gesterf, en aangedryf deur innige medelye, het Jesus haar kind opgewek en lewend aan sy moeder terug-gegee.

1God kan dit wat gesterf het, lewend teruggee: Baie jare gelede, toe ons oudste seun op 26 weke vroeggebore is, is ’n vrou se vroeggebore baba doodgebore en in ’n metaal nierbakkie weggeneem na ’n private vertrek, waar dit voor ’n oop venster neergesit is. Die arme jong mamma was ontroosbaar. ’n Paar minute later het ’n verpleegster verby die vertrek gestap en die sagte gehuil van ’n baba gehoor – dit was die baba wat doodgebore is! Daar is bespiegel dat die koue wind deur die oop venster moontlik die baba se hart aan die gang “geskok” het. Hoe dit ook al sy – die baba is lewend aan haar mamma terugbesorg. God kán enige saak in jou lewe, wat gesterf het, lewend aan jou teruggee! Moenie te gou begrawe nie. 

2 God wil aan jou teruggee: ’n Melaatse val smekend voor Jesus neer met die woorde: “As U wil, kan U my gesond maak,” waarop Jesus antwoord: “Ek wil. Word gesond!” – Markus 1:40-42. God wíl aan jou teruggee wat oënskynlik gesterf het in jou lewe. Moenie Sy barmhartigheid onderskat nie.

3 God gee dubbeld terug: Nadat die dood aan Job se deur kom klop het, het God alles wat gesterf het (onder andere sy kinders), dubbeld aan hom terug-gegee: “Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het.” – Job 42:10


JUIG! Tydskrif (Januarie 2019)

Return to Home