Smaak En Sien: Die Here Is Goed

– by Ilse Kleyn

“Smaak en sien dat die Here goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!” Psalm 34:9

Psalm 34 het vandag vir my persoonlike betekenis gekry – ek het gesmaak en gesien die Here is Góéd. Baie Goed! Ek is nou al amper ’n jaar lank die eienaar van ’n profetiese kunsgalery en elke maand het ek geswoeg om die huur te betaal – totdat ek die punt bereik het waar ek nie verder kon voortgaan nie. Ek het kennis gegee en was baie verward. “Abba, het ek U dan verkeerd gehoor? Ek was dan so seker ek het reg gehoor. Is daar fout met my? Is daar sonde? Vloeke?” Soveel vrae.

My galerybestuurder, Molly, was ’n rots. As iemand vra hoekom ons toemaak, sê sy net ons gaan trek, nie toemaak nie. Ons wag op ons deurbraak. Wag en bid, wag en bid. Die deurbraak het gekom. Die eienaar van die gebou het my kom spreek en die uiteinde van die saak was die huur vir die perseel is gehalveer en hulle het ook aangebied om Molly se jaarlikse bonus te betaal. Ons het twee dae pal van dankbaarheid gehuil. In my wildste drome het ek dit nie verwag nie. En dít, liewe vriendin, is wat Abba hierdie nuwe jaar vir al Sy kinders wil doen.

Psalm 34:5, 9, 16, 18, 20 ”Ek het die Here gesoek en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered. Smaak en sien dat die Here goed is; welgeluksalig is die man wat by hom skuil. Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep. Hulle roep, en die Here hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudheid. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit die almal red die Here hom.”


JUIG! Tydskrif (Januarie 2017)