Seisoene Van Ons Lewens

– deur Rina Kinnear

“U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand.” – Psalm 74:17

Dit is U aan wie die dag en nag behoort, U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het, U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand.” – Psalm 74:16-17. Ons lees in Prediker dat daar ’n tyd vir alles is. Elke geestelike seisoen in ons lewens is ’n leerkurwe, ’n besondere geskenk van God. Ek wil jou graag bemoedig in hierdie winterseisoen wat besig is om ons toe te vou. Wanneer ons deur wintertye van vertwyfeling en hopeloosheid gaan, is dit juis wanneer ons van onsself gestroop word. Dan word die ware “self” ontbloot. Dit is dan wanneer ons met ons hele lewe net aan God kan vashou en op ’n dieper geestelike vlak kan beweeg. 

David Benner het gesê: “Nothing is more important; if we find our true self, we find God, and if we find God, we find our most authentic self.” Wintertyd is ’n tyd van nadink, besin en bemesting, ’n tyd om ons verlede en stukkende lewens te neem, kompos daarvan te maak en ons bome daarin te plant. Psalm 1 praat van die regverdige wat soos ’n boom by waterstrome geplant is. God is die tuinier wat ons deur die seisoene in ons lewens help om uiteindelik die mooiste vrugte te dra. Hoeveel mense kyk na ons lewens en wonder oor waar ons vreugde vandaan kom? Kom ons gebruik ons winterseisoen, reik uit en maak ’n verskil in iemand se lewe.


JUIG! Tydskrif (Augustus 2018)

Return to Home