Objektief Of Obsessief

– by 

“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is.” Matteus 18:15

Dit grief my wanneer mense onder die dekmantel van gebed ander se persoonlike sake met mekaar deel. Iemand wat baie dierbaar vir my was, het so ’n gewoonte gehad. Sy het mense beraad en dan die besonderhede met my gedeel. Ek wou haar nie seermaak deur haar tereg te wys nie, maar het besef sy deel heel moontlik ook ons vertroulike gesprekke met ander. Ek het haar eendag gevra om asseblief nie oor ander se vertroulike gesprekke met my te praat nie.  Sy was verontwaardig en het trouens ons vriendskap verbreek. Aanvanklik het ek hartseer gevoel en gewonder of ek ’n fout begaan het. Ek het egter uitgevind sy het inderdaad vertroulike sake waaroor ons saam gebid het, met ander gedeel. 

Jy moet jou broer of suster in privaatheid spreek, indien jy voel hulle het fouteer. Ons is te geneig om ’n ander se sonde of ongeregtigheid aan die lig te wil bring. Dit is beslis nie wat God van ons vra nie. Hy vra dat ons mekaar in liefde moet vermaan en indien die persoon nie luister nie, moet jy eers nog een of twee saam met jou neem as getuies: “Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word” (Matt 18:16). Jesus moedig ons aan om versoening te bewerkstelling en nie te oordeel nie. Teetafelgesprekke kan vinnig in obsessiewe geskinder eerder as objektiewe raad verander, soms onder die dekmantel van “kom ons bid vir hulle.” Wees waaksaam dat jy nie self in die slaggat trap nie.


JUIG! Tydskrif (October 2017)

Return to Home