Woestyntyd

– by Ilse Kleyn

In Februarie het ek van ’n wit skilderdoek gedroom. Daar was slegs ’n woestyn-rosie op die doek geverf. Ek het spoedig uitgevind wat Abba vir my wou sê. Ek is ontwortel en in ’n woestyn geplant – Ek het die eienaar geword van kunsgalery met profetiese kuns. Die harde sakewêreld met finansiële verpligtinge het my in die gesig gestaar; verpligtinge wat my soms nagte uit die slaap hou.

Oorspronklik kom hierdie plante van woestynareas en beskik oor die vermoë om water op te vang en te stoor vir tyd-perke van droogte. Hulle is immergroen.

Hierdie beeld was beide ’n waarskuwing en bemoediging. Ons almal gaan by tye deur ’n woestyn. Indien ons wortels in Hom geanker is, sal ons nooit dors nie. Ons is die woestynrose wat die lewende water van Sy Woord opsuig.

In Jesaja 43:18-20 lees ons: “Vergeet die dinge wat in die verlede gebeur het. Dit is niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen. Dit het alreeds begin gebeur! Sien julle dit nie? Ek gaan ’n pad deur die wildernis maak vir My volk om huis toe te kom. Ek maak vir hulle riviere in die woestyn…hulle sal bly wees omdat Ek vir hulle water in die woestyn gee. Ek maak fonteine in die woestyn sodat My uitverkore volk hulle dors kan les.”

As ek om my kyk, sien ek ’n pragtuin hier in die woestyn. Jy, my vriendin, is die ander rosie wat hier langs my geplant is – saam blom ons in Sy tuin tot Sy eer.


JUIG! Tydskrif (November 2016)

Return to Home