Wat Praat Jy Alles Met Jouself?

– deur Esté Geldenhuys

“Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes . . .” – Matteus 15:18,19

Het jy geweet, die een met wie jy die meeste praat, is jy self? Nou vra ek jou, wat praat jy alles met jouself? Mý kop is gedurig aan die gang! Ek redeneer met myself oor aantrek en roetes om te ry, oor prioriteite en hoe gemaak om iets duidelik oor te dra. Ja, almal van ons praat daglank met onsself. Maar hierdie “selfpraat” kan ons dag máák of bréék. In Spreuke 4:23 word ons gewaarsku. “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Ons wórd wat ons in ons harte bedink. Die roete van gedagtes begin in die hart. Eers bedink ons dit, dan volg die selfgesprek en dan eers gesprek met ander. 

Gaan lees weer watter slegte dinge kom uit slegte gedagtes in die hart (Matteus 15:19). Daardie dinge, sê Jesus, maak ons onrein. Jesus het ook gereeld mense aangespreek omdat Hy kon sien wat in hulle gedagtes aangaan. Ons Skepper weet wat ons dink. Nou wat behoort dan ons selfgesprek te bepaal? Volgens Psalm 33 het ons God die mag om die raad van nasies te vernietig. Hy verydel hulle gedagtes, terwyl die raad van die Here vir ewig bestaan, van geslag tot geslag. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Kom ons versadig ons gedagtes met die Woord! Kom ons pas selfdissipline toe om nie negatiewe en afbrekende gedagtes van watter aard ook al te huisves nie. Bid liewer saam met koning Dawid as hy vra: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes . . .” – Psalm 139:23.


JUIG! Tydskrif (Mei 2018)

Return to Home