Teleurstelling

– deur Ella Kritzinger

 “ ’n Uitgestelde verwagting maak die hart siek.” – Spreuke 13:12

Liewe vriendin wanneer daar nie aan verwagtinge voldoen word nie, lei dit tot teleurstelling wat die hart siek maak en die lewe bitter. Ons almal het al teleurstelling ervaar. God is ook al teleurgestel  toe die Israeliete Hom keer op keer op die proef gestel het en bedroef het. Dít nadat Hy vir hulle goed was; hulle uit slawerny in Egipte verlos het en boonop geseën het. Gelukkig vir ons het teleurstelling God nie van stryk af gebring of van Sy vreugde beroof nie. Hy het aanhou werk om Sy voorneme en plan te verwesenlik. Met dié doel voor oë het hy die losprysoffer en Sy Koninkryk voorsien en nie op die probleem gekonsentreer nie, maar op die oplossing. 

God se perspektief verskil van ons s’n en daarom laat Hy soms toe dat ons gevorm word deur teleurstelling. In die proses groei ons innerlik en kan ons ander later help. As ons teleurgestel word, moet ons nie oorreageer nie, maar liewers probeer om dit met goeie oordeel te hanteer. Vra jouself af of jy al teleurgestel het. Dit neem tyd om dinge te heroordink, in perspektief te sien en veral om weer vertroue in ander op te bou. Leer by Moses. Hy het met God gepraat toe die volk hom teleurgestel het. Om my geestelik te versterk in God se Woord en deur gebed, het my die meeste gehelp om teleurstelling te verwerk. Kry daardie emosies wat met teleurstelling gepaard gaan vinnig onder beheer deur met God te praat. Moenie dat teleurstelling jou beroof van jou begeerte om inspirasie te vind of te wees nie. Bly steeds entoesiasties oor jou voorneme en planne vir die lewe. Onthou, mense wat teleurstel het nog steeds goeie eienskappe.


JUIG! Tydskrif (Februarie / Maart 2019)

Return to Home