’N Vrou Te Goed Om Waar Te Wees?

– deur Michelle van Tonder

““Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal!” – Spreuke 31:29

Ek is seker dat jy al die deugsame vrou van Spreuke 31 bevraagteken het. Ek het jare lank gedink dit is onmoontlik om in hierdie vrou se voetspore te volg. Oor die volgende twaalf maande gaan ons ’n paar van haar deugde saam ondersoek. Ek sal van my insigte uit my eie lewe met jou deel: van wanhoop, frustrasie en onvolwassenheid tot oorwinning – finansieel, emosioneel, geestelik en sosiaal (ek werk nog aan die fisieke deel). Ek het tot die oortuiging gekom dat die vrou in Spreuke 31 nie daaroor gaan om Supervrou te wees nie, maar eerder om bevry te word van perfeksionisme en die vertroue te ontdek om doelgerig te lewe. Toe my man en sy sakevennoot se paaie geskei het, het ons amper alles verloor. Ons moes van voor af begin, maar ek het nie geweet hoe nie. Baie mense wat ek oor die jare ontmoet het, weet ook nie hoe of waar om van voor af te begin nie. 

Daarom het ek Women’s Wealthcare begin, want ek het geleer dat die meeste mense in iets wil glo, êrens wil behoort en iets van hulleself wil maak. Talle vroue voel onseker oor hoe om “onderdanig” te wees en hul wederhelf te help terwyl hulle self ook iets wil verdien. Party van die vroue voel selfs skuldig. Die Spreuke 31-vrou was gewillig om te werk en geld te verdien. Sy het haar geld wys bestee en na haar gesin se behoeftes omgesien. Sy het ook haar tyd verstandig gebruik en haar daaglikse take getrou voltooi. Wees volgende maand op die uitkyk vir ’n paar van my suksesgeheime wat ek sal deel. Ek sal graag van julle uitdagings en suksesverhale wil hoor, want wanneer ons aan ’n gemeenskap van enersdenkendes behoort, leer ons om ander te bemoedig en te inspireer.


JUIG! Tydskrif (Junie 2018)

Return to Home