Wees Vrolik, Lag Baie

– by Ella Kritzinger

Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!” – Sefanja 3:14

Liewe vriendin, die winter is hier! Tyd vir geurige bredies en soppe, snoesige komberse en ’n kaggelvuurtjie. Ek is gaande oor die winter, veral hier op my sonnige stoep waar ek na die see kyk. Ons het twee maande gelede die stadslewe vir die Wes-Kaap verruil. Kyk, trek is chaoties, maar ek was baie bevoorreg, want een van my vriendinne het my kom help. Tussen al die bokse uitpak, meubels rondskuif, blou kolle en skrape het ons nogtans lekker gelag. Ek het net weer besef hoe belangrik lag en vrolik wees vir ’n mens se gemoed is. 

Soms is ons heeltemal te ernstig of preek te veel. Dikwels gee ons ongevraagde raad in plaas van om net te luister, lief te hê, vrolik te wees of te lag. Lag is nie net lekker nie, maar ook noodsaaklik en goed vir ons. God het ons met hierdie natuurlike geneesmiddel geskape wat nie net spanning verminder nie, maar ook ons immuniteitstelsel ’n hupstoot gee. Lag het ’n magnetiese aantrekkingskrag wat mense na mekaar toe bring. Dit gee soveel kleur aan vriendskappe en verbeter verhoudings.
Dit verlig veral die swaar vrag van woede en emosies. Humor plaas soms probleme in perspektief en veroorsaak dat mense ná konfrontasies kan voortbeweeg sonder om vas te hou aan bitter en seer. God gebruik ook humor om in sekere situasies met ons te praat. Daar is baie gedeeltes in die Bybel wat praat van blydskap en vrolik wees. Kom ons leef ons geloof uit deur ons winter-somberheid te verruil vir meer lag.


JUIG! Tydskrif (Junie 2018)

Return to Home