Ons Abba

– deur Ilse Kleyn

“Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!” – Romeine 8:15

Ons gesin stop verlede week gou by ‘n winkel en die man wat die motors oppas kom aangehardloop en roep: ”Ek sal mooi kyk, Meneer!” My vierjarige het hom dadelik vererg en skree terug: “Hy is nie Meneer nie. Hy is Pappa!” Ons het lekker gelag, maar by nadenke besef ek hoe geweldig spesiaal hierdie uitlating is; juis omdat ons kleinding aangeneem is. Dit het my laat dink aan my verhouding met my Hemelse Pa – ek is ook deur Hom aangeneem. 

As my kleinding daardie spesiale woorde: “Mamma”, “Pappa” sê, smelt my hart. Ek weet hy het my aanvaar as sy ouer – die een wat vir hom sorg en liefhet – en daar is geen vrees in daardie beminde naam nie. Ek besef hoe geweldig baie die naam Abba beteken. Die feit dat ons die God van die heelal Abba kan noem – die vreugde wat in Sy hart opkom as ons Hom wel met vrymoedigheid Abba noem – dit is beslis nie ‘n kleinigheid nie. Daar is afhanklikheid in die woord, dankbaarheid, aanvaarding van kindskap; veiligheid, liefde en tuiswees.

“En omdat julle kinders is, het God die Gees van Sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!” Galasiërs 4:6


JUIG! Tydskrif (Augustus 2017)

Return to Home