Soek God Se Droom Vir Jou En Jou Kinders In 2017

– by Wanda Bam

“Hy het alles mooi gemaak, Hy het aan die mens ’n visie gegee van die ewigheid. Tog kan mense nie die volle omvang van God se werk, van begin tot end, verstaan nie.” Pred 3:11 (NLV)

Ek kyk nou die dag na ’n foto’tjie van my kinders toe hulle so nege en elf jaar oud was. Elkeen met ’n droom en ’n plan vir elke begeerte en wens. As ek vandag terugkyk, weet ek al hierdie matelose kreatiwiteit sou tot niks lei as dit nie vir die beloftes van God is wat elkeen van hierdie drome en begeertes begelei het nie. Soms was dit buite die menslike verwysingsraamwerk, maar altyd binne God se veilige ruimte. My jongste wou ’n model, kunstenaar, en sakevrou word en met ’n ‘prins’ trou. Ek het my hart vasgehou vir party van haar drome, maar ek het gesien hoe sy God met alles in haar soek en hoe die platform om meer vir Hom te doen tot vervulling kom die aand toe sy as Mej. Suid-Afrika gekroon is. Ek het geweet díé droom is buite my verwysingsraamwerk, maar binne God se droom vir haar lewe.

My oudste wou ’n aktrise, sangeres, mamma en sakevrou word. Vandag weet ek my alleen-loop-kind, wat dinge anders doen as die status quo, God se droom vir haar lewe uitleef.

Daar is egter nie een gerealiseerde droom waar ek of my kinders nie ook uit die foute van ons eie pogings en probeerslae kon leer en baat by vind nie. Laat jou kinders toe om in 2017 groot te droom, buite jóú ‘boks’, maar altyd binne God se droom vir hulle lewens. Pak jou begeertes uit jou eie gemaksone-boks en vra God vir leiding hieroor. Moenie dit vir nog ’n jaar uitstel nie. Ontdek Sy hoogtepunte vir jou en jou kinders in 2017!


JUIG! Tydskrif (Januarie 2017)

Return to Home