Die Fossielrekord

– deur Basie Basson

Fossiele is die oorblyfsels of afdrukke van diere, plante, skulpe en visse wat in versteende sedimentêre gesteentes, vulkaniese as of modder aangetref word. Darwin het gesê die fossielrekord sal nutteloos wees as dit nie sy teorie bewys nie. Sy woorde is bewaarheid. Hy het die afwesigheid van eenvoudige organismes in die diepste strata – wat geleidelik nader aan die oppervlak al hoe komplekser behoort te word – aan die onvolledigheid van die fossielrekord toegeskryf. Vir fossiele om te vorm, moet dit vinnig, volkome en diep genoeg bedek word sodat aasdiere, fungi en bakterieë dit nie kan vernietig nie. Die evolusionêre konsep van uniformitarianisme (gelykmatigheid) voldoen nie aan die vereistes vir fossielvorming nie omdat die proses te stadig is. Die Genesis-vloed voldoen egter wel aan al hierdie vereistes. (Uniformitarianisme is die naturalistiese filosofiese aanname dat dieselfde natuurlike wette en prosesse wat nou in die Heelal werk, nog altyd in die verlede van toepassing was. ) ’n Binnelandse meer, soos evolusioniste beweer, kan nie fossielvorming soos op al die vastelande aangetref word tot gevolg hê nie. 

Wat is dus ná 150 jaar van intensiewe ondersoek in die fossielrekord gevind? Tekens van ’n wêreldwye vloed wat miljoene mariene fossiele op alle kontinente neergelê het. Daar is geen klinkklare bewyse dat eenvoudiger organismes mettertyd in meer komplekse organismes ontwikkel het nie. Fossiele van komplekse organismes verskyn in die diepste fossieldraende laag en weerspreek die evolusionêre siening van geleidelike ontwikkeling van eenvoudig tot kompleks. Oorgangsfossiele tussen soorte ontbreek geheel en al. Daar behoort miljoene daarvan te wees indien die evolusionêre siening korrek is. Daar word ook lewende voorbeelde van fossiele gevind wat vandag nog basies onveranderd is en wesenlik die oorlewendes se nasate is – ’n bewys vir fossielvorming tydens die Genesis-vloed. Paleontologiese navorsing bewys duidelik dat die moderne fossielrekord Darwin se voorspellings verkeerd bewys. Dit het Darwin se grootste vrees bewaarheid en bevestig dat die Vloed, soos in Genesis beskryf word, korrek is.


JUIG! Tydskrif (Junie 2018)

Return to Home